Reis

Robberg roep jou naam

Boonop kan jy met CapeNature se winteraanbod van 40% afslag op verblyf vir net R1098 in sy skouspelagtige Fountain Shack oornag. Waarvoor wag jy? Pak daai stapskoene!

Foto's: Ronel Steyn

Skaars 'n halfuur terug het ons in een van Plett se stylvolle koffiewinkels gesit en smul aan 'n pain au chocolat en 'n cappuccino, maar nou, 'n dassiespoeg daarvandaan, staan ons bo op 'n hemelhoë krans en tuur stip na die turkoois water onder ons.

Die beskawing en al sy kettings soos WhatsApp, e-pos, Facebook en binnebrandenjins voel 'n dagreis te perd ver.

Ons groepie stappers is besig om 'n kolonie dobberende Kaapse pelsrobbe dop te hou. Hul voorsate het die plek sy naam gegee - Robberg. Ons kyk so stip na onder want ons hoop om 'n witdoodhaai te sien wat jag maak op die robbe.

Of dalk sien ons self 'n moordvis wat op sy beurt jag maak op die haaie! Of dolfyne en suidelike noorkapperwalvisse wat so lief is vir hierdie baai.

Ons tuur uit oor die baai
Ons tuur uit oor die baai

Ander stappers het juis anderdag net hier gestaan en kyk hoe die logge lyf van 'n witdoodhaai uit die dieper, donker water verskyn, en in die klokhelder vlak water al langs die krans patrolleer vir prooi. 'n Mens sien sulke dinge hier in CapeNature se Robberg-natuurreservaat.

Dis nie net asemrowende uitsigte, fynbos, voëls en wit strande nie. Dis nog ordentlik wild hier al is die skiereiland skaars 8 km vanaf een van ons land se gewildste vakansiedorpe.

Dis nie net asemrowende uitsigte, fynbos, voëls en wit strande nie...

Hierdie Tuin van Eden blyk nou die oorspronklike tuiste van die mens te wees, die plek vanwaar ons voorsate uitgesprei het na die res van die wêreld. Maak gerus 'n draai by Nelson's Cave, oftewel Wagenaarsgrot, naby die ingang van die reservaat.

Dit is een van verskeie grotte in die omgewing waar bewyse gevind is dat mense in die Steentydperk hier gewoon het. Dis meer as 125 000 jaar gelede! Die grotte is een van die hoofredes hoekom die reservaat ook 'n nasionale monument en 'n wêrelderfenisterrein is.

Die robbe baljaar.
Die robbe baljaar.

Vandag is ek, my vrou, Ronel, en 'n groepie vriende egter hier om te stap, en op die laatherfs oggend is die weer sommer Gouelokkies: Nie te warm nie. Nie te koud nie. Net reg.Nadat ons die bewaringsfooi van R40 elk betaal het, kan ons kies tussen drie sirkelroetes wat wissel in afstand en moeilikheidsgraad.

Ons besluit om die langste een, al om die punt van die skiereiland te doen. Dis 9,2 km lank en gaan ons so tussen vier en vyf uur neem. Jy kan ook die Witsand-roete van 5,5 km doen (so twee uur se stap) of die Gap-roete van 2,1 km wat jou skaars 'n halfuur sal neem.

Die paadjies (jy stap kloksgewys) is goed uitgelê, en binne die eerste kilometer of twee kom jy by 'n rotsbars waar jy duidelik aan die hand van verskillende rotslae kan sien hoe die superkontinent Gondwanaland in prehistoriese tye, sowat 120 miljoen jaar gelede, opgebreek het om Afrika, Suid-Amerika, Indië en Antarktika te vorm.

Hierna stap jy kranslangs, al aan die noordelike wand van die skiereiland, met uitsigte wat oor die baai Keurbooms se kant toe strek. Moenie vergeet om regs ook te kyk nie. Dalk gewaar jy 'n blouduiker, skaars hoër as 'n liniaal, in die digte fynbosruigte.

