My winters trek nou al by meer as 40, maar gits, ek kan nie al my winters onthou nie. Ek is op Cradock gebore net ná die winter van 1977. Ek sal my ma moet vra of dit 'n goeie sneeujaar in die Oos-Kaap se berge was of nie.
Nog nooit het ek gedink aan die winter vóór ek gebore is nie - die winter toe ek binne-in my ma rondgedryf het. Warm soos 'n strandbal op die blou gesig van 'n swembad.
Die winters van my kinderdae was plaaswinters. Alles van my kinderdae was plaas. Die res van die wêreld het nie regtig bestaan nie - selfs TV het skaars die plaas bereik. Net Haas Das se nuuskas. Met hase was ek vertroud: springhase, kolhase, vlakhase.
Maar nog nie dasse nie - dassies wel. Ek vermoed dat ons drie kinders in die winter meer TV gekyk het as in die somer. Sommige dae was die winter laag oor die landskap, en dit het toegetrek en ysreën gemaak. Dan het my ma dalk pannekoek gebak, of vanaand het ons melkkos geëet.
In die winter het ons klere aangetrek wat van wol gemaak is, soos handskoene, musse, serpe en balaklawas.
Wolgoed het altyd gekrap en ek wou dit net uittrek. Nadat jy die ys in die visdam gaan breek en begin rondhol het met 'n droë spriet palmiet in die hand, oor die witgerypte grasperk, het die son dalk al begin warmte gee en het jy in elk geval só gesweet dat jy daai krapperige mus van jou kop afgetrek het.
In daardie winters het dit gesneeu. Op ou foto's dra ek en my broer dieselfde jasse en poseer langs 'n sneeuman. My pa het 'n ferweelbaadjie aan en lyk soos 'n cowboy, maar sonder 'n hoed. (In die 1980's het alle pa's soos cowboys gelyk, want die sepie van die dag was Dallas en nog nie The Bold and the Beautiful nie.)
My ma moet die foto geneem het. My suster is binne en seker nog te klein om in die sneeu te speel. Op latere foto's is sy ook daar. Kinders in die sneeu. 'n Labrador is baldadig iewers in die agtergrond en hy dink: Uiteindelik, Alaska in die Karoo!
‘Dit sal raar wees om snags in die Kruger wakker te word met iemand wat op jou tent piepie, maar by Oppikoppi druk jy net jou oorpluisies dieper in en draai op die ander sy.'
In die Junievakansie het ons my ma se familie in die ou Noord-Transvaal, nou Limpopo, besoek. Warmbad, nou Bela-Bela. Maar een ding wat nie verander het nie, is die Hoëveld se winters.
Ons sou daar toer, al met die N1 langs, eers in ons Volkswagen Passat- en later ons Toyota Cressida-stasiewa. Ons was 'n stasiewa-gesin (en 'n Venterwa-gesin ook: pakplek vir bokse vrugte en sakke aartappels met die terugtog).
Die Hoëveld was padlangs altyd doodgeryp, die landerye kaal of met verbrande stoppels, die lug wit. Dis eers ná skool dat ek die eerste keer die Hoëveld in die somer (groen, wuiwende sonneblomme, blouste lug, wit stapelwolke) sou sien.
Nadat ons by al die familie gaan kuier het, is ons wildtuin toe, want die wildtuin was 'n plek wat 'n mens in die winter besoek het. Anders is dit te warm en daar's te veel muskiete. Kaal mopanies, kremetarte sonder kroon - en tog is daar diere net waar jy kyk!
Ná skool is ek Grahamstad toe vir universiteit. Al is dit naby Cradock, is Grahamstad veel nader aan die see, en sy winters is anders. Grahamstad lê in 'n vallei, en sy winters is natter en mistig. Sy winters wil jou laat boeklees en 'n girlfriend kry, of sommer net Tassenberg drink, en dan direk daarna OBS ook.
Grahamstad is nie regtig kouer as Cradock nie, maar as jy in Grahamstad begin koudkry, dan is dit moeiliker om uit die kake daarvan te ontsnap. Jy kry weke lank koud. In jou slaap, wanneer jy klas toe stap, en veral in daai dawnie - die dag se eerste klas wat op 'n ongoddelike tyd begin.
Later gaan jy net nie meer dawnies toe nie. (Nog later besef jy niemand gee om dat jy die dawnies misloop nie. Dis min of meer wanneer jou beste studentejare begin...)
Sedert my Grahamstaddae al gaan ek - tensy daar 'n groot krisis is - elke Augustusmaand Oppikoppi toe. Ek dink Oppikoppi het dalk die plek van my kinderjare se winterwildtuin ingeneem.
