Reis

Mic se rubriek: Sandry-flaters

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: Galloimages/Gettyimages.com
Foto: Galloimages/Gettyimages.com (John M. Chase)

Terwyl ek op die strande en in die duine van Namibië ry, ontdek ek my omvattende teoretiese kennis kan geensins vergoed vir my tekort aan praktiese ervaring en die toepassing van dié kennis nie.

Die meeste van my duin- en strandryery was in my Toyota FJ Cruiser, waarskynlik die beste duinryvoertuig wat daar is. Die FJ het baie van die fundamentele eienskappe wat hom in staat stel om strande en duine te verower waarmee die meeste ander standaardvoertuie sal sukkel.

Ek het my FJ beskou as 'n bekwame ryding wat my foute oorgesien het en wat my, ondanks my betreklik min ervaring, soos 'n meester in die duine laat lyk het.

Onlangs keer ek met groot opgewondenheid terug na Namibië om wéér die sand te tem - dié slag met my nuwe Land Cruiser 76 V8-dieselwa. Maar die Cruiser is aansienlik anders as die FJ. Uiteraard is daar 'n verskil wat betref gewig, veral op die agteras.

Die V8-diesel het baie meer wringkrag, maar minder krag. En omdat dit 'n dieselenjin is, hou hy nie daarvan dat jy sy toere opjaag nie. Jy moet derhalwe 'n hele ander soort aanslag as met 'n FJ gebruik indien jy met 'n Land Cruiser 76 soos 'n meester in die sand wil lyk.

Onlangs keer ek terug na Namibië om wéér die sand te tem - dié slag met my nuwe Land Cruiser 76 V8-dieselwa.

Die opvallendste verskil volgens my was die bande. My FJ was geskoei in Bridgestone D697 Dueler All Terrain-bande. Dit is al 'n klompie jare my gunstelingband. Die hoofrede waarom ek so baie van hom hou, is sy puik greep op nat voorstedelike paaie.

Groot en swaar veldryvoertuie het nie uitstekende padhouvermoë nie. Bonkige veldrybande, 4x4-toerusting en veranderings aan die vering maak die probleem net erger. As dit boonop reën, stuur die kombinasie op 'n ramp af.

Bridgestone se band het my in gure weer selfvertroue gegee ten opsigte van waterverplasing, hantering en hoe doeltreffend hulle aan die teer klou wanneer ek skielik moes rem. Ek woon in die stad en dis uiteraard ook waar ek die meeste tyd in my ryding deurbring.

Die Bridgestones was nie besonder bestand teen deursteking nie, maar ek vervang eerder 'n lekband as om in 'n ongeluk betrokke te wees terwyl dit reën.

Toe ek my FJ vir die Cruiser verruil, is ek deur 'n bandkennervriend oortuig om die Cooper ST Maxx-veelterreinband te probeer. Die internet is vol teenstrydige menings oor hierdie band, maar ek glo die internet se opinie is ongegrond en uiteindelik uiters onbetroubaar.

Om dié rede het ek 'n kans gewaag met die Coopers, en tot dusver is ek heel in my skik. Goed, hulle is raserig en die rit is minder gemaklik as met die Bridgestones, maar hulle greep in nat toestande is aanvaarbaar tot die punt waar ek nie twyfel in hulle vermoë om my veilig te hou nie.

Wat my egter die heel meeste beïndruk, is hulle duursaamheid. Ek het ongeveer 1 000 km op strawwe grondpaaie in Namibië afgelê, en op die meeste van dié paaie was ek oortuig 'n swakker band sou my in die steek gelaat het.

Die Coopers het gemaklik met klippe, gate en sinkplaat afgereken. Terug by die huis kan ek geen tekens sien dat die bande hard gewerk het op dié beproewing nie.

Ek het egter behoorlik vasgesit in die duine, selfs met dieselfde lae banddruk wat ek suksesvol op my FJ gebruik het. Omdat ek die wetenskap agter sandry wou verstaan, het my nuuskierigheid tot navorsing gelei.

Volgende maand deel ek my bevindinge ten opsigte van sandry - en dit gaan oor meer as bloot banddruk.

Mic van Zyl

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM