Groot blink masjiene tol deur die lug. Elke nou en dan weerklink 'n gillekoor deur die naglug. Veselglasperdjies wieg ritmies op 'n mallemeule. Vreemdelinge bots gelate teen mekaar in stampkarretjies. En in die agtergrond hoor jy daai roomyskombi-klankbaan wat vir kinders onweerstaanbaar is en vir almal anders diep neuroties klink.

Ek staan in dié kleurvolle warboel by die pretpark by die Grootfontein Skou in Namibië. Hier is ook hoëoktaan-masjiene soos die flikkerende Hyper X Extreme wat lyk asof hy jou in 'n ander bloedgroep in gaan spin.
Maar die mees indrukwekkende een is die Inverter - 'n monstermasjien wat sy 24 gillende insittendes op 'n duiselingwekkende 360°-draai deur die lug swaai.
"Die kinders het die Inverter al gery dat hulle neuse bloei," vertel Deon van Blerk, die skoukomitee se vise-president. En 'n tiener, Dian Jansen, verklaar by die skoukantoor: "Ek gaan nie weer nie, ek het soos tien keer vir die Here gebid."
Maar wie is die mense wat pa staan vir al dié pret, en so nomadies leef van skou na skou? 'n Lang, maer man met wit krulhare en 'n snor staan 'n ent weg langs 'n trok en straal gesag uit bloot deur sy manier van rook.
Keith Williams van Port Elizabeth is al 20 jaar in die bedryf. Hy was eers 'n meesterbouer wat ná "arbeidsprobleme" 'n kosstalletjie begin het. "Dit was maar gebraaide hoender, sosaties en hot dogs. Toe bou ek 'n klein opvoudingetjie met olifantjies, gansies en eendjies wat in die rondte draai. Dan sleep ek hom Jeffreysbaai toe en smeek vir plek voor winkels. Ek het ook 'n soort springkasteel met ligte en musiek gekoop. Só het ek maar bymekaar gemaak en gesukkel by skoue en kerkfunksies."
"Nood leer bid, jy weet. Ek het baie swaar gekry, ek moet eintlik 'n boek skryf. Jy kom op 'n site en daar's niks geld nie, jy't jou laaste kontant opgeleen aan die werkers. En as die eerste ou betaal met 'n R50-noot stuur jy iemand om 'n boksie vuurhoutjies te koop vir kleingeld. En met daai eerste R20 koop jy diesel vir die generator."
Hy steek nog 'n sigaret op. "Dis'n taai lewe. Maar swaarkry maak van niemand 'n slegte mens nie. Ek het my deeltjie gedoen, die kinders het nou 'n goeie besigheid."
Die afgelope twee dekades het hy sy pretparkmasjiene opgradeer. Deesdae reis hy na lande soos China en die V.S.A. om iets soos die Inverter - wat 'n stewige R3 miljoen kos - aan te skaf. ("Daar is nie in Afrika nog een van daai masjiene nie. Hy word nie gestoor nie, hy werk oral.")
Deesdae doen hy en sy twee seuns, Waldo (35) en Cisko (34), sake as Just Fun Amusements, Amusements for Africa en Amusements Galore.
Waldo is getroud en het twee kinders. Hulle woon op 'n plot buite Randfontein naby 'n skool - maar as die geleentheid hom voordoen, reis hulle saam en help selfs in die kaartjiekantoor.
Cisko staan nader. "Ek hou daarvan om mense te ontmoet. 'n Werk is 'n werk en vir 'n jong Suid-Afrikaanse man is dit moeilik om een te hê. Elke dag is 'n nuwe avontuur. Hulle sê ‘show life is no life, but there's no life like show life'.
Keith kom al 20 jaar Namibië toe, het vir 'n dekade met die swaar masjiene gekruie tot by die stad Lubango in Angola en het sy pretparke ook al in Botswana en Swaziland opgeslaan.
Sy pretpark is 'n jaarlikse instelling by die Randse Paasskou, Koningstrand in Port Elizabeth in Desember en by verskeie ander skoue en feeste regoor Suid-Afrika - Kirkwood, Thabazimbi, Mookghopong...
"Hierdie werk is ons trots, dis al wat my kinders ken," sê hy. "Toe my oudste seun matriek voltooi het en ek hom vra wat hy wil doen was sy antwoord ‘Ek kom show toe'." Cisko was toe pas klaar met standerd agt en gereed om skool te los en saam met hulle in die pad te val.
Die konvooi bestaan meestal uit 'n bakkie heel voor, gevolg deur ses of sewe trokke - 'n hipermoderne masjien soos die Inverter word op 'n eie sleepwa gebou en "vou op" danksy hidroliese tegnologie.
"Ek bou baie van die kleiner goed self. Ek kry die glasveselperdjies by 'n fabriek in China en doen die aluminiumwerk self. Van die masjiene kan in 15 minute toevou, as jy by 'n nuwe plek stop kan jy binne 'n kwartier begin speel."
Keith en sy span woon in mobiele huise. Hy het een van die Kaapse Provinsiale Administrasie se ou biblioteekbusse omskep in so 'n eenheid. "Ek het al die boekrakke uitgebreek. As Waldo se vrou, Hanlie, wil saamreis soek sy gerief. Ons het 'n geyser, DStv, air-con, 'n wasmasjien, tuimeldroër, warm water en 'n spoeltoilet. Ons leef soos normale mense, hoewel baie mense dink ons is 'n spesie op ons eie."
Veiligheid bly vir Keith allerbelangrik. "Die standaarde is baie hoog. En die masjiene het soveel safety-meganismes, as een dingetjie fout is sal die masjien nie begin nie. Jy kan nie sit en bekommerd wees oor 'n rit nie, dan moet jy hom nie hê nie. As jy jou masjiene by bekende vervaardigers koop, het jy nie probleme nie, dit word gebou in fabrieke met kantoorblokke vol ingenieurs."
Hy is gaande oor die Inverter. "Ek het in hom gaan sit in Amerika en toe hy wegtrek sê ek ‘dis my masjien'. Ek het op geen stadium vrees gehad nie. Jy wil nie daarin sit en sê ‘O Heiland, wat nou?' nie. Maar 'n ander masjien, die Turbo Force, is 'n bietjie scary. Toe ek hom toets, het ek vir die werkers gesê as hulle hom volspoed ry, jaag ek hulle weg."
Keith het ook 'n klein pretpark op 'n plot in Port Elizabeth, Open Sky, met 'n venue, Lapaside, waar sangers soos Ray Dylan en Steve Hofmeyr optree. Sy vrou, Joke, is meestal aan die stuur van sake daar. "Dis vir my lekker om Kings Beach in Desember te doen, dan is al die kinders en kleinkinders ook by die huis en kan ons lekker braai," sê hy.
Maar vir eers roep die langpad. Hiervandaan is dit Windhoek Skou toe, dan na Swakopmund, Walvisbaai en weer terug na Suid-Afrika.
Wat maak 'n pretpark steeds gewild, in hierdie dae van selfone en soveel ander vermaak? "Mense wil lag en hulself geniet," sê Keith.
"Wanneer dit sleg gaan met die ekonomie, gaan dit beter met ons. Mense het nie geld vir karre en huise nie, maar hulle het altyd 'n bietjie kleingeld. En solank die kinders happy is, is almal mos happy. Dis tog 'n familiestorie."
Hierdie artikel het oorspronklik in Junie 2016 verskyn. Feite en geite kon intussen verander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.












