Spasieerders, of spacers, kan jou ryding se grondvryhoogte verbeter, maar maak seker jy installeer die regtes vir jou voertuig, sê Mic van Zyl.
Spasieerders word gebruik om die ryhoogte van hedendaagse 4x4's met onafhanklike kronkelveerskokbrekers (coil over strut) te lig. Dié manier van veringverhoging word gewild omdat dit 'n goedkoper manier is om grondvryhoogte te verbeter as om nuwe, langer skokbrekers in te sit.
Ongelukkig het ek al baie gesien dat voertuie wat met sulke spasieerders toegerus is, probleme met die voorste vering en dryfaste optel.
Die bokant van die skokbreker word met 'n arm aan die onderstel geheg, en die onderkant word aan die onderste beheerstang geheg, meestal met 'n laer veringstutbus.
Elkeen van die voorwiele het 'n boonste en onderste beheerstang wat die voorste wiel-en-as-montering aan die onderstel heg.
Wanneer die vering boontoe beweeg, word die opwaartse beweging van die onderste beheerstang deur 'n deurslagkussing (bump stop) beperk. Wanneer die vering afwaarts beweeg, word die hoeveelheid beweging bepaal deur die kombinasie van skokbreker en kronkelveer.
Hier kom die moeilikheid
'n Boonste veringspasieerder wat agterna geïnstalleer word, het min of meer dieselfde vorm as die boonste monteringstut, maar is dikker. Die spasieerder word bo-op die stut geïnstalleer, tussen die boonste monteringstut en die onderstel. Dit maak gevolglik die hele veerstutkombinasie langer - en verbeter só die grondvryhoogte.
Die ekstra spasieerder versleg egter jou kronkelveer se vermoë om saam te pers. As jy hierdie spasieerders insit, maak seker dat die kronkelveer steeds gapings tussen die kronkels het as dit saamgepers is met die onderste stutarm styf teen die deurslagkussing.
Die kronkelveer moet nooit soveel saamgepers kan word dat jy nie die openinge in die spiraal tussen die kronkels kan sien nie. Ek het onder baie voertuie ingeloer waar die kronkelveer heeltemal saamgepers was voordat die deurslagkussing die stutarm en die wiel se opwaartse beweging stop. Dit beteken jy gaan 'n aaklige metaal-op-metaal-klank hoor wanneer dit daar tot stilstand kom, wat ongerieflik is en die stutarm en onderstelhegstuk kan breek.
As die boonste spasieerder dikker is, sal die veringmontering ook 'n langer veringuitsakking hê. Met die ekstra beweging sal jou wiel se boonste koeëlgewrig verder na onder kan draai as wat dit veronderstel is om te doen.
Dit kan uiteindelik probleme met die koeëlgewrig of veringstelsel veroorsaak. Nog 'n probleem is dat die sy-as noodgedwonge teen 'n skerper hoek werk as waarvoor dit ontwerp is. Omdat die wiele nou ook laer sak, kan die binneste konstante-snelheid-koppeling (CV joint) ontkoppel en meegee.
Probleme soos hierdie sal waarskynlik net opduik wanneer die voorste vering ten volle geartikuleer is, en nie met alledaagse gebruik nie. Maar wees maar versigtig.