Jy sal die kolonie Kaapse pelsrobbe op die rotse tussen Kanonkoeëlgat en Grasnek hoor blaf voor jy hulle sien. Dalk ruik jy hulle selfs nog vroeër, veral as die wind reg waai. Dis hier waar ons uitkyk vir haaie, maar toe nie.

Ons sien wel een reuse-olifantrob wat soos 'n vet (verdwaalde) duikboot tussen die honderde dartelende robbe ronddobber. Sy GPS het hom duidelik in die steek gelaat - hy moet eintlik in veel verder suid tussen die ysberge wees.

By die Witsand-sandduin kan jy óf kortpad oor die skiereiland kies en terugsirkel na die ingang (dis ook die kortpad na die Fountain Shack, maar meer hieroor later), óf deurdruk op die langer roete om die punt. Ons druk deur.

Die menseverkeer is nou min, en jou voeteval en asemhaling word ritmies deel van die gedruis van die see en die roep van die kelpmeeue wat hier in die kranse nes maak.

Hoog op aan ons regterkant steek net die toring van Robberg se lighuis uit. Dis in 1950 gebou en 'n volle 146 m bo seevlak, wat dit die hoogste navigasielig aan ons kus maak.

Die punt van die skiereiland is die perfekte plek vir 'n piekniek. Ons dagrugsakke word uitgepak. Toebroodjies, sap, vrugte en biltong word op die oranje ligeen-bedekte rotse uitgestal. Ons eet in stilte en kyk in verwondering na die honderde robbe wat onder ons in die branders baljaar.

Fountain Shack
Fountain Shack

As jy eers om die punt stap, raak die paadjie rowwer. Jy klouter by tye tussen die rotse deur, en dis beter om jou stap so te beplan dat dit saamval met laaggety. Nietemin is die suidelike, wilde kant van die skiereiland asemrowend mooi. Stap rustig, veral teen die steiltes uit en neem die uitsigte in.

Onthou jy nog ons het vroeër gesê die Witsand-duin, wat dwars oor die skiereiland strek, is die kortpad na Fountain Shack?

Nietemin is die suidelike, wilde kant van die skiereiland asemrowend mooi.

Jy benader nou die duin van die anderkant en net voor jy hom tref, vind jy 'n bekoorlike houthuisie beskut teen 'n krans, met 'n onverbeterlike uitsig oor die branders wat teen die rotse breek en die wit strand wat 'n rotsknoets bekende as Die Eiland van die skiereiland self skei.

Hierdie ou vissershut is deur CapeNature opgeknap en gemoderniseer, en jy kan dit nou as 'n groep van tot agt mense by hulle huur om in oor te slaap.

Hier is potte, panne, matrasse, kussings, braai- en eetgerei en 'n sonkrag-yskas en 'n gasbraaier, maar jy gaan nie met jou motor tot hier kan ry nie. Jy gaan jou eie slaapsakke, eetgoed en ekstra hout moet saamdra vanaf die parkeerterrein (dis bietjie meer as twee uur se stap hierheen), maar die beloning is reusagtig.

Dis een van daai ikoniese Afrika-oornagplekke waaroor jy nog lank na die tyd met vriende en familie sal gesels. Dink bietjie hieraan: Jy het die hele reservaat vir jouself vanaf laatmiddag wanneer die laaste besoekers Robberg verlaat tot laatoggend die volgende dag wanneer die eerste stappers dalk verbykom.

Nog beter nuus is dat CapeNature 40% afslag bied op sy winterverblyf vanaf 2 Mei tot 31 Augustus, wat beteken jy kan die hut vir net R1098 per aand huur pleks van die gewone R1830. Buiteseisoen-tariewe: R920.

Dit geld vir tot vier mense. Elke bykomende persoon betaal daarna R320 per nag. Sit die Fountain Shack op jou emmerskoplysie indien dit nog nie daar is nie.

Op die laaste skof terug na die reservaat se ingang kan ek nie die uitsig vanaf die huisie uit my gedagtes kry nie. Ek beplan klaar aan my volgende verlof, wat weer hierdie klein maar spesiale reservaat gaan insluit. Volgende keer slaap ek oor!

Pierre Steyn

Pierre Steyn

Pierre Steyn is die redakteur van Weg!-tydskrif.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM