Reis

Rubriek: Terug na moeder

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Dit was vroeg in Februarie 1996 en ek was 'n 19-jarige snuiter. My ma het my gaan aflaai by die destydse Johannesburg- internasionale lughawe. Maande lank het ek gedroom van hierdie dag. My eerste reis oorsee.

My ma was geen vreemdeling vir reis nie. Sy het in die jare sestig, nadat sy haar graad in die onderwys gevang het, haar reistande as SAL-lugwaardin gesny. Sy het selfs my pa, nou oorlede, op een van haar binnelandse vlugte ontmoet.

Daar sit ons toe in haar Nissan Sentra op die N3 noord van Heidelberg, en ons al twee - om verskillende redes - byt hard om die trane terug te hou.

Vir my, die hardekoejawel-sportkind, het die bal skielik vreeslik groot geword: Ek was op die punt om op my eie in 'n vliegtuig te klim en die land te verlaat.

By die PPC-sementfabriek, nes jy Johannesburg binnery, sien ek 'n ewe bekommerde trek op haar gesig. "Jy's op die drumpel van een van die grootste avonture van jou lewe," begin sy. "Oor omtrent 'n uur van nou af gaan jy jou in 'n vliegtuigstoel vasgespe. Jy gaan ver en wonderlike plekke sien.

Jy gaan in die Israel van my Bybel rondloop. Jy gaan Jerusalem sien. Die eerste mens in ons hele familie wat dié eer te beurt val.

" Ek was, soos duisende ander jong Suid-Afrikaners in daardie jare, op pad om as vrywilliger op 'n kibboets te gaan werk. Ek het ongemaklik rondgeskuif. Oortuig 'n preek oor die moets en moenies is op pad. Toe nie.

"Ek was self genoeg oorsee. Dis moeilik om alles in te neem. Maar dis selfs moeiliker om huis toe te kom. 'n Mens vergeet jouself só maklik daar ver tussen die vreemdes. Jou huis raak met elke tree verder van jou af."

Haar hande het wit om die motor se stuurwiel geklem.

"Jy moet baie foto's neem, van plekke en mense. Maar die heel belangrikste is dat jy moet onthou jy gaan terugkom. Eendag gaan jy jou weer in 'n vliegtuigstoel vasgespe en terugvlieg. En iewers doer bo gaan 'n stem keel skoonmaak: ‘Dames en here, dit is u kaptein wat praat. Ons vlieg nou oor die Republiek van Suid-Afrika,' en dan, dan moet jy aan jou ma dink."

Jy gaan in die Israel van my Bybel rondloop. Jy gaan Jerusalem sien. Die eerste mens in ons hele familie wat dié eer te beurt val.

My ma se trane was naby. By die glydeure het sy gaan staan. Haar hand ferm op my arm geplaas. "Belówe my jy gaan terugkom."

Nie te lank daarna nie was ek in 'n stoel vasgegespe. Als was nuut vir 'n Heidelbergertjie wat nog nooit verder as Namibië was nie: Suikerstafies (ons het net die pakkies geken), die Israeli-bier soos Goldstar en Maccabee, die vreemde tongval van die twee Arabiese passasiers agter my, selfs mineraalwater (ek het nog net in boeke daarvan gelees; dit het maar soos Heidelberg se water gesmaak).

Ek het gedink aan die Wêreldbeker-kriekettoernooi wat binnekort sou begin. Waar in Israel - 'n nie-krieket-spelende land - sou ek op die hoogte kon bly van Hansie en die manne in groen se vordering?

Groot was my verbasing toe ek by my buurman aan boord uitvind dat dit wél moontlik was. Liam was 'n mede-burger wat pas 'n kort vakansie in Suid-Afrika geniet het ná twee jaar in Engeland saam met sy meisie, Karen. Karen was reeds in Israel en sou hom by die lughawe ontmoet.

Liam se voorstel (uitgestippel oor verskeie biere) was dat ek by hulle in Tel Aviv aansluit, pleks daarvan om die kibboetsroete te volg. Die feit dat jy in Tel Aviv se kuierplekke die Wêreldbeker sou kon volg, was deurslaggewend.

Kort ná sewe die oggend het ons ystervoël by die Ben Gurion-lughawe, omtrent 25 km buite Tel Aviv, neergestryk. By die lughawe het ek vir die kibboetsmense weggekruip terwyl ek vir my rugsak wag. Ek en Liam het op die eerste bus na Tel Aviv geklim.

Karen het toergids gespeel en ons is na die Leprechaun-kroeg langs die Frishman-strand. Met die aand se gesellighede het ek ingestem om saam met Liam, Karen en al my nuwe héél beste vriende in die wêreld met vakansie te gaan pleks van by my kibboets aan te meld.

Ons het te hore gekom van goedkoop stapelbedjies in 'n saaltjie op die dak van die Dizzengoff-hostel en vir ons lêplek bespreek teen 'n derde van die prys van die gewone kamers.

Die volgende oggend het ek, my nuwe maats en my ewe splinternuwe kloppende hoofpyn buskaartjies gekoop na Eilat toe. Daar het ons Egipte binnegegaan en skielik was ek - binne 48 uur nadat my eerste buitelandse reis begin het - nie net in 'n ander land nie, maar sommer in die verkéérde ander land!

Ons bestemming was Dahab, 'n Bedoeïententdorp teen die Rooisee en ongeveer 'n uur en 'n driekwart se gevaarlike rondbons in 'n onpadwaardige Peugeot-taxi van die grens af.

'n Week lank het ons gesnorkelduik, en weggelê aan heerlike pannekoeke en seekos met piesang-smoothies.

Met my vakansie verby, moes ek 'n besluit maak: Om te kibboets of nié te kibboets nie. My nuwe maats en die aandliggies (en krieket) van Tel Aviv het gewen - ons is saam terug en ek het my as handearbeider op boupersele gaan aanmeld.

'n Week later het 'n jong Gary Kirsten die krieketspan van die Emirate bloedneus gegee en 188 van 159 balle geslaan. (Dit was egter nog te vroeg om daar in die Leprechaun die beker te begin blinkvryf - ons sou later in die kwarteind teen Wes-Indië uitval.)

Tussen die los werk in Tel Aviv en die seilbote van Eilat het ek Israel platgetoer. My ma se voorspelling was in die kol: Jerusalem - monument aan die verganklikheid van die mens - het my bekoor.

En dan was daar Egipte, wat ek agt keer besoek het. Ek het die piramides gesien én by een ingegaan. Ek het per trein van Kaïro na Aswan gereis en met 'n felucca ('n tipe seilboot) na Luxor gevaar.

Daardie vyf dae en vyf nagte wat ek op die Nyl deurgebring het, dra ek steeds soos 'n tatoeëermerk in my geheue.

Min ervarings kan vergelyk met 'n maanligaand op die rug van Afrika se bekendste rivier. Aan wal het eeue oue grafkelders ons oopmond in die verbygaan gadegeslaan. By tye het die pienk van die duine aan die een kant die horison geskets, terwyl lowergroen landerye op die ander in die son gelê het.

Die water het die vrugbare reuk van oorspoelde vloedvlaktes gedra. Boerdery hier het na swaar werk gelyk. Oorlaaide donkies, aangepor met 'n stok, maer basterbrakke wat om bene sluip.

Ek het die piramides gesien én by een ingegaan.

By oorstaanplekke het juigende kaalvoetkinders ons boot verwelkom. Baie lekkergoed het van hande verwissel.

In teenstelling daarmee was Israel 'n moderne land. Die konstruksiebedryf was die lewensbloed van Tel Aviv en ons Suid-Afrikaners was gewillig om ons sweet vir shekels te ruil. Kibboetse was destyds die enigste plek waar buitelanders wettig kon werk. As konstruksiewerkers moes ons ligloop vir die polisie, maar ons het R15 000 per maand in Tel Aviv verdien in vergelyking met die R600 plus verblyf en kos wat jy by 'n kibboets gekry het.

In Tel Aviv het ek my eerste swart vriend gemaak: Sjaka, van Durban - die enigste swart Suid-Afrikaner wat ek in Israel ontmoet het. Sjaka, wat my gehelp het om my werk klaar te maak toe my dun armpies nie meer kon nie. Sjaka wat ek die laaste keer gesien het toe hy die bus gehaal het Ben Gurion-lughawe toe om na Engeland te vlieg. Ek wonder vandag nog wat van Sjaka geword het.

Ek onthou hoe vreemd dit was toe ons hoor die eerste internetkafee sou in Jerusalem oopmaak. Wat sou 'n mens daar kon doen? Só het ons op die balkon van die Dizzengoff-hostel gesit en wonder.

Dizzengoff het vir 'n kerngroep van sowat 20 reisigers van alle nasionaliteite 'n soort huis geword. Aan die stuur van Dizzengoff was ene Moshe. Hy was 'n pa vir ons, en sy swart boekie vol kontaknommers vir konstruksiegrootkoppe - 'n reddingsboei in tye van werkdroogte.

Toe die vlieënier op pad terug keel skoonmaak en sy stem deur die kajuit rammel, het my oë skielik wasig geraak. My eerste gedagte was aan my ou moedertjie vir wie ek geen waarskuwing van my terugkoms gegee het nie.

Met die afklim het ek die grond reg langs die Boeing gesoen. Twee skoolvriende, Gerhard en Quinna, het my kom haal. Toe Quinna se Volla by Langlaagtestraat indraai, het ons gesin se geliefde brak, Multiplex (hy dek alles...), van hom laat hoor.

Toe ek die deurklokkie lui, het ek haar stem gehoor. Ma. Sy het huilend uitgestorm en haar arms om my gegooi.

Ek was tuis.

Hierdie artikelhet oorspronklik in Mei 2018 verskyn. Feite en geite kon intussen verander het- laat weet gerus by digitaal@weg.co.zaas jy iets raaksien.

Hendrik Hancke

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM