Reis

Ses van ons land se beste uitspanplekke

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Karmedo River Lodge. Foto: Toast Coetzer
Karmedo River Lodge. Foto: Toast Coetzer

1. WES-KAAP

Karmedo River Lodge

'n Vol dam water in die Tankwa-Karoo? Ja, op die plaas Brakfontein span 'n stuwal oor die Doringrivier en wanneer jy op die stoep van die Karmedo River Lodge staan, kyk jy wraggies uit oor báie water. Wes van jou troon die Sederberg uit en na die ooste kan jy in die verte die Roggeveldberg uitmaak.

Dié ruim grasdakhuis het slaapplek vir sewe mense en danksy sonpanele is hier kragpunte, ligte en 'n yskas. Jy kan binne kook op gas of braai voor die huis waar jy soos 'n dassie tussen die klippe sit en uitkyk oor die ruwe wêreld met g'n ander mens in sig nie!

Karmedo is troeteldiervriendelik, en selfs groot honde is welkom - jy kan van die huis in omtrent enige rigting stap en die veld verken (kyk fyn en jy sien dalk klipwerktuie uit die Steentydperk).

Karmedo is egter nie agter die klip nie: Hier is Wi-Fi en jy kan met gemak vir 'n week hier skuil en jou skootrekenaarwerk in die stilte van die Tankwa afhandel.

Waar? Jy draai van die R355 af, sowat 160km noord van Ceres en 120km suid van Calvinia (aanwysings op die webwerf).

Koste R1200p.n.

Wat nog? Jy kan swem of kajakry (hier is een te huur, maar jy kan ook jou eie bring) en visvang in die dam, hier is swartbaars en clanwilliam-geelvis. Of ry vir die dag na die Tankwa- nasionale park - die ingang is sowat 124km ver.

Kontakkarmedo.com | nicolette@hantam.co.za | 072 476 0437

2. NOORD-KAAP

Red Rock River Camp

Red Rock River Camp. Foto: Toast Coetzer
Red Rock River Camp. Foto: Toast Coetzer

Roché Schoeman en Adelaine Breedt se Red Rock River Camp is 'n oulike kampplek digby Onseepkans langs die Oranjerivier. Hierdie deel van die rivier is minder bekend omdat dit so afgesonder is - die naaste dorp is Pofadder.

Roché en Adelaine bied roei-uitstappies (R750p.p. per dag) aan waarop jy die bergwoestynlandskap stroomaf van hier verken.

Red Rock River Camp. Foto: Toast Coetzer
Red Rock River Camp. Foto: Toast Coetzer

Die ruim terrein het gras en skaduwee, en hier is braaiplek, warmwaterstorte en spoeltoilette. Jy het ook toegang tot 'n gemeenskaplike kombuis (hier is kragpunte as jy iets wil laai) en 'n dek wat uitkyk oor die rivier. Voëlkykers sal dit geniet om hier te sit - jy sien dalk die skaars gariepglasogie tussen die bome, of 'n reusereier in die stroomversnellings.

Ek het hier oornag omdat dit so naby die Onseepkans-Velloorsdrif-grenspos is - dis 'n stil grenspos wat jou by Namibië se agterdeur laat in- of uitglip.

Waar? Langs die Oranjerivier, 500m stroomaf van die Onseepkans-grenspos.

Koste R200p.p.

Wat nog? Vlieghengelaars hou van dié deel van die Oranjerivier omdat hier grootbek- én kleinbekgeelvis hou.

Kontakredrockrivercamp.co.za | 0836607798 (Adelaine)

3. OOS-KAAP

Ganora-gasteplaas

Ganora-gasteplaas. Foto: Toast Coetzer
Ganora-gasteplaas. Foto: Toast Coetzer

Wanneer jy by JP en Hester Steynberg se plaaswerf inry, voel dit soos 'n tuiskoms.

As gasteplaas handhaaf hulle die perfekte balans tussen professionele diens en daai plaasgevoel. Die kamers is goed ingerig (hulle het deesdae ook 'n kampterrein naby die opstal) en die maaltye is uit die boeke (sop, skaapvleis, malvapoeding...), maar terselfdertyd voel dit steeds bloot asof jy by vriende op die plaas kuier.

JP en Hester Steynberg. Foto: Toast Coetzer
JP en Hester Steynberg. Foto: Toast Coetzer

In die Nieu-Bethesda-distrik is elke klip 'n stukkie geskiedenis en by Ganora maak jy eerstehands kennis daarmee.

Jy móét eenvoudig die omvattende Fossielmuseum (hier is ook klipwerktuie) besoek - al hierdie fossiele is deur die Steynbergs op die plaas opgetel.

Jy kan ook rotstekeninge besigtig naby die opstal op 'n begeleide toer - hier is Boesmantekeninge en meer onlangse gravure wat uit die Anglo-Boereoorlog dateer.

Jy móét eenvoudig die omvattende Fossielmuseum (hier is ook klipwerktuie) besoek - al hierdie fossiele is deur die Steynbergs op die plaas opgetel. Foto: Toast Coetzer
Jy móét eenvoudig die omvattende Fossielmuseum (hier is ook klipwerktuie) besoek - al hierdie fossiele is deur die Steynbergs op die plaas opgetel. Foto: Toast Coetzer

Hier is staproetes op die plaas wat wissel van 'n kort benerek oor 'n bult ná ontbyt tot 'n dag lange stap in 'n waterryke kloof langs.

Waar? Sowat 7km oos van Nieu-Bethesda

Koste Bed en ontbyt: R650p.p. wat deel, of R830p.p. wat deel in groter kamers. Kamp: R360p.n. vir 2 mense. Aandete: R210p.p. (tweegang) of R240p.p. (driegang), en middagete R120p.p.

Wat nog? Die Fossielmuseum-besoek-en-praatjie (aangebied deur JP): R70p.p., en die kort staptog na die rotstekeninge R110p.p. Ander ekskursies is ook beskikbaar.

Kontakganora.co.za | 0826980029 (Hester)

4. VRYSTAAT

Amanzi- private wildreservaat

Amanzi- private wildreservaat. Foto: Toast Coetzer
Amanzi- private wildreservaat. Foto: Toast Coetzer

Nee, die Vrystaat is nie net plat nie! Die Amanzi- private wildreservaat lê tussen olienhoutboombegroeide koppies naby Brandfort en gee jou 'n idee van hoe dié gebied moet gelyk het toe dit nog 'n ware wildernis was.

Op 'n wildrit sien jy diere soos waterbokke, buffels of kameelperde - in die kampplek (met krag, braaiplek en netjiese ablusiegeriewe), het 'n takbok (ja!) vroegdag vir my kom loer.

Amanzi- private wildreservaat. Foto: Toast Coetzer
Amanzi- private wildreservaat. Foto: Toast Coetzer

Hier is 'n verskeidenheid blyplek van gastekamers tot die meer luukse chalets op die koppie.

Ek het hier oornag op 'n lang reis van die Kaap na Gauteng (Brandfort is maklik bereikbaar vanaf die N1), maar Amanzi is eintlik 'n puik plek vir 'n naweek saam met jou gesin. Hier is ook onder meer 'n saal en boma indien jy 'n groot verjaardag met 'n span vriende wil kom vier.

Ek het 'n oggend in die restaurant uitgekolf (onder die wakende oog van 'n opgestopte kameelperd) met koffie en ontbyt (en gratis Wi-Fi). Die restaurant is oop vir dagbesoekers indien jy van Bloemfontein wil ry vir 'n bietjie rustigheid.

Amanzi- private wildreservaat. Foto: Toast Coetzer
Amanzi- private wildreservaat. Foto: Toast Coetzer

Van Maandag tot Donderdag is die restaurant oop van 7.30vm. tot 4.30nm. - Vrydae en Saterdae is dit oop totdat die laaste gaste huis toe gaan, en Sondae tot 2nm.

Waar? 12km noord van Brandfort langs die R703-grondpad

Koste Kamp: R170p.p. en R85 per kind onder 12. Gastekamers: vanaf R880p.n. vir twee mense. Kothuise: vanaf R1650p.n. vir tot drie mense. Groter gastehuise: vanaf R1850 p.n. vir tot 5 mense. Sien webwerf vir al die pryse.

Wat nog? Wildritte: R280p.p. (drie of meer mense), bergfietsry R170p.p., boogskiet R170p.p. en verfbal R220p.p. Die staproetes en swembad is gratis vir gaste.

