
Satellietskottels is deesdae net so algemeen in die kampterrein soos kinders op driewielfietse. Net omdat jy onder jou stoeptent ontspan, beteken dit nie jy wil nie op die hoogte bly van die nuus, jou span of Boer soek 'n vrou nie. Moet jy egter 'n boffin met 'n graad in elektroniese wetenskap wees om die besigheid self te laat werk? Nie noodwendig nie.
Begin by die begin
Jou basiese satellietskottel-kampstel bestaan uit 'n skottel, 'n ogie (die mense in die bedryf noem hom 'n LNB - dit staan vir low-noise block downconverter), 'n kabel van 20 m, 'n korter kabel, 'n insteltoestel met 'n oorfoontjie, 'n kompas en dan die skroewe en passtukke om hom staan te maak. Só 'n stel kos vanaf R800 en is by die meeste kampwinkels en by plekke soos Ellies beskikbaar.
Dis nie moeilik om die besigheid aanmekaar te skroef nie - as jy al 'n Penta se voltent opgeslaan het, gaan jy nie sukkel nie. Die belangrikste is hoe om die skottel só te kry dat hy met die satelliet in die ruimte kommunikeer.
"Die sateliet waarna jou skottel soek, is 36 000 km van die aarde af," sê Brendan Pontes van Ellies se kommersiële verkoopsafdeling. "Dis dus belangrik om te onthou dat 'n enkele sentimeter 'n groot verskil maak as jy die sein soek."
Kyk op die horlosie
Die skottel bestaan as 't ware uit drie dele: Die skottel self, die arm wat die ogie met 'n passtuk vashou, en dan die ogie. Hoe jy die ogie vasmaak, is baie belangrik, sê Brendan.
"As die ogie in die passtuk lê, sal jy sien daar is grade uitgemerk bo op die ronding. Jy moet jou verbeel jy kyk na die gesig van 'n horlosie, en daardie ogie draai tot die koppelpunt vir die kabel basies op vieruur staan. Die rede hoekom hy in dié spesifieke posisie is, is omdat hy daar in plek is om kanale wat horisontaal én vertikaal gestuur word op te vang. As jy die ogie op sy plek het, draai jy hom vas met sy klamp."
Hoe maak die ander mense?
Brendon sê 'n slim manier om vas te stel in watter rigting jou skottel moet wys, is om by jou buurman af te kyk.
"Kyk in watter rigting die ander skottels in die woonwapark of by nabygeleë huise wys en gebruik dit as 'n vertrekpunt. Kry jou soektoestel en gebruik die korter kabel om hom tussen jou skottel en dekodeerder te koppel. Sit die oorfoontjie in jou oor. Hy maak 'n biep-geluid in jou oor, en as jou skottel vir die satelliet kyk, sal jy hoor die biep spring 'n frekwensie of wat hoër."
Brendan sê hy gaan staan gewoonlik op die plek waar die skottel moet staan en hou dit dan voor sy bors en kyk in 'n oostelike rigting. Hy maak seker daar is nie bome of 'n ander obstruksie voor die ogie en die hemelruim nie, en begin dan stadig met sy bolyf heen en weer draai terwyl hy na die biepgeluid luister.
"As die frekwensie in my oor nie verander nie, knak ek my polsgewrigte effens na bo sodat die ogie effens lig - dan herhaal ek die proses tot ek hom kry. Ek sit hom dan neer en gaan kry die paal of driepoot waarop hy gemonteer moet word en dan sit ek hom losweg vas. Dan draai ek kom weer tot ek die sein kry en maak hom stewig vas. 'n Groot fout wat mense maak, is om die skottel eers te monteer en dan vir die sein te begin soek. Die proses moet andersom verloop.
"Daar is twee dinge wat jy in ag moet neem as jy jou skottel monteer: hoe regop of plat hy moet staan, en in watter rigting hy moet wys. In die noorde van die land moet hy platter lê as teen die kus en in die hele Suid-Afrika moet hy tussen oos en suidoos wys."
Groter is (soort van) beter
In terme van skottelgrootte sê Brendan groter is beter, maar dit beteken nie noodwendig die kleiner skottel kan nie die werk ordentlik doen nie.
" 'n Mens kan met hierdie kampskottels jou beeld net so goed soos by die huis kry, maar dit is wel so dat 'n groter skottel vir beter kwaliteit sorg omdat daar 'n groter sein na jou ogie weerkaats word. Die belangrikste is egter dat daar niks tussen die skottel en die hemelruim moet wees nie en dat jy jou skottel stewig moet vasmaak waar jy staan. As hy in die wind gaan rondbeweeg, gaan jy probleme kry. Die kleinste skuif in jou skottel se posisie kan die verskil wees tussen volsein en geen sein."
Hoe gemaak met HD?
'n Mens kan deesdae nie meer jou slimkaart uit jou dekodeerder haal en dit net bloot in 'n ander een druk en verder kyk nie. Elke DStv-dekodeerder is nou met sy slimkaart getroud, wat beteken jy moet die hele spul saam met jou vat as jy gaan kamp. As jy by die huis 'n tweede dekodeerder en televisie in die slaapkamer het (duel view), maak seker jy vat die primêre dekodeerder saam.
Die LNB-ogie wat jy saam met jou basiese stel kry, is 'n enkelogie. As jy 'n nuwe Explora-dekodeerder of enige van die HD-modelle het en jy soek al sy funksies as jy kamp, het jy 'n slimogie nodig. 'n Slimogie kos in die omgewing van R450 en is die beste manier om seker te maak jou dekodeerder werk. Jy hoef egter nie te stres dat jy nou met 'n klomp kabels opgeskeep gaan sit nie.
"Jy gebruik steeds net die een kabel wat jy in jou kampstel kry," sê Brendan.
"Daardie kabel prop jy by die A-koppelpunt op die slimogie in en dan in die LNB-koppelpunt agterop jou dekodeerder. Dan sal jou Explora net soos by die huis werk. Ek sal egter aanbeveel dat jy die skottel by die Universal 1-koppelpunt inprop as jy na die sein soek, en hom dan by die A-koppelpunt inprop as jy sein gekry het. Van die ouer dekodeerders soos die HD PVR 2P werk met die enkelogie, maar jy kan nie programme opneem nie. As jy wil opneem, het jy die slimogie nodig.
"Die fout wat mense gereeld maak is om die kabel in die verkeerde koppelpunte te prop, veral agterop die dekodeerder. Jy moet die LNB in-koppelpunt gebruik."
WegSleep sê: Toets eers by die huis of jy die besigheid ingestel kry en of al die kanale en jou dekodeerder se funksies werk, dan gaan jy nie in die kampplek sukkel nie. Hoe meer jy dit doen, hoe makliker word dit.











