As daar nou een Afrikaanse boek was wat al jare lank smeek om heruitgegee te word, is dit Danie Smuts se Boererate. Dié hardebandboek van by die 230 bladsye met 'n paar duisend boererate gelys van A- Z is die eerste keer in 1989 deur Saayman en Weber uitgegee.
Die boek is onlangs heruitgegee, grotendeels in reaksie op 'n magdom versoeke op die internet van mense wat na 'n tweedehandse uitgawe van hierdie tydlose treffer op soek was.
Die boek se ontstaansgeskiedenis is interessant: Die legendariese akteur en omroeper Danie Smuts (hy is in 2003 oorlede) het in die vroeë jare sewentig 'n oggendprogram op die destydse Springbokradio aangebied. Hy het gesoek na 'n "truuk" om luisteraars te lok en 'n uitnodiging aan mense gerig om boererate vir hom te stuur.
Aanvanklik was die reaksie traag, maar kort voor lank het die bydraes - meestal handgeskrewe briefies van oral oor die land - begin instroom. En byna twee dekades later was daar steeds geen keer nie.
"Die volksgeneeskunde is so oud as die mensheid self. Dit het ontstaan uit die ingebore strewe by die mens na selfbehoud. Ons volksgeneeskunde het ontstaan in tye van swaarkry, ‘op die ver verlate vlaktes met die kreun van ossewa'," skryf Smuts in die inleiding.
Baie van dié rate dateer uit die begindae van Afrikaans, wat die boek ook 'n insiggewende deel van ons taalgeskiedenis maak. Smuts beskryf dit dalk as 'n "beskeie bydrae tot ons volkskunde", maar dit is soveel meer: 'n ware kultuurskat.
Die groot lekkerte van Boererate is egter om dit iewers oop te slaan, 'n inskrywing te lees en dikwels verras en verstom te word. Hier is letterlik op elke bladsy 'n skreeusnaakse juweeltjie (of drie).
Hoewel baie van dié rate waarskynlik werk en die boek dus as 'n gesondheidsgids beskou word, maak die uitgewer dit duidelik: Lees en geniet, maar moenie hierdie by die huis probeer nie!

Hier is enkele rate wat my oog gevang het:
Aambeie: Eet een stukkie harpuis (u weet, dié wat 'n mens aan 'n viool se strykstok smeer) so groot soos 'n ertjie daagliks tot verligting kom. - Philip Koen van Krugersdorp.
Eelte onder voete: Smeer elke aand na jou bad tandepasta onder jou voete. - Muriel Bezuidenhout van Claremont.
Kinderloosheid: Meng 1 bottel ou portwyn, 1 botteltjie versterkdruppels, 1 botteltjie bruindulsies, 1 flessie groen-amara, 1 flessie kamille-essens, 1 flessie balsem-vita. Neem 3 maal per dag een dessertlepel voor ete. (Die man kan dit ook gebruik as die fout by hom is.) - Frikkie J Brand van Thornton.
Kinkhoes: Laat kinders in die môre vroeg in 'n stal speel. - Anna Kelbrick van Agavia, Krugersdorp-Wes.
Mooi vel vir plaasdogters: Was die gesig met warm water en goeie seep, maak die hande nat met afgeroomde melk se skuim. Dit moet aan die gesig gedruk word. Laat droog word en spoel af met koue water. - Schalk Burger van Hillshaven, Westonaria.
Pampoentjies: Draai elke aand die kous wat jy uittrek om die keel terwyl dit nog warm is, dit sal die pampoentjies laat wegdroog. - Mev. Tina Muller van Wellington.
Seer oë: Neem die vel van 'n slang wat vervel het, maak dit nat en lê dit op die oë vir 'n paar minute. Herhaal 3 keer per dag. - Koot van der Merwe van Allanridge.
Wingerdgriep: As 'n mens gaan partytjie hou, drink gerus 'n liter melk voor jy gaan. Die ou voggies sal dan nie so maklik sy nare uitwerking hê nie. Of eet 'n blik sardyntjies op. Dit neutraliseer die alkohol in die drank en jy voel nie so sleg nie. - Mev. Charmaine de Bruyn van Newcastle.
Witseerkeel onder hoenders: Kap eenvoudig die laaste een wat tekens van wit seertjies in die keel wys se koppe af en begrawe diep. - Mev. Ann Caetano van Nelspruit.
• Boererate word uitgegee deur Penguin en kos R250 in boekwinkels.












