Reis

Rubriek: Reën

Skets: Fred Mouton
Skets: Fred Mouton

Eers dink my pa hy is net ongelukkig. Hy sien die weer steek op, Bottelgat se kant toe. Dis diepblou en die wind waai die reuk daarvan mettertyd hiernatoe. Maar dit reën vandag net in Bottelgat - in Tarkastad se koers - en ook so 'n bietjie in Palingkloof, darem in ons rigting.

Het die dam al water? Die Kommandodriftdam? Nee, Palingkloof het nie genoeg reën gekry om af te kom nie. Die dam is nog droog. 'n Paar maande gelede was ons daar om te gaan kyk hoe hulle die laaste spartelende karpe in die vlak water uitskep en in dromme gooi. Om in ander damme te gaan gooi, om op die dorp te gaan verkoop as kos.

"Die babers sal nog lank lewe," het my pa gesê. Ons het dit geweet: Babers kruip onder die modder weg en wag.

Dan begin die boorgate opdroog. Wanneer een droë jaar drie word, begin die grondwater opraak, selfs waar daar nie besproei word nie, selfs hier in die bergveld tussen die klippe waar die riwwe wat 'n mens so mooi op lugfoto's kan sien, merkers is vir waar daar ondergrondse waterbronne kan wees.

My pa stap self rond met stokke. Hy doen dit alleen; ons is nie by nie. Waterwys is iets waarmee 'n mens jouself moet vertrou. Later kom nog 'n waterwyser. Die rif bo in Boonste Oshoek lyk belowend. Die boorman kom. Pad word gemaak sodat die boormasjien by die rif kan uitkom. Die ou windpomp staan stil, die sementdam is droog, die diere is dors en water word aangery.

Die fontein hou net-net. Die fontein wat nooit uitgeput raak nie, mag dalk dié slag opdroog. Op 'n warm dag kom die water nie by die dam uit nie. Dit verdamp in die lang voor op pad soontoe. Ons stap teen die voor uit na die bron van die fontein, ons kyk in die poeletjie in. Oral lê die wit doppe van dooie krappe.

Wanneer laas het ons 'n ooievaar gesien? Jare laas. Swartooievaars het altyd by die Ooievaarkrans gebroei.

Die poele waarin ons 'n paar jaar tevore gespeel het, is almal leeg. Een se naam was Sun City. Die ander een Herrie Versuip, want ons speelmaat Herrie het eendag amper daar verdrink toe "mannetjies" onder die water hom "ingetrek" het. Gelukkig is my broer 'n kampioenswemmer en Herrie is gered.

Ek mis die klank wat die kar se wiele maak as ons deur die driwwe vol water ry. Daar's baie van hulle in die kloof. Omtrent al die driwwe het name: Klipplaatdrif, die Opmekaardriffies, Straatdrif, Presidentblad (dis gebou toe pres. C.R. Swart ingehuldig is), Kruger se Gat...

"Gelukkig hou die huis se water nog," sê my ma, wat lankal die tuin tot net die belangrikste plante teruggesnoei het. Die grasperk is dood, maar dit lyk nie of die worshonde omgee nie, want hulle kan nou makliker gate grawe. Die huis se boorgat hou, maar ons mag nie vol baddens tap nie. Ons bad in mekaar se badwater. As my pa eerste bad, is die bad vol seepskuim.

Ons is op Somerset-Oos op skool. Die meeste naweke bly ons in. Ook dié distrik is droog, net soos Pearston s'n, Graaff-Reinet s'n. Daar's 'n spesiale biddag vir reën - nie die eerste een nie. Almal is in die kerk. Die mense wat op die dorp bly, weet ook hoe belangrik reën is. Daar is waterbeperkings, die gholfbaan was lanklaas groen.

Die jong dominee praat en dan bid die ou ouderling en dan sing ons en dan bid die jong dominee en dan, terwyl hy bid…

Terwyl hy bid, begin dit reën. In die warm kerk gaan mense se oë oop. Die kerk het 'n sinkdak en die vingers van die druppels trippel op die dak. Deur die venster kan 'n mens wolke sien. Dit reën net 'n bietjie, maar dis genoeg om mense se geloof in stand te hou.

Die weer dreun dat die eetkamer se groot vensters ratel. Die worshonde kyk in die lug op.

Ek bel my ma. "Het dit gereën op die plaas?" Dit het nie. Cradock is nog droog. Boere uit die OosVrystaat stuur bale voer af na die Oos-Kaap toe. Dit help om veevrektes te beperk. Wanneer mense met hulle eie oë sien hoe diere vrek van die honger, vind hulle 'n plek in hulle hart wat hulle nie geweet het bestaan nie.

Op die voorblad van die EP Herald lê 'n dooie angorabok op 'n kaal vlakte. Ek lees die onderskrif en dan die artikel. Gannahoek. Oom Wentzel, wat naby ons boer, word aangehaal. Almal is op moedverloor se vlakte.

Baie boere verkoop hulle plaas en gaan werk op die dorp of in die Baai of in die Kaap. Saans staan my pa buite op die stoep en rook. Een aand sien hy 'n verskietende ster wat die hemelruim verlig. Hy kom vertel ons daarvan; hy is jammer ons het dit nie ook gesien nie.

Ek wens ek was 'n baber wat onder die grond kan slaap totdat die water weer kom.

Die hamerkop roep. Daar is weer in die lug. Gisteraand het die reënsprinkaan driftig gepraat in die vaalbos, en Pa het ons kom wys hoe woeker die rysmiere. Goeie tekens. Ma staan met haar hande op die heupe na die weer en kyk. Ek hoef nie te vra wat sy dink nie. Gaan dit vandag reën? Gaan dit begin en aanhou? Of gaan dit net stof natmaak en ophou en die son dan weer skyn?

Die weer dreun dat die eetkamer se groot vensters ratel. Die worshonde kyk in die lug op.

Die hamerkop is klein bo die Kleinkampie, maar hy roep. Die hamerkop is so oud soos tyd self. Dis in die hiërogliewe van die Egiptenare.

"Die reëngat is toe," sê my ma. Die reëngat is tussen Kootsmitshoek en Klein-Oshoek. As die wolke daar saampak, is die kanse goed dat dit sal reën.

Daar is 'n boom daar ver op die berg, afgeëts teen die lug. As jy tot daar klim, sal jy sien dis 'n kiepersol. Toe ons klein was, het dit soos 'n vliegtuig gelyk wat in die aarde vasduik. Dis blou daar. Die wind waai reg. Die wolke stapel hoër en hoër. In die kantoor stem die barometer saam.

Ons staan buite op die droë grasperk. Ek onthou hoe mooi ons tuin altyd gelyk het. Irisse, aronskelke, die visdam. Gelukkig het my ma en pa baie inheemse bome geplant - witstinkhout, olien, karsie - en dié is taaier as die uitheemse goed. Hulle hou nog. Die boskasie staan.

Die reuk van reën vul die lug. Reën ruik anders as bloot water. Reën is gelaai met opwinding, met energie. Dit is nie 'n stil reuk nie, maar 'n reuk wat hardloop, oor lyndrade spring, wat teen hange af tol en besembosse tussen die vingerpunte vryf sodat jy die karee-agtigheid daarvan kan ruik.

Ons gaan jaag die hoenders in. My pa trek die Cruiser in die klipgarage in. Die weer dreun harder. Dit blits nie van die weerlig nie, en dis 'n goeie ding. Weerlig slaan veld aan die brand, en alles is droog en reg om te brand. Weerlig maak nie damme vol nie.

Die eerste druppels val. Hulle is groot en warm. Waar hulle op die klipstoep val, sprei hulle oop soos ou R1-munte van sagte lap. Die reuk van reën en stof begin meng. Die reën val op die grond. Dit kom in die pad af, van Leliekloof se kant af; dit kom verby die voerstoor, verby die skeerhuis tot hier waar ons staan, die tuin.

Stadigaan raak Kootsmitshoek eers vaal en dan toe van die reën. My ma gaan in om 'n venster toe te maak. Ons drie kinders staan kaalvoet in die reën totdat ons sopnat is.

Dit reën en reën. Ons gaan in en dit raas op die dak. Ma maak koffie. Pa het skaars tyd om syne te drink. Hy het die versigtige optimisme van 'n boer. Sal hy solank sy reënjas en waterstewels aantrek? Wag nog tien minute. Dit reën harder. Nog tien minute. Dan is dit tyd. Hy trek aan en gaan uit, en ons volg.

My ma maak die fontein se leivoor oop sodat die water die sementdam kan volmaak. Sy het al baie graaf gewerk in haar lewe; dit lyk so tuis in haar hand soos 'n koffieketel. My pa ry Wapadskloof toe - die ander kloof wat soms afkom as dit baie reën.

Daar's nog 'n gruiswaldam daar en die vloedsluis moet oopgemaak word. Net ingeval.

Ons stap af rivier toe in ons oorgroot waterstewels. 'n Mens kan die rivier hoor. Die water bring klippe af wat teen mekaar en teen die klipplate op die bodem kap. Dit klink soos 'n reus wat 'n lapsak vol groot dolosse skud.

Ons stap soontoe om te sien hoe die water oor die wal dawer. Dis 'n bruin geraas, donker soos sjokolade. Stokke en garingboomstompe en rommel kom verby. My broer steek 'n stok in die modder waar die water die oewer ontmoet. Hy maak 'n leë brandewynbottel vol vloedwater.

Later, wanneer die sediment afgesak het, sal 'n mens kan sien hoeveel grond daar in die water was. Dan sal hy 'n datum op die bottel skryf en dit by die ander op sy rak sit.

"Kyk," sê hy en wys na die stok in die modder, "die water styg nog."

Dan sien ons vir Pa aankom. Ons draai na hom toe en stap oor die kaal land met die honde agterna.

"Wapadskloof kom ook af," sê hy en sy oë glinster. Ons stap saam en klim agterop die Cruiser en ry om te gaan kyk. Die hamerkop vlieg hoog in die lug, 'n seëning teen die blou. Dit het gereën.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM