Die Norvalspontbrug is oorspronklik deur John Norval opgerig as 'n veerbootdiens. Die veerboot het reisigers byna twee maande se reistyd bespaar. In 1889 is die veerboot vervang deur 'n brug, wat in 1900 deur 'n Boerekommando opgeblaas is.

Norvalspont is in 1848 ongeveer 40km oos van Colesberg gestig toe die Skot John Norval 'npont oor die Oranjerivier gebou het vir trekkers en fortuinsoekers wat die noorde se pas ontdekte goud- en diamantvelde wou bereik.
In 1889 is die pont vervang met 'n indrukwekkende treinbrug (500m lank, met 11 betonpilare, gedeeltelik uit Engeland hierheen verskeep) en Colesberg só met Bloemfontein verbind. In die Anglo-Boereoorlog het Norvalspont 'n belangrike strategiese terrein geword.
Dis op 1 November 1899 deur die Boere beset en twee weke later het hulle ook Colesberg onbestrede oorgeneem. Maar H.J. Schoeman, die generaal in beheer van die Boeremagte, was lugtig om die twee dorpe verder suid - Noupoort en De Aar - binne te val en sy aarseling het die Britte genoeg tyd gegee om voorraad en versterkings met die treinspoor langs te bring en die Boere uiteindelik terug oor die rivier tot buite die Kaapkolonie te verdryf.
Schoeman-hulle het op 5 Maart 1900 teruggetrek, maar 'n laaste hou ingekry deur die drie middelste pilare van die treinbrug op te blaas. Maar skaars tien dae later het die Britte 'n tydelike pontonbrug gebou waarmee hulle twee infanteriebataljonne, 'n eskadron en nog 600 berede soldate oor die rivier tot in die Oranje-Vrystaat kon kry.
En aan die einde van daardie maand was 'n tydelike treinbrug weer operasioneel.
Norvalspont is ook bekend vir die gelyknamige konsentrasiekamp, 'n sogenaamde modelkamp wat in November 1900 onder die bestuur van lt. St.John Bowen opgerig is. Emily Hobhouse het die kamp in Februarie 1901 besoek en daarna geskryf dat Bowen se bestuur "ferm, regverdig en vriendelik was, met skynbaar oneindige hulpbronne tot sy beskikking".
Toe die oorlog op 31 Mei 1902 verby was, het onderhandelinge begin om die kamp te sluit. Die grond het steeds aan John Norval behoort, en die Norvalspont-konsentrasiekamp is op 2 Oktober 1902 gesluit.

Die oorspronklike treinbrug is ná die oorlog in 'npadbrug omskep en 'n nuwe treinbrug is reg langs-aan gebou. Gaan kyk gerus hoe dit lyk wanneer jy weer N1 langs ry - neem die R58-afrit by Colesberg en volg dan die pad Gariepdam se kant toe.
Bronne: "Norval's Pont" in die British Concentration Camps of the South African War 1900-1902-databasis (Universiteit van Kaapstad se biblioteek); Norvalspont During the Anglo-Boer War (1899-1902) deur Cobus Dreyer (sahra.org.za)
Ons soek jou kiekies!
Het jy ou swart-wit foto's wat die storie van toeka se toere, gesinsvakansies of avonture vertel? Stuur dit gerus na mailto:kyra.tarr@media24.comredakteur@weg.co.za.















