Om as 'n bejaarde te kan reis is 'n groot voorreg, maar daar kan ook 'n hele paar uitdagings wees. Daar is natuurlik ook 'n verskil tussen 60 en 80 wees, en baie gesond en minder gesond wees. Karmi Painter, 'n stilis, somatoloog en voormalige lugwaardin, deel reiswenke.
Of jy nou die langpad wil vat of besluit het om oorsee te vlieg - hier is 'n paar nuttige wenke vir wanneer jy op land of per lug reis.
Op land
1. Reisplan
As jy met die motor gaan ry, maak seker dat jy seker is van jou roete en hoe gereeld jy petrol gaan nodig hê, asook waar om te stop daarvoor. As jy per trein gaan, maak seker jy weet waar die stasie is en vanaf watter platform jou trein vertrek. Vind ook uit of daar 'n hysbak is of net trappe. Onthou, jy sal self jou bagasie moet kan op- en aftel op die trein.
2. Stop gereeld
Dit is belangrik om gereeld te stop, nie net omdat bejaardes vinniger moeg word nie, maar vir beter bloedsomloop. Te lank stilsit in een posisie kan bloedklonte veroorsaak, dus moet jy jou bene gereeld strek.
3. Drink genoeg water
Ouer mense en kinders ontwater makliker en dit kan allerhande ongewenste simptome veroorsaak. Maak dus doodseker jy neem genoeg vloeistof in gedurende jou reis. Hou sommer 'n waterbottel byderhand.
4. Medikasie
Soos jy ouer word, gebruik die meeste mense 'n pilletjie vir iets - of dit nou bloeddrukmedikasie of iets anders is, maak seker jy neem genoeg van jou voorskrifmedikasie saam. Hou ook 'n dag of twee se medikasie byderhand. Dit gaan moeite wees om deur swaar bagasie daarvoor rond te soek.
5. Trappe
Wanneer jy jou verblyf bespreek, neem die hoeveelheid trappe wat jy sal moet klim in ag. As jy reeds met jou knieë sukkel of 'n hart- of longkwaal het, kan dit bitter moeilik raak as jy jou bagasie en jouself by 'n klomp trappe moet op of af kry. Dit sal maak dat jy 'n vakansie ná jou vakansie gaan nodig kry!
6. Pak slim
Dis aansienlik makliker om twee kleiner tassies te hanteer as een groot een. Probeer lig pak en vermy 'n groot, swaar, lomp tas. Maak seker dat jy jou eie bagasie sal kan hanteer, veral as daar geen jonger mense saam met jou reis nie.
7. Die weer
Jy wil nie onkant betrap word nie. Kry die weervoorspelling vir jou bestemming en maak seker jy pak gepaste klere, soos genoegsame warm klere vir kouer bestemmings.
8. Wees realisties
Dit is 'n voorreg om op vakansie te gaan, maar wees realisties daaroor. Wees eerlik met jouself oor waarvoor jy kans sien en waarvoor nie, asook wat jy fisiek kan en nie kan doen nie.
In die lug
1. Medikasie
Hoewel baie lande bepaalde reëls en vereistes het wat sekere medikasies betref, moet jy seker maak jy het genoeg medikasie in jou handbagasie. Onthou, jy het nie toegang tot jou groot bagasie op die vliegtuig nie. As jy landuit reis, hou 'n afskrif van jou voorskrif byderhand indien die grondpersoneel enige vrae oor jou medikasie het.
2. Hulp op die lughawe
Alle lugrederye bied 'n hulpdiens aan vir ouer mense en mense met fisieke probleme. Wanneer jy jou kaartjie bespreek, dui aan dat jy van dié gebruik wil maak. Die personeel sal jou dan tot by jou sitplek neem, jou help met jou bagasie en ook ekstra hulp gedurende jou vlug verleen.
3. Reisversekering
Die meeste lande vereis reisversekering wanneer jy daardie land besoek. Maak seker dat jou dekking reg is vir jou behoeftes. Om siek te word in 'n vreemde land kan onnodige spanning veroorsaak en finansiële druk op jou en jou geliefdes plaas.
4. Kommunikasie
As jou reis jou na die buiteland neem, is kommunikasie ongelooflik belangrik, veral as jy 'n dokter, ambulansdiens of geliefdes in 'n noodsituasie benodig. Besluit vooraf hoe jy dit gaan reël en wat jy nodig het. Dink byvoorbeeld aan of daar Wi-Fi by jou blyplek is, en of 'n tweede simkaart en/of jou netwerk se "roaming"- diens nodig is. Reël dit dan vooraf.
5. Dokumentasie
Dit is belangrik om ekstra afskrifte van al jou dokumentasie saam te neem. As 'n paspoort of ander belangrike dokumente verlore raak, sal die afskrif jou lewe heelwat makliker maak.
Die beste manier om jou reis te beplan is om te dink aan jou alledaagse lewe. Bestuur jy nog? Hoeveel moeite is dit om by die trappe op en af te kom? Kan jy pakkies dra sonder enige moeilikheid?
Neem al hierdie dinge in ag wanneer jy jou reis beplan, en jy sal 'n heerlike vakansie hê!













