'n Paar dae voor Roland se ramparty het dinge hier in my binneste begin knaag - 'n mengsel van opgewondenheid en onverklaarbare vrees. Almal weet mos al dié klas van ding het 'n reputasie... dinge kan maklik handuit ruk.
Dis nou nie asof ons planne gehad het vir 'n wriemelende ontkleedanseres om 'n paal in iemand se binnebraai nie - ek het al gehoor van sulke en ander onsedelike dinge.
Trouens, Roland se ramparty sou 'n besadigde gedoente wees; net 'n gesellige kuiertjie en 'n bietjie naweekpret in 'n private kampplek buite Tulbagh - PG13, kan 'n mens maar sê.
Op dié manier is 'n mens seker niemand vang iets onbesonne aan nie, en niemand gaan in die hospitaal beland met alkoholvergiftiging of iets soortgelyks nie. Ouma het mos gesê: "Van lekker lag kom lekker huil."
Roland, Nicholaas, Charl, Wadda, Tertius en Gerrit was almal betrokke by die beplanning.
Ons is almal lief om te kamp, en dit was 'n goeie verskoning om vir 'n naweek stoom af te blaas soos ons soveel keer met skoolvakansies jare gelede gedoen het.
Die kampterrein lê aan die voet van die Winterhoekberg, diep tussen die wingerde, langs 'n dam met 'n foefieslaaid. Hier is 'n mooi kol gras onder 'n paar koeltebome, 'n baksteenkombuisie met 'n wasbak, en 'n braaiplek groter as die graskol waarop jy kamp - heerlik.
'n Pêl se troue het nie net betrekking op die bruidegom, bruid en die twee families nie. Soos 'n klippie wat jy in 'n dam gooi, kring die rimpels uit en dit raak uiteindelik die hele vriendekring.
Terwyl ek die Vrydagmiddag my kampgoed laai, dink ek aan presies hoe troues ander mense raak. Daar's die ongetroudes wat voel die tyd is nou naby om op 'n romantiese manier die ja-woord te vra; die getroudes wat bestekopname doen van hulle eie huwelik; en natuurlik diegene wat by elke troue sweer dit sal nooit met hulle gebeur nie.
Terwyl ek die Vrydagmiddag my kampgoed laai, dink ek aan presies hoe troues ander mense raak...
Ek pak my groen K-Way-tentjie - hy's die kleinste van die drie tente wat ek besit en 'n mens slaan hom sommer in 'n kits op. Oor 'n naweek soos dié is 'n tent eintlik maar net daar om die ergste dou af te keer.
Ons gaan mos ieder geval tot ounag kuier rom die geel middernagvlamme wat hoër as die ablusieblok se dak gaan brand.
Verder is daar net genoeg plek in die Polo se bagasiebak vir klere, beddegoed, bier en hout.
Wat meer het 'n mens nodig? O ja, sonbrandroom!
As 'n mens se vriende begin trou, is dit seker 'n aanduiding dat dit tyd geword het om jou soos 'n "grootmens" te gedra. Dit beteken jy moet luister as jou meisie sê jy moet room aansmeer - voor jy soos 'n pienkgebraaide toeris by die huis aankom.
Laatmiddag in Tulbagh se hoofstraat, waar 'n verstrengeling van mense in uiteenlopende stadiums van geluk, ongeluk en nugterheid op mekaar skree, hou ek dus gou by die Spar stil vir 'n botteltjie "faktor 40" - én ys.
Anderkant die kerk begin die omgewing meer lyk soos die foto's op die oord se webtuiste, en ek ry oor 'n paar lae laagwaterbruggies tot by 'n groot plaashuis met 'n groot ou bloekomboom.
Die ander ouens se karre staan klaar onder die boom geparkeer, want die pad van die plaashuis tot by die kampterrein is 'n steil opdraande wat net 'n 4x4 sal baasraak.
Van hier af moet die boer jou en jou bagasie tot by die kampplek karwei.
Ons klompie vriende wieg ritmies heen en weer agterop die bakkie, amper soos dansers in 'n Bollywood-fliek, terwyl ons met die plaaspad tussen die wingerde deur tot by die kampterrein ry.
Ons klompie vriende wieg ritmies heen en weer agterop die bakkie, amper soos dansers in 'n Bollywood-fliek...
'n Weimaraner van die plaaswerf hardloop al die pad agterna met 'n bek vol stof. By die kampplek is dit nie lank nie of die koelbokse is vol ys en die fynhout op die braaistapel knetter gesellig saam - geen lawaaierige, rokerige klubs en doef-doef-musiek sodat 'n mens vir die ou 2 cm van jou af moet skree nie.
