FOTO's Dirk Kok
Haak af en slaan jou tentpenne in by drie klein natuurkampplekke buite Bloemfontein.
Buite Bloemfontein is drie kampplekke waar jy weg van die stadsgedruis af kan kamp, maar steeds naby genoeg aan die Rosestad is vir uitstappies na plekke soos Naval Hill, die Vrouemonument, die Vrystaatse nasionale botaniese tuin, die Nasionale Museum en Tempe se Pantsermuseum. By twee van dié kampplekke hoor jy saans in jou kampbed die gebrul van leeus.
By die Tri-Hunt-wildslodge, tussen die stad en Brandfort, kan jy in 'n klein woonwapark of boskamp afhaak; die Zanchieta Wild Cat Farm buite die stad is 'n rehabilitasiesentrum vir leeus en ander groot en kleiner wilde katte - hier kamp jy in 'n netjiese klein woonwapark naby groot leeukampe; en waar die N1 bui- te die stad Noorde toe loop, kan jy buite die Riviera-gasteplaas jou tentpenne reg langs die Modderrivier inslaan.
Tri-Hunt-wildslodge
Hoor die leeus brul

Net meer as halfpad tussen Bloemfontein en Brandfort lê die Tri-Hunt-wildslodge met sy kampplek tussen die Suid-Vrystaatse koppies.
Die base van dié wildsplaas is Willie Maas en sy seun, ook Willie. Hulle boer hier naby met bonsmaras en Willie jr., 'n veldgids en wildsplaasbestuurder, hou die fort by Tri-Hunt.
Buiten vir die kameelperde en 'n stuk of 20 bokspesies in die veld, is hier hokke met enigiets van aapwesies en 'n vaalboskat tot rooikatte wat Willie met die hand grootmaak. Langs die lodge is 'n kamp met twee wit leeus, die 11 maande oue Kiara en haar 17 maande oue mannetjie, Koda. Willie het Kiara ook met die hand grootgemaak en teenoor hom is sy baie liefderik.
Dis egter goed 'n mens weet die twee leeus is agter 'n heining, want hulle brul snags só hard dat dit klink of hulle reg langs jou tent is.

Kies jou kamp
Jy het twee kampkeuses: 'n klein woonwapark by die gastelodge óf 'n bosstaanplek langs 'n dam. In die omheinde woonwapark is nie afgebakende staanplekke nie, maar plek vir tot 10 woonwaens tussen karee- en olienhoutbome.
Die kol by die enigste kragboks is 'n goeie keuse, want dan hoef jy nie 'n verlengkoord uit te rol nie, en jy het 'n lig en goggavanger teen 'n paal by jou staanplek. 'n Entjie verder staan 'n kraan waar jy boorgatwater kan tap en hier is losstaande staalbraaiers. Die eintlike kuier- en braaiplek is egter die grasdaklapa op 'n terras bo die kampplek.
Jy kan op 'n geplaveide kuierkol onder koeltebome vuur in 'n vuurput maak of jy kan jou tjops en wors onder die grasdak by 'n ingeboude braaiplek braai. Aan die een kant van dié braaiplek is opwasplek en aan die ander kant 'n werktoonbank.
Reg langs die lapa is 'n swembad en 'n klimraam met swaaie. Jy stort en borsel jou tande ook langs die lapa. Die twee aparte badkamers vir mans en vroue is netjies, met pakplek en hangplek en sitplek om jou veters vas te maak.
Oorkant die kampplek is 'n dam waar die wildsbokke kom suip.
'n Kilometer of wat van die woonwapark af is 'n bos-oornagplek met ou Spoorweg-veselglashuisies en 'n ou dubbeldekkerbus wat as 'n kombuis en kuierplek ingerig is. Dit is langs 'n dam met 'n ryke voëllewe.
Jy kan jou boswa hier kom trek en die buskombuis - met 'n tweeplaatstoof, mikrogolfoond en yskas - gebruik. In die kombuis het jy krag, maar nie op jou staanplek nie. Hier is daklose kouewaterstorte en spoeltoilette agter houtpaalmuurtjies.
Ry saam met Willie
Jy mag op die gruispaaie stap of jou bergfiets trap, maar word nie toegelaat om met jou eie voertuig op die plaas rond te ry nie.
As jy die elande, gemsbokke, kameelperde en ander diere op die plaas wil sien, kan jy vroegoggend of laatmiddag op 'n wildbesigtigingstoer gaan (R60 p.p. vir meer as vier mense en duurder vir kleiner groepe.)\
Dís hoe jy ry
Van Bloemfontein af:
- Ry met die N1en R30-tolpad van Bloemfontein na Brandfort vir sowat 30 km tot by die tolhek (R38,50).
- Ry ná die tolhek nog 4 km met die R30 en draai dan regs af by die Tri-Hunt-bordjie.
- Volg die grondpad vir 1,3 km tot by die kampplek se hek aan jou regterkant.
- Volg die plaasgrondpad van die hek af vir 300 m tot by die lodge en kampplek.
- GPS: S28.861508 E26.368692
WegSleep sê: Hier is hout en ys te koop.
Riviera gasteplaas
Oppie oewer
Sowat 20 km buite Bloemfontein, net voor die brug waar die N1 na die noorde oor die Modderrivier loop, kan jy langs die snelweg en die rivier afhaak en kamp opslaan.
Die eienaars, Jacques en Louisann Herselman, het 'n konstruksiemaatskappy wat spesialiseer in groen energie soos wind- en sonplase en kragbesparende LED-beligting. Hulle het die Riviera-kampplek in 2014 hier begin, en sedertdien het hulle ook die groot stuk grond reg langs hulle gasteplaas en die N1 by die Nasionale Padagentskap (Sanral) gekoop. Hier, tussen die soetdoring-, witstinkhout-, karee- en seringbome ontwikkel hulle nou 'n 4x4-roete en private bosstaanplekke langs die rivieroewer.

Maak jou keuse
Riviera se kampplek bestaan uit 'n netjiese klein woonwapark reg langs 'n ablusieblok en nog 'n klompie staanplekke nader aan die rivieroewer. Jy kan uit 17 staanplekke kies, almal met krag en die meeste van hulle met braaiplek. Reg langs die ablusieblok is ses groot grasstaanplekke langs mekaar, elkeen met sy eie klein vuurkring, 'n wielvellingbraaier en rooster én 'n heuphoogte skottelskaarbraaier op 'n paal. Jy het ook 'n kragboks (driepunt) en ligpaal asook 'n kraan op jou staanplek. Hier is baie speelplek vir die kinders, en tussen dié staanplekke is 'n klein klimraam.
Aan die ander kant van die ablusieblok is 'n klein en dieperige opslaanswembad en 'n houtbankie waar jy agteroor kan sit terwyl die kinders in die water baljaar.
In dié deel van die kampplek is nog nie koelte nie. Die vaderlandswilge wat Jacques en Louisann by die staanplekke geplant het, is nog klein. Aan die oorkant van die pad is drie kleiner staanplekke met meer koelte - twee van hulle met 'n permanente braaier.
Die rivieroewer is omtrent 200 m van hier af en die res van die staanplekke lê weerskante van die pad. Op 'n terras bo die rivieroewer is 'n gawe grasstaanplek met 'n groot geboude baksteenbraaiplek, baie koelte en lekker kuierplek.
Reg langs die oewer, waar jy kan lyn ingooi vir baber, karp of grootbekgeelvis, is twee groot grondstaanplekke met geboude braaiers onder enorme vaderlandswilge.
Bring jou verlengkoord van so 20 m saam, want hier moet jy krag aanlê van 'n kragpunt wat 'n ent van die water af staan.

Alles wat jy wil hê
In die bruinbaksteen-ablusieblok met sy leiklipstoep is twee groot gesinsbadkamers wat silwerskoon gehou word. Die een badkamer het 'n enkelstort en die ander een twee groot storte, almal met gordyne.
Elke badkamer het ook twee toilette, 'n wasbak met 'n spieël en baie pak- en hangplek plus sitplek. Buite die badkamers is 'n onderdakopwasplek met twee wasbakke en werkplek, en tussen die twee badkamers is 'n kombuis met baie werkruimte waar jy jou ketel of elektriese braaipan kan inprop en ook skottelgoed kan was.
As jy by Riviera kamp, hoef jy nie stad toe te ry vir inkopies as jy nie lus is nie. Jacques en Louisann is van daardie kampplekeienaars wat soggens kom hoor of jy lekker geslaap het en of alles nog reg is - én of hulle dalk vir jou iets uit die stad uit kan saambring.
Jy kan by hulle enigiets van ys, mieliemeel, melk, en suiker tot lekker bevrore wors koop. En jy hoef ook nie hout saam te bring nie; hulle lewer elke dag vir jou gratis braaihout by jou staanplek af.
Dís hoe jy ry
Van Bloemfontein af:
- Ry met die Raymond Mhlabasirkel in Bloemfontein langs tot op die N1 en ry 19 km tot by die Glen-afrit.
- Draai links af van die N1 en ry 150 m tot by die Riviera-bord.
- Draai skerp regs en volg die grondpad vir 200 m tot by die hek. Van die hek af is dit nog so 300 m tot by die kampplek.
- GPS: S28.961335 E26.352160
WegSleep sê: Jy kry jou eie heksleutel, en dagbesoekers word nie toegelaat nie. Jou vriende en familie mag wel vir jou kom kuier en by jou kom braai (R30 p.p.).
Zanchieta wild cat farm
Brul!

As jy die R64 van Bloemfontein af na Dealesville vat, ry jy in die Suid-Vrystaatse vlaktes tussen die goudgeel sonneblomlande en tussen veeplase met windpompe en betondamme.
Die Zanchieta Wild Cat Farm lê sowat 20 km uit die stad uit langs dié pad. Die eienaar, Lizette van Schalkwyk, het sewe jaar gelede twee wees rooikatjies, Zani and Ghieta, grootgemaak en toe besluit om 'n veilige hawe en rehabilitasiesentrum vir groot en klein wilde katte begin. Sy het die sentrum en 'n gastelodge gebou en Zanchieta het 'n kampplek ook gekry. Deesdae rehabiliteer en versorg Lizette, haar personeel en buitelandse vrywilligers van wees en siek wit leeus, leeus, meerkatte, ape, vosse, tierboskatte, jakkalse en 'n aardwolf hier.
Die nommerplaat van Zanchieta se een minibus is ROARRR FS en spel duidelik uit wie baas is op hierdie plaas.

Kampplek toe
Hier is 12 groot staanplekke in 'n ry langs mekaar in 'n lang laning van groot dennebome aan die een kant en witstinkhoute aan die ander kant.
Jy kamp hier op 'n groot, goed versorgde grasstaanplek tussen die bome. Tussen die staanplekke is ses geboude dubbelbraaiplekke met werk- en pakplek en roosters. Die een kant van die braaiplek is joune en die ander kant jou buurman s'n. Die braaiplekmuurtjie is so kophoogte en as jy braai, hoef jy nie jou buurman in die oë te kyk as hy en jy gelyktydig braai nie.
Elke braaiplek het 'n lamppaal, kraan en kragboks met 'n driepuntsok vir jou en een vir jou buurman.
Aan die onderpunt van die kampplek is 'n klein ablusieblok met aparte badkamers vir mans en vroue en twee kouewateropwasbakke buite.
Die badkamers is basies met warm storte, toilette en 'n klein wasbak met net koue water. In die vrouebadkamer is ook 'n badhokkie met 'n wasbak.
Dís hoe jy ry
Van Bloemfontein af:
- Ry van die Du Plessislaan-kruising in die stad af 16,9 km met die R64 in die rigting van Dealesville.
- Draai links af van die R64 en volg die grondpad vir 2 km.
- Draai regs af by die Zanchieta-bord en ry nog 1,6 km grondpad tot by die lodge en kampplek.
- GPS: S28.974844 E26.031997