Kontakamanzigame.co.za | 0836316538

5. GAUTENG

OuKlip Game Lodge

OuKlip Game Lodge. Foto: Toast Coetzer
OuKlip Game Lodge. Foto: Toast Coetzer

Vir Gautengers wat wildtuin-onttrekkingsimptome kry as hulle vir 'n maand nie 'n vlakvark gesien het nie, bied die Dinokeng-wildreservaat 'n uitkoms. Skaars 'n uur nadat jy by die huis weg is, kan jy hoor hoe proes 'n sebra - dalk sien jy selfs 'n breker uit die Groot Vyf-klub.

OuKlip Game Lodge. Foto: Toast Coetzer
OuKlip Game Lodge. Foto: Toast Coetzer

OuKlip Game Lodge het 14 luukse (vierster-) tenteenhede met slaapplek vir tot vier mense elk, asook 'n plaashuis vir groter groepe, tot agt mense.

Binne die omheinde gebied loop 'n paar wildsbokkies rond; dus hoef jy nie saans met 'n koue sweet op die voorkop wakker te lê en te wonder wie op 'n takkie buite jou tent getrap het nie - dis waarskynlik net 'n springbok wat in sy slaap wandel. Die gevaarlike goed bly buite die kamp.

OuKlip Game Lodge. Foto: Toast Coetzer
OuKlip Game Lodge. Foto: Toast Coetzer

Elke tent het 'n bomatjie waar jy kan braai, en jy kyk uit oor die veld voor jou - dalk kom steek 'n kameelperd vir jou tong uit. Die eenhede is toegerus vir selfsorg en jou kombuis (yskas, mikrogolf, plaatstofie, ensovoorts) is op die onderdakstoep.

Waar? Dinokeng is sowat 45km noord van Pretoria langs die N1 - sien die webwerf vir aanwysings van die hek tot by OuKlip.

Koste Safaritente: R850p.p. wat deel - R350 per kind jonger as 12. Plaashuis: R4500p.n. vir agt mense. LW Oor naweke moet jy vir twee aande bespreek. Hulle het soms spesiale aanbiedinge vir weeksaande, doen navraag.

Kontak ouklip.co.za | 0713135380

6. KWAZULU-NATAL

Dalmore Guest Farm

Dalmore Guest Farm. Foto: Toast Coetzer
Dalmore Guest Farm. Foto: Toast Coetzer

Dalmore lê in die driehoek tussen Bergville, Winterton en die Spioenkopdam-natuurreservaat. Jy kan hiervandaan maklik twee klassieke Drakensberg-bestemmings besoek - Cathedral Peak (60km) en die Koninklike Natalsedeel (60km) van die Maloti-Drakensbergpark is sowat 'n uur se ry wes van die gasteplaas.

Maar jy gaan waarskynlik sommer bloot by Dalmore wil skoene uitskop. Die grasperk en uitgestrekte tuin gaan jou dieper laat asemskep en weldra daai knoop in jou skouers loswiel.

Dalmore Guest Farm. Foto: Toast Coetzer
Dalmore Guest Farm. Foto: Toast Coetzer

Hier is 'n speelparkie vir die kinders en jy kan sommer op jou stoep sit en hulle dophou. Later kan jy 'n draai gaan stap - hier is dalk skape in 'n kampie naby die huis, en een van die werfhonde of -katte stap vir seker saam met jou. (Omdat hier heelwat troeteldiere is, mag jy ongelukkig nie jou eie saambring nie.)

Dalmore Guest Farm. Foto: Toast Coetzer
Dalmore Guest Farm. Foto: Toast Coetzer

Die kothuise en ander verblyf staan meestal apart van mekaar op die groot plaaswerf. Party het slaapplek vir tot agt mense, ander is weer meer privaat en slegs vir paartjies.

Waar? Sowat 15km noordoos van Bergville, en 20km noordwes van Winterton (jy draai af van die R74)

Koste Die meeste eenhede kos vanaf R730p.p. wat deel (selfsorg), en R880p.p. wat deel met ontbyt, of R1120p.p. wat deel met ontbyt én aandete. Hier is ook goedkoper rondawels vanaf R580p.p. (sonder etes). Kinders 13 jaar en jonger kry afslag (onder 4's bly verniet).

Wat nog? Jy kan in die plaasdam visvang - hier is karp, swartbaars en baber.

Kontak dalmoreguestfarm.co.za | 0823440159

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM