Van waar die liefde vir die buitelewe?
Ek het in Londen grootgeword - dalk nie die beste plek om die natuur te leer ken nie, maar ek het by die Teemsrivier gebly en al my vrye tyd op die oewer en in die plaaslike parke deurgebring.
Vandat ek kan onthou, was ek obsessief oor alles wat met die natuur te doen het. Ek was eers 'n dinosourus-freak, toe 'n voëlkyker, toe 'n fynbos-fanatikus en nou voel ek hoe die sterk stroom van mariene biologie my na die Kaap se ongelooflike strande lok - dit hou net nooit op nie.
My kindertydliefde vir diere en plante het nooit gekwyn nie - dinosourusse vir ewig!
Hoe het jy in Suid-Afrika beland?
Toe ek tien jaar oud was, was ons op 'n safari-vakansie in KwaZulu-Natal en Afrika se natuurlewe het my stomgeslaan - wildebeeste en sebras wat sommer deur die kamp loop. As 'n kind van Londen in die jare sewentig, was 'n mens opgewonde as jy net 'n krimpvarkie te siene gekry het!
Ek het belowe ek gaan terugkeer na Afrika en as wildbewaarder kom werk, wat ek toe in 1991 gedoen het. Ek het vir my 'n werk by 'n safarimaatskappy losgepraat en kampsafari's in Botswana en Zimbabwe aangebied. Wie sê drome word nie waar nie? Ek het bietjie meer as 20 jaar gelede Kaapstad toe getrek, en 'n nuwe passie vir die berge en fynbos het ontstaan.
Toe ek tien jaar oud was, was ons op 'n safari-vakansie in KwaZulu-Natal en Afrika se natuurlewe het my stomgeslaan - wildebeeste en sebras wat sommer deur die kamp loop.
Hoekom noem jy jouself The Fynbos Guy?
Ek het halsoorkop verlief geraak op fynbos en die naam het homself gekies. Uit 'n sakeoogpunt sou dit dalk beter gewees het as ek myself "The Table Mountain Hike Guy" genoem het - almal sou my só op Google kon kry! Maar ek wou my liefde vir (en kennis van) fynbos met 'n groter gehoor deel.
Wat is jou gunsteling-fynbosspesie?
"Diamond eyes" (Staavia dodii). Dis 'n mooi bossie, al is dit nie so pronkerig soos die meer bekende proteas, orgideë, ensovoorts nie.
Die spesie groei net op een sandsteenrant aan die weskus van die Kaap van Goeie Hoop-reservaat, bo Olifantsbosstrand: vir sowat 500 m, en net sowat 10 m diep. In 2015 het 'n groot brand omtrent al die plante verbrand. Die plante het sekerlik saad geskiet, maar met klimaatsverandering en die droogte... dit kan slegte nuus wees vir dié spesie.
Het jy 'n gunsteling-roete op Tafelberg?
Die Myburgh's Waterfall-ravynroete: Dis wild, afgeleë, uitdagend, belaglik mooi en divers wat plantegroei betref. Stap op deur digte woud, tot in mooi fynbos en 'n hoë vleiland en weer af deur 'n ravyn vol vetplante tot by 'n klein lappie renosterveld.
'n Mens kan die hele skiereiland van Judaspiek af sien en in die middel van die somer sien jy van die beste rooidisas op die berg - maar moet vir niemand sê nie!
Wat is die beste deel van jou werk?
Byna alles. Die kliënte is interessant, vriendelik en lief vir die buitelewe en stap; jy bring die dag buite deur en kyk na blomme, skoenlappers en wolke; jy het van begin tot einde mooi uitsigte; en, die kersie op die koek, gratis oefensessies.
En die slegste?
Om heeltemal aan die weer se genade oorgelaat te wees.
Wind is die groot probleem: Die ergste moontlike alledaagse scenario is om bo-op Tafelberg aan te kom met 'n paar mense wat vir die eerste keer gestap het, doodmoeg is en uitsien na 'n sweefspoorrit na onder... net om te hoor die sweefspoor staan en ons moet afstap.
Watter vyf goed het jy áltyd in jou rugsak?
My staatmaker-Opinel-mes (wat goed geslyp word op Tafelberg-sandsteen); sonbrandroom (ja, ek is 'n Engelsman - dié son looi ons!); 'n warm baadjie (jou ma was reg, jy het dit altyd nodig); "micropore" - dié chirurgiese kleefband is die geheime wapen teen blase; en SuperC's (ek dink dis onwettig om in Suid-Afrika te stap sonder 'n pakkie grenadella-SuperC's!).
Wat is jou raad vir mense wat nog nooit berggeklim het nie, maar graag wil begin?
Alles begin by jou voete. Koop die paar stewels wat die lekkerste en gemaklikste voel as jy dit aanpas - moenie jou steur aan handelsname en sulke dinge nie. En die ou reël geld steeds: Moenie in nuwe stewels stap nie; loop dit eers in.
Dra 'n rolletjie "micropore". As jy 'n warm kolletjie iewers op jou voet voel, plak dadelik daarvan en jy sal nie 'n blaas kry nie.
Onthou jou hoed - ja, dit lyk dalk nie so cool nie, maar sonsteek is niks lekker nie.
As my skip inkom… groet ek al my skuld en help dié familie en vriende wat dit nodig het. Uiteindelik wil ek 'n fynbosreservaat op die Kaapse Vlakte begin - 'n stuk verwaarloosde grond vol lelike gras en indringer-onkruid koop en dit in 'n fynbosparadys omskep. Dis so maklik om te doen; 'n mens het net die geld nodig!
My droombestemming is... Costa Rica. Ek wil gaan kyk hoe divers die natuurskoon regtig is in vergelyking met ons s'n. Hulle toerismeraad praat die heeltyd daaroor - diverse dit en diverse dat, reënwoud hier en nog een daar... The Fynbos Guy wil graag self gaan kyk!
*Meer by thefynbosguy.com
Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #160 (Februarie 2018) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.





















