Reis

Parke toe!

(Gerda Engelbrecht)

1. Tafelberg- nasionale park (Kaappunt)

Kapenaars is so bederf met verskeie mooi plekke op hulle voorstoep dat hulle vergeet van die reuse-skat in hulle agterplaas: Kaappunt. Hier is uitsigte, wel, vir Afrika, oor Valsbaai én die Atlantiese Oseaan.

Cape Point Hike. August 2014. Picture: Sam Reinders. M24.

Gaan stap die twee dae lange Kaap die Goeie Hoop-roete in dié deel van die Tafelberg- nasionale park.

Die meeste toeriste drom saam by die punt, maar jy hoef nie met die toerbusse te meng nie - hier's oorgenoeg stil kolle tussen die fynbos. Plas in die getypoel by Buffelsbaai, vang 'n brander by Platboom of drink 'n glas wyn op die dek van die Two Oceans-restaurant. Jy kan van hier af ook die Flying Dutchman-kabelkarretjie tot bo by die vuurtoring op die punt neem. Leun in teen die wind en verbeel jou jy gewaar vir Vasco da Gama wat in sy karveel om die rotsagtige skiereiland gesukkel kom.

Kontak: 021 780 9200; https://www.sanparks.org/parks/table_mountain/www.sanparks.org/parks/table_mountain/

Koste R80 p.p. en R40 per kind. (Kaap die Goeie Hoop)

2. Krugerwildtuin

Die wildtuin is die soort plek waar 'n wonderlike ervaring gewaarborg is, selfs op 'n "stil" dag, waar jy net die gewone goed gesien het: olifante, sebras en die alomteenwoordige rooibok...

Maar as jy regtig gaan sit en dink dan onthou jy: neushorings wat swiep van tak tot tak, 'n troupant wat 'n gogga vermorsel, 'n bruinarend wat die landskap bespied vanuit 'n hardekoolboom, rooibekkweleas wat skielik opswerm vanuit 'n bos, 'n yslike gouewawielwebspinnekop se web wat blink in die son, kameelperde wat langbeen oor die pad stap, 'n leerskare witooievaars wat aanstryk deur die gras, 'n langbeenkorhaan se "tjikk...pop".

Dán besef 'n mens opnuut op enige gegewe dag wemel die wildtuin van die diere en of jy hulle sien is 'n bysaak. Daai wete is genoeg. Toe man, gaan kry dié week jou Kruger-inspuiting!

Kontak: 013 735 4196 (Skukuza); https://www.sanparks.org/parks/kruger/www.sanparks.org/parks/kruger

Koste: Die dagtarief is R100 p.p. en R50 per kind

3. Kogelberg-natuurreservaat

Dié reservaat is sowat 60 km van Somerset-Wes af en hier is jy omsingel deur berge, met 'n bietjie verbeelding kan jy sommer dink jy's diep in die Skotse Hooglande!

Hier's verskeie staproetes in die reservaat, van taaies soos die Perdebergroete (22 km) tot makkes soos die Palmietrivierroete (10 km). Jy hoef natuurlik nie die volle 10 km te stap nie, stap tot waar jy lus het - hier's verskeie plekke waar jy kan afdraai na 'n klipplaat of beskutte baaitjie en langs die rivier kan uitspan.

Rondom jou tjat-tjat-tjat rooibandsuikerbekkies onophoudelik en 'n visvanger of twee duik oor die water terwyl reuse-naaldekokers (geles, rooies, bloues!) swewe van klip tot klip. Ná 'n sprong in die yskoue bergwater sien jy kans vir... nóg 'n sprong!

Kontak:https://www.capenature.co.za/reserves/kogelberg-nature-reserve/www.capenature.co.za/reserves/kogelberg-nature-reserve

Koste: R50 p.p. en R30 per kind.