Hier is net die "getjir-r-r-r-r-r" van insekte en die geknetter van hout en goeie geselskap - salig, bedees.
Later die aand brand die vuur hoog, die braaivleis is reeds iets van die verlede en die geselsies wentel om hoërskoolstaaltjies; wie se boepie onlangs 'n ekstra paar sentimeter bygekry het; wat die volgende dag op die agenda gaan wees.
Ons besluit soos een man môre bring ons rustig in die plaasdam deur.
Tulbagh het skynbaar nie baie reën gekry in die tyd voor ons hier kom kamp het nie, want waar die dam se watervlak gewoonlik tot teen die heuwel opstoot, is hier nou 'n breë, rooi strook hardgebakte modder tussen die oewer en die waterlyn.
Daar is darem nog genoeg water om twee Olimpiese swembaddens vol te maak, en 'n mens kan hier kom lafenis soek teen die son wat dreig om die druiwe in die wingerd in rosyntjies te verander.
Die foefieslaaid sorg ook vir 'n bietjie afleiding.
Die moeilikheid met 'n foefieslaad is dat die afwaartse trajek van die ding eintlik 'n simboliese voorstelling is van die omgekeerde verhouding tussen bravade en logika wat dit in 'n mens na vore bring - hoe meer bravade, hoe minder logika.
Dieselfde geld vir trampolienspring, swembadduik en skaatsplankry.Maar ons is mos verantwoordelik en gaan geen simpel truuks probeer nie.
Die hele oggend dobber ons op die dam met 'n ou trekkerbinneband; almal hang aan die kant met ons lyf onder die water, net die koppe en skouers steek uit.
Kort-kort "Zieeeeeng" iemand met die staalslang af en plons onder groot toejuiging van die resin die water. Teen elfuur, toe die son behoorlik agter die boomtoppe uit is, hardloop ek met die klipperige paadjie vinnig, katvoet, tot bo.
Die gebakte grond brand my voetsole en die sonstrale op my blaaie begin steek. Dis eers tyd om sonroom aan te smeer, sommer so 'n lekker groot blerts oor my nek en skouers en ore - 'n mens vergeet mos altyd jou ore.
Onder in die dam hang die res aan die trekkertjoep asof dit 'n reddingsboei van die Titanic is.
Charl roep iets soos: "Maak bollemakiesie!" en Roland en Tertius doen verdere aanhitsingswerk met 'n reëlmatige: "Sammie, sammie, sammie!"
Ek stoot weg van die wal soos 'n eendjie wat leer vlieg, en 'n breukdeel van 'n sekonde later meld 'n gedagte hom hier in my agterkop aan: "Houston, ons het 'n probleem!"
Hande vol olierige sonroom en die gladde pyphandvatsel van die foefieslaaid is nie maats nie.
Ek voel hoe my hande gly, maar ek klou verbete. Dit voel soos 'n ewigheid, die langste foefieslaaidrit in menseheugenis, maar ek haal nie eens die die rand van die water nie.
Ek ploeg neer op die hardgebakte aarde met 'n stofpluim soos in 'n tekenprent.
My eerste instink is om soos 'n rob water toe te rol, maar in die dam besef ek ek kan nie swem met 'n arm wat soos 'n paling rondflap nie. Hy's af, morsaf.
Eers moet Roland en Gerrit gaan alarm maak by die plaashuis, en ná 'n stamperige 5 km agterop die bakkie, terug na die karre toe, bondel Wadda en Charl my in Charl se kar en vat die pad Kaapstad toe. Hulle laai my onseremonieel by die hospitaal af en draai terug Tulbagh toe - hulle het immers 'n ramparty om by te woon.
Ek het niks meer van hulle verwag nie. Die prognose op my arm? 'n Gebreekte regtergewrig én 'n gebreekte arm - dieselfde arm.
Die prosedure? Oopsny en penne insit. Dis drie dae voor Kersfees, die vierde dag van my vakansie van drie weke…Die aand toe ek met morfien in my lyf in my bed lê en met waserige oë 'n Disney-fliek op die skerm bo my bed kyk, flits my Blackberry se rooi liggie met 'n WhatsApp-boodskap van Roland af.
Op die foto wat hy gestuur het, het ses ouens met ses gesonde gebrande regterarms om 'n 2 m hoë kampvuur in Tulbagh selfvoldaan geglimlag.
Miskien was dit die morfien wat gepraat het, maar op daai oomblik was ek bereid om weer te val vir nog 'n aand om 'n vuur in Tulbagh saam met mense met wie jy lekker kan lag en lekker kan huil.
Hierdie artikel het oorspronklik in November 2013 verskyn. Feiteen geite kon intussen verander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jyiets raaksien.