Oppikoppi is amper nes die wildtuin: Waar die wilde diere naby die water hou, hou Oppikoppi se mense naby die kroeg. Soms is Oppikoppi wilder as die wildtuin. (Dit sal raar wees om snags in die Kruger wakker te word met iemand wat op jou tent piepie, maar by Oppikoppi druk jy net jou oorpluisies dieper in en draai op die ander sy.)
Dis ook beslis kouer, want jy is nooit voorbereid op die koue nie.
Oppikoppi-koue skop ongeveer halfdrie die oggend in. Dis omtrent die tyd wanneer jy van die boonste kroegie - nou moeg gedans en tam in die kuit - begin afstap na waar die kampterrein lê.
Vir diegene wat nog nooit by Oppikoppi was nie: Oppikoppi se kampterrein is niks soos 'n Forever Resorts s'n nie. Dis net bosveld, doringbome en stof, en rock-en-rollers wat vuur aansteek en brandewyn-stories vertel (die bier is vir bedags), en tente wat staan waar hulle kan, soms met een voet in die pad, soms half op 'n bos.
Wanneer jy hierdie terrein daai tyd van die oggend betree, dan is dit asof jy die koue Benguela-seestroom instap. Want daar bo in die kroegie was jy op die koppie, en als was warmer - nie net omdat jy so lekker saam gewieg het op "Lisa se klavier" nie, maar ook omdat warm lug mos styg.
En nou daal jy, en die temperatuur daal saam met jou, en jy klim in jou koue tent in, wat wraggies voel asof iemand dit nou net uit 'n vrieskaslaai gehaal het.
Van Koës in Namibië tot Alldays in die Bosveld en Pearston in die Karoo - en op baie ander plekke waar mense weet wat Hoppe's is* - is winter jagtyd. As jy gelukkig is, kan jy jou vrieskas vol biltong pak sodat jy soos 'n ryk man biltong en droëwors kan eet tot diep in volgende jaar se Superrugbyseisoen. Jou eie biltong, nie slaghuisbiltong nie. Dit gee meer selfbevrediging as 'n miljoen rand in die bank (vertel ek myself).
Winter was, voor die koms en gemak van supermarkte wat dinge invoer van wie weet waar die son altyd skyn, altyd die tyd waar die spenskas se ingelegde goed uitgehaal en waardeer word. Daar in 'n fles gloei die halwes van geelperskes geduldig vir een middag in Julie wanneer Ma dit uithaal en voorsit met warm vla.
Dít, biltong en die wildtuin: hemel op winteraarde.
As daar wél 'n kouefront is, trek jy die duvet oor jou wang en wag tot die vlae reën sagter begin sus en uiteindelik stil raak. En jy sê dankie vir 'n dak oor jou kop.
Die Noordelike Halfrond se winter het my nog net een keer gesien. Dit was in 2003 in Suid-Korea, en daardie winter het die kwik soms tot byna -20 °C gedaal.
Geen skoen wat ek besit het, kon daardie koue uithou nie en dit het ook nie saak gemaak hoeveel soju (ryswyn) jy die aand in die bulgogi-restaurant (bulgogi is soos 'n mini-braai) gedrink het nie - jy't gedrafstap tussen die moltreinstasie en jou kamertjie in 'n koue, stil buurt.
In Korea het hulle gefermenteerde kosse wat tradisioneel in die winter geëet word. Kool, raap, you name it - hulle fermenteer hom en noem dit dan kimchi.
Ek hoor nou by familie in Kanada dit raaks selfs kouer dáár. Nugter weet hoe 'n mens daardie plekke oorleef sonder ondervloerse verhitting. Jy moet selfs jou kar inprop, sê hulle.
Ek hou van die winter, maar sulke ontberinge is nie vir my nie. As dit koud is, wil ek 'n kaggel kan maak en my hande voor die vuur hou en binne minute voel asof ek die armdruk teen die natuur gewen het.
In die Kaap, waar ek deesdae woon, is winters eintlik soos somers in die Noordelike Halfrond. Behalwe wanneer dit reën, wat ook nie meer so gereeld is nie. Kaapse winters is die paradys om kwart oor elf, en dis teetyd.
Dis die beste seisoen om Saterdagoggend 'n rugsakkie te pak en Duiwelspiek uit te klim. As daar wél 'n kouefront is, trek jy die duvet oor jou wang en wag tot die vlae reën sagter begin sus en uiteindelik stil raak.
En jy sê dankie vir 'n dak oor jou kop.
* Dis geweerolie waarmee jy jou vuurwapens skoonmaak.
Hierdieartikel het oorspronklik in Juie 2019 verskyn. Feite en geite kon intussenverander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.













