By die Villa Spa-kampterrein by Amanzimtoti kom jy as 'n vreemdeling aan, maar jy vertrek as 'n vriend, sê Buks en Lea Erasmus van Pretoria.
Ons is pensioentrekkers wat al vir die afgelope 15 jaar by Villa Spa kamp. Dit word jaar ná jaar beter en beter. Trouens, ons het reeds ons plekkie vir volgende jaar bespreek. Jy gaan ver soek om beter waarde vir geld te kry.
Hoe lyk die kampterrein?
Hier is 42 staanplekke in die kampterrein, almal met gras en die meeste met koelte. Oral is bome wat die wind demp, en jy kamp ook tussen chalets en houthuisies in die park. Die plek is ongelooflik netjies en hier is mense wat jou help om jou woonwa se tent binne minute staan te maak.
Wat maak die plek so besonders?
Almal gaan uit hulle pad om jou welkom te laat voel. Jy huur 'n staanbraaier wat by jou staanplek afgelewer word en jy word mooi verduidelik hoe alles werk - van die sekerheidshek by die strand wat met 'n elektroniese skyfie werk tot die televisie- en speletjieskamer.
Jou braaier en vullisdrom word elke oggend skoongemaak, die plaveisel word gevee en die palmtakke wat afgewaai het, verwyder. Dit lyk selfs of die blouapies hier meer gedissiplineerd is as op ander plekke. Die lekker ding vir ons is die mededingende prysstruktuur, en dis altyd vir ons verbasend om te sien wat ons kry vir die prys. Vir ons is dit 'n wenner.
Wat doen julle om julle besig te hou wanneer julle hier kamp?
Hier is 'n heerlike swembad met braaigeriewe en jy kan rondstap en die wêreld verken. As jy van hengel hou, kan jy op die strand voor die oord gaan probeer om elwe en streenbras aan jou hoek te kry. Dit hang natuurlik van die seisoen af. Met 'n bietjie geluk kan jy selfs groter vis soos leervis, snapper, salm en gryshaaie uittrek.
Hoe lyk die ablusiegeriewe?
Vir ons voel dit soos vyfstergeriewe. Dit is silwerskoon met marmerblaaie. Die storthokkies is privaat en ruim met hope pak- en hangplek. Jy staan ook nie lank en wag dat die water warm word nie. En buite die ablusieblok is 'n plek om jou kassettoilet leeg te maak.
Is daar êrens ruimte vir verbetering?
Dit sal lekker wees as daar 'n plek is om jou vis skoon te maak. En vanweë versekeringsvoorwaardes mag jy hier net met brikette of houtskool braai - dit is swaar vir 'n Gautenger wat van 'n houtvuur hou...
Hoe ry 'n mens tot hier?
Ry met die N2 suid verby Amanzimtoti en vat die Kingsway-Umbumbulu-afrit na die R602. Draai links by die stopteken en volg die pad tot by 'n T-aansluiting waar jy regs draai. Draai weer regs by die volgende stel verkeersligte en volg die pad vir 3,5 km. Draai skerp regs in Elizabethlaan in. Die ingang is 400 m verder aan jou regterkant.
Kontak: * 031 916 4939; * villaspa.co.za