4. Addo-olifant- nasionale park

Addo is natuurlik veel meer as net 'n "olifantpark" - dis die derde grootste nasionale park in die land (naas die Kruger en Kgalagadi). Dis juis sy vyf uiteenlopende streke - alles van ongerepte duineveld langs die kus by Woody Cape tot die geskiedenisryke bergwêreld van die Suurberg - wat die park so uniek maak. Maar dis sy honderde olifante, verkleur tot 'n diep rooibruin deur die klei in die omgewing, wat die meeste mense lok.

Pak 'n piekniekmandjie en mik vir die Colchesterdeel om die hoofkamp, parkeer vir 'n paar ure by die Hapoor-watergat en kyk hoe yslike troppe olifante bondelsport hou.

Kontak: 042 233 8600; https://www.sanparks.org/parks/addo/www.sanparks.org/parks/addo

Koste: R82 p.p. en R41 per kind.

5. Jonkershoek-natuurreservaat

Met die wynplase in die omgewing wat al die glorie kry, vergeet Kapenaars soms van die enorme reservaat aan die voet van die Jonkershoekberg. Hierdie Wêrelderfenisgebied is een van die beste plekke om ons land se talle fynbosspesies te verken.

Hier's talle stap- en traproetes, van die taai Panoramaroete (17 km) tot 'n uur se drentel tot by die Eerste Waterval (en dit is vanselfsprekend hoe jy kan afkoel ná jou moeite!). As jy nog verder wil verken, stap aan tot by die voet van die Tweede Waterval. Die roete tot héél bo is egter toe.

Kontak: https://www.capenature.co.za/reserves/jonkershoek-nature-reserve/www.capenature.co.za/reserves/jonkershoek-nature-reserve

Koste: R50 p.p. en R30 per kind.

6. Mokala- nasionale park

Mokala is amper presies in die middel van die land. Hier kom raak jy rustig en soek skaarser wild soos swartwitpense, bastergemsbokke en bakoorjakkalse.

Jy kan in die Stofdam-voëlskuiling slaap en dan kom kuier al die besoekers by die water net vir jou. Jy kan in 'n boomhuis tussen die mikke van 'n kameeldoringboom oorbly.

As jy by Motswedi-kamp tent opslaan, het jy 'n uitsig oor 'n watergat, kameeldoringkoelte waaronder jy kan ontspan en jou eie badkamer en kombuisie.

Teen sononder kan jy êrens, alleen, sit en kyk hoe 'n bloedrooi son uitbrand terwyl korhane, grondgeitjies en jakkalse stories uitruil. En saans tel jy verskietende sterre, en wens wense.

Kontak:https://www.sanparks.org/parks/mokala/www.sanparks.org/parks/mokala

Koste: R48 p.p. en R24 per kind.

7. Tuinroete- nasionale park (Tsitsikamma-deel)

As jy net een dag het, pak jou piekniekgoed en swembroek in en gaan stap die Watervalroete (6 km, 3 uur). Dis die eerste deel van die Otterstaproete en die naaste wat 'n mens aan dié legendariese roete kan kom sonder 'n swaar rugsak op jou rug. Daar's 'n lekker poel by die waterval (en jou draaipunt) - net reg vir 'n toebroodjie en koppie koffie.

As jou stapskoene by die huis lê, stap (plakkies en al) op die Mond-roete (2 km, 1 uur), al op die plankiespad langs deur inheemse woud tot by die bekende hangbrug.

As jou senuwees dit hou: Kyk af na waar die bruin rivierwater en die blou branders mekaar onder jou voete groet. Vir dié met baie energie: Hou aan met die paadjie anderkant die brug en klim tot bo by die uitkykpunt. Jou asem gaan jaag, maar die uitsig is die moeite werd - jy sien die see, die kamp doer onder en binneland se kant toe tot by Piek Formosa.

Kontak: https://www.sanparks.org/parks/garden_route/camps/storms_river/www.sanparks.org/parks/garden_route

Koste: R62 p.p. en R31 per kind. (Tsitsikamma-deel)

Let wel

Weens die impak van die Covid 19-pandemie sou van die inligting in dié artikel verander. Meeste nasionale parke en sommige Wes Kaapse-nattuurreservate is egter nou oop volgens Vlak 3-regulasies.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM