As 'n ander man die dag met die braaitang langs die braairooster staan, praat jy nié op sy hand nie. Jy plaas 'n wag voor jou mond en jy swyg - al doen hy wát, al gebruik hy wát en al brand jy warmer as die vuur om iets te sê. Dís ons groep vriende se ongeskrewe reël. én dis mos so min of meer ook nasionale braai-etiket.
Jy kan die braaier uitvra oor sy braaisous of -sout en jy kan belangstellend vra waar hy die goeie hout en mooi tjops en sosaties gekoop het. Of jy kan hom 'n pluimpie gee oor sy nuwe braaier, braaitang of braaiery. Maar jy kan nié vir hom vertel hoe warm die kole moet wees of hoe hy eintlik veronderstel is om die tjops en wors te braai nie. Jy kan ook nie vir hom sê die supermark hou 'n beter sous aan as die een wat hy gebruik nie. óf dat hy eerder gouer as later vir hom 'n ander tang of rooster moet aanskaf nie.
In kort: Jy kan komplimenteer, maar nie kritiseer nie. Jy kan braairaad by die braaier vra, maar as hy nie uitdruklik daarvoor vra nie, géé jy nie advies nie. Dis in alle geval hoogs onwaarskynlik dat hy jou raad gaan vra, want elke braaier "weet mos wat hy doen".
IN AL DIE JARE wat ons groep vriende saam braai, hou ons getrou en goed by hierdie braaireëls. Daar was nog nooit moeilikheid nie.
In al die jare het niemand nog vir Doepie 'n enkele woord gesê as hy goeie Kalaharitjops op houtskool braai nie - al grens sy houtskoolbraaiery vir party van ons aan hoogverraad.
En almal bly stil as Koos die wors omdraai met sy lomp braaitang met die breë, plat knyper wat lyk soos die snawel van 'n lepelaar by Marakele se watergat.
Niemand het nog iets gesê oor Willem se kole wat alewig te min en te koud is en die steaks wat hy dan taaigaar kook omdat g'n vleis op sulke flou kole kan braai nie.
Want jy bly stil as 'n ander man braai. Dis die reël en dis hoe dit werk. Elkeen het sy manier van doen, sy eie braaigeite en -grille en sy eie braaigoeters.
Almal swyg ook maar oor die swartgeskroeide skaaptjops tussen die ander skaaptjops in Paul se braaibak, omdat hy dik en dun tjops en groot en klein tjops almal saam en almal ewe lank in sy toeknyprooster braai. Selfs Tielman, wat eerder 40 ewe groot hoendervlerkies een vir een met die braaitang op die oop rooster sal omdraai "omdat 'n toeknyprooster 'n aartssonde is", sê niks nie.
Want jy bly stil as 'n ander man braai. Dis die reël en dis hoe dit werk. Elkeen het sy manier van doen, sy eie braaigeite en -grille en sy eie braaigoeters. Vir elkeen is sý manier die regte manier. En elkeen se braaigoeters is vir hom spesiaal en soortvan heilig.
VAT NOU MAAR vir Tinkie. Om te sê hy is lief vir braai is om dit sagkens te stel. Jy kan maar sê hy is in die oortreffende trap lief vir braai. En daarmee saam het hy baie braaigeite en -grille - sommige van hulle effens vreemd.
"Dis nou 'n man wat rigied is in sy weë én sy braaiweë," sê Paul altyd.
Wanneer Tinkie hardehout drink, drink hy nét Red Heart of Olof Bergh en Coke. As hy bier drink, is dit nét Castle. Sy enigste rooiwyn is Robertson Merlot en al witwyn wat oor sy lippe kom, is yskoue Graça.
Nooit, maar nóóit drink hy enigiets anders nie. Sy drankie of bier drink hy ook nét uit 'n gewone bierglas en nooit uit 'n lang, smal glas of 'n bierbeker nie. Van die begin van die braaiery af tot aan die einde van die kuier drink hy ook net uit een enkele glas. As jy in die loop van die aand per ongeluk vir hom in 'n skoon glas skink, vra hy sy ou glas terug en gooi die drank versigtig terug in die glas waarmee hy die braai afgeskop het. Van begin tot einde word sy glas ook nie een keer met water uitgespoel nie. "Dis maar hoe dit is," verduidelik hy altyd vir ons.
AS DIT BY DIE VUUR en die vleis kom, is Tinkie net so rigied. Die laaste 20 jaar of langer braai hy al met dieselfde kort, smal dubbelskarniertang en dieselfde toeknyprooster.
Die tang se rooi handvatselverf is al dof gevat en die rooster pikswart en op plekke krom gebraai, maar 'n nuwe een wil hy nie hê nie. Dis sý tang en sý rooster en hulle "verstaan mekaar".
Al braaisout wat hy gebruik, is die gewone Marina, en Lappies se gewone braaisous is die enigste sous wat hy soms vir 'n steak of 'n rib gebruik.
Andersins maak hy sy eie doepa van worcestersous, olyfolie en grofgemaalde peper, en dit is dit.
Hy braai ook net met één soort hout: kameeldoring en niks anders nie.
As hy gaan kamp, ry sy toeknyprooster, braaitang en kameeldoring sonder uitsondering saam.
EEN DING WAT TINKIE nie in enkelvoud doen nie, is vuurmaak.
Of hy nou by die huis of in die kampplek braai, hy maak nie een vuur nie, maar twéé: 'n "plat vuur" en 'n "regop vuur". En hy braai by albei.
Sy "plat vuur" is vir kole onder die oop rooster - vir tjops, wors, sosaties of steak.
Die "regop vuur" is vir heelaand kuier en vir 'n "lekker ding op die kant". Dié vuur word nie kole nie, maar word die heeltyd met nog 'n stompie kameeldoring of drie gevoer om hoog te bly brand. 'n Ent van die vlamme af staan die toeknyprooster skuinsregop teen 'n stuk geriffelde heiningspar met " 'n lekker ding" of "lekker dinge" wat stadig-stadig daarin gaar word: skaaprib, varklies of hoenderstukkies. Ek moet bieg: Jy gaan ver soek vir vleis wat lekkerder is as Tinkie se "lekker dinge".
WANNEER TINKIE EERS klaar gebraai het en die braaibak vir ete nader trek, salueer hy en sê hy hard en ferm en in sy beste Italiaans: "Sa-loe-te!"
Dan eers word die rooster oopgemaak en die "lekker ding" of dinge in die bak gesit.
In al die jare wat ons hom ken, salueer hy so. En in al die jare het nie een van ons iets daaroor gevra of iets gesê nie, want 'n man se braaimaniere is mos sy braaimaniere.
Tot nou die aand in Mokala toe Koos ná die saluut by die kampvuur vra: "Hoekom salueer jy elke keer die vleis só?"
In die gloed van sy "regop vuur" kyk Tinkie verbaas vir Koos: "Die vleis? Ek salueer nie die vleis nie! Ek salueer die rooster. Daar's gedigte oor braaivleisvure en braaiboeke spesiaal vir platroosters, Webers en Cobbs, maar niks sulke goed vir die toeknyprooster nie. Hy word heeltemal te geringgeag."











