Reis

O gaats, ’n slang in die kampterrein!

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: Johan Marais
Foto: Johan Marais

Op kampgroepe gons dit gereeld oor wat jou te doen staan as jy 'n slang op jou staanplek teëkom (of hoe jy moet maak om slange weg te hou).

Die raad kan volgens my in drie groepe verdeel word: Daar's die klomp wat verskeie slangweerders voorstel; 'n groep wat meen hulle moet voor die voet doodgemaak word; en dan die kampeerders wat glo slange speel 'n belangrike rol in die ekostelsel en moet met rus gelaat word.

Die ouens wat glo jy kan slange weghou - hulle is in die minderheid - beweer jy moet chloorkorrels, knoffel of motbolletjies om jou tent strooi; Jeyes Fluid of ou olie of diesel in houers uitsit; of lanings malvablomme tussen staanplekke aanplant.

Wetenskaplikes aan Wits het egter bevind daar is geen bewyse dat slange enigsins deur chemiese konkoksies of boererate weggehou of verjaag kan word nie. (Dit is omdat slange se reuksintuig anders werk as ons s'n.)

Slange in die kampterrein is agter kos aan, met paddas, knaagdiere, voëlkuikens en -eiers en ander slange wat die vernaamste teikens is.

Vermy dus staanplekke naby bourommel of houtstapels, en ook digbeboste kolle.

Die derde groep is genadiglik nog in die meerderheid. Hulle is van mening dat slange 'n baie belangrike rol speel in die beheer van knaagdiere, en ons as kampeerders moet besef dat ons eintlik slange se habitat betree. Daarom moet ons hulle met rus laat. Hulle stel voor ons probeer slange se gewoontes verstaan.

Vermy dus staanplekke naby bourommel of houtstapels, en ook digbeboste kolle.

Dan sal ons weet hoe om op te tree as ons 'n slang in ons kampomgewing raakloop (dan sal jy ook weet watter slange regtig gevaarlik is).

Adder- en kobrasoorte is verantwoordelik vir tot 90% van slangbyte, terwyl veral amateurvoëlkykers die grootste gevaar loop om op 'n pofadder te trap. Snags het jy 'n groter kans om op pad ablusieblok toe 'n nagadder teë te kom. Ek neem altyd 'n kierie saam as ek in die veld stap en tik voortdurend op die grond.

Slange voel mos dié vibrasies en sal hopelik vinnig padgee. En dan gebruik ek 'n koplig om snags die pad na die ablusiegeriewe te verlig.

Dan is daar die mense wat glo 'n mens moet eerder daardie kierie gebruik om 'n slang se kop te verbrysel. Volgens hulle is 'n dooie slang die veiligste slang.

Ek meen dit is domastrant om met enige slang skoor te soek. Ja, as hy bedreig of ingeperk voel, sal hy beslis aggressief wees. Gaan kyk maar net hoe ver - en akkuraat - 'n spoegkobra kan spoeg.

Dit hoef nie 'n geval te wees van óf die slang óf jy nie. 'n Paar jaar gelede het kampeerders op Scottburgh gesien hoe 'n beroepslangvanger 'n boomslang verwyder.

Die slang het hom tuisgemaak in 'n Natalse rubberboom by staanplek nr. 63. Die rooivlerkspreeus het die slang eerste gewaar en hulle gekwetter het die aandag getrek van die skoonmakers by die ablusieblok.

Een van hulle het die kampeerders op nr. 63 stilletjies oor die besoeker, enkele meter bo hulle sytent, ingelig. Die gesin het vinnig laat spaander en die kampbestuurder het 'n vriend gebel wat slange vang.

Die slangvanger het 'n leer teen die boom staangemaak en die slang sonder enige drama verwyder - die slang het nie een keer aggressief geraak of probeer wegseil nie.

Daarna het hy vir die omstanders verduidelik dat hy 'n ervare slanghanteerder is wat amper weekliks slange verwyder wat te naby aan mense kom in die KwaZulu-Natalse kus. Met mense soos dié is daar dus geen rede tot paniek nie.

Gaan klop gerus ook aan by die African Snakebite Institute aan om meer te leer oor slange en hulle gewoontes.

Hierdie artikel het oorspronklik in Januarie 2020 verskyn. Feite en geite kon intussen verander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM