Reis

Ons gesels met: Rodgers Hobyane

Rodgers Hobyane is al 'n instelling by die Krugerwildtuin se Tsendze-boskamp. As kampopsigter is sy doel om seker te maak alle besoekers is gaande oor hulle verblyf by Tsendze. Ons het met die "uilman" gesels oor sy lewe in die kamp en sy groeiende getal Facebook-fans.

Mense sê Tsendze sal nie dieselfde wees sonder jou nie. Hoe lank werk jy al by dié kamp?

Ek het in November verlede jaar 10 jaar by Tsendze gevier. Ek het in 1998 by die Krugerwildtuin begin werk. Ek was 'n algemene werker by die Shimuwini-bosveldkamp. In 2006 het ek vir 'n kort rukkie geskuif na die Sirheni-boskamp voor ek my hier gevestig het.

Wat maak Tsendze so besonders?

Dis baie stil hier - soos by die ander boskampe. Ons het nie 'n swembad nie. Mense verstaan hoekom hulle hier is - om die bos te beleef - en hulle is bedagsaam teenoor hulle bure.

Hoe lyk 'n tipiese werkdag?

Elke oggend doen ek die nodige instandhouding- en skoonmaakwerk saam met my kollega, Elina Mona. Ons hou daarvan om die braaiplekke en badkamers silwerskoon te los sodat mense dit geniet om hier te bly. As ek klaar is met my pligte, hou ek daarvan om 'n entjie in die bos te gaan stap. Ek vat dan my kamera saam. Allan Stark, wat al baie by die kamp oorgebly het, het vir my 'n kamera en skootrekenaar gegee en ek geniet dit om foto's van die natuurlewe te neem. (Die dierfoto's by dié artikel is Rodgers s'n.) Saans as die hekke toe is, gaan maak ons 'n draai by almal in die kamp om seker te maak alles is in orde.

Jy het 'n goeie reputasie vir jou uitstekende kliëntediens - hoekom dink jy is dit so?

Toe ek klaar is met skool, het ek my oupa gehelp by sy besigheid - hy het 'n winkel in ons dorp, Malamulele, gehad. Dis waar ek geleer het hoe om vir die klant te sorg. Hy het my geleer elke klant/kliënt is belangrik, want hulle bring geld na jou besigheid toe. Jy moet hulle dus met respek behandel.

Hoekom noem mense jou die "uilman"?

Foto: Rodgers Hobyane
Foto: Rodgers Hobyane

Ek het nogal goed geword daarmee om skopskuile rondom die kamp raak te sien en ek wys hulle aan mense uit! Ek is mal oor voëls - veral die mooi spookvoëls en die reuse-ooruil. Dié uil het 'n pienk ooglid en dit lyk byna asof die voël grimering dra!

Wat's die beste deel van jou werk?

Om die besoekers gelukkig te hou. Dit maak my hart bly as ek sien mense kom weer terug na Tsendze, omdat hulle dit so geniet het toe hulle die eerste keer hier was.

En die slegste deel?

Niks nie… Ek's mal oor die plek! Dit sou lekker gewees het as ek nader aan my gesin kon bly - hulle bly in Malamulele buite die Punda Maria-hek en ek sien hulle net op afdae of party aande as ek daar oorslaap.

Jy het al meer as 1 000 Facebook-vriende - wanneer het jy by dié sosiale netwerk aangesluit?

In 2012, meestal om in verbinding te bly met die kliënte. Ek leer ken hulle wanneer hulle hier bly, want ek hou daarvan om hulle saans te groet en seker te maak almal is gelukkig. Party mense gebruik nou my profiel om te vra watter kampplek hulle moet probeer bespreek. Ek hou daarvan om hulle te help as ek kan. Dis ook 'n goeie plek om van my foto's met mense te deel.

As my skip inkom...

Ek sou steeds dieselfde werk wou doen... Ek sal dalk 'n nuwe motor koop, maar ek sal steeds op dieselfde plek stilhou! Ek sal graag vir my gesin 'n nuwe huis wou gee, maar ek sal probeer om nie vir mense te wys ek het geld nie - ek dink nie dit sal my verander nie.

My droombestemming is...

Die Golden Gate- nasionale park. Ek was al een keer daar toe ek 'n Sanparke-toekenning vir uitnemendheid in die werkplek gewen het, maar dit was net vir een nag. Ek sal graag wil teruggaan om dié mooi park ordentlik te ervaar.

Suzaan Hauman

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM