

Wat het jy régtig nodig vir die Vis? Elke ou gaan anders wil pak, maar onthou dat jy als - kos, klere, slaapgoed - moet dra. Pak dus so min as moontlik - jou knieë sal jou na die tyd bedank... Die meeste dinge op ons toerustinglys is by Cape Union Mart gekoop.
1. Rugsak
Jou rugsakkeuse is een van die belangrikste besluite vir 'n Visrivierstaptog. Vir vyf dae oor 'n ongenaakbare terrein kan jou rugsak jou grootste vriend of vyand wees. Alles wat jy nodig het om in die wildernis te oorleef, dra jy vir byna 90 km op jou rug. Enige grootte tussen 65-80 liter behoort voldoende te wees. Onthou, 'n volgepakte rugsak moet verkieslik nie meer as 'n kwart van jou liggaamsgewig weeg nie. Maak voor die staptog seker dat die rugsak gemaklik sit en jou nie skaaf nie. Pak die kompartemente oordeelkundig, sodat belangrike items maklik binne jou bereik is. Dit help om jou slaapsak heel onder in te pak, en dan jou klere en kos bo-op. Pak elke dag se kos in 'n aparte Ziplocsakkie, asook jou toiletware. Die in- en uitpak van jou sak op die staptog voel aanvanklik soos 'n beslommernis, maar word 'n betekenisvolle ritueel. Dit raak gou tweede natuur.
2. Hoed
'n Stewige breërandhoed is 'n moet, want die son is kwaai in die canyon. Party stappers verkies eerder 'n buff en sonbril.
3. Waterbottel
Dra twee waterbottels saam en sorg dat altyd jy ten minste 2 liter by jou het. Maak een bottel soggens vol met Game. Jy kan die rivierwater drink, maar gebruik suiweringspilletjies vir veiligheid.
4. Hemp
Vat net een staphemp - was dit in die rivier, en sondroog. 'n Langmoukraaghemp bied die beste beskerming.
5. Kamera
Bêre 'n kleintjie in jou hempsak.
6. Stapbroek
Vermy skaaf en dra tights onder jou kortbroek. Pak een broek en 'n swembroek.
7. Stapstok
Noodsaaklik vir die rowwe terrein - neem verkieslik twee.
8. Kouse
Dra dun kouse onder en dik bo-oor - dit help vir blase.
9. Stewels
Veldloopskoene kan werk, maar belê in behoorlike stapstewels wat jy al ingestap het.

Nagte in die canyon kan erg koud raak. Maak seker jy slaap warm. Jy hoef nie 'n kampmatrassie of kussing in te pak nie, maar elke stapper se voorkeure verskil. Onthou, jy moet áls saamdra!
1. Kopliggie
Die sterre skyn helder bo die canyon, maar 'n kopliggie is onmisbaar in die aand, veral as jy braai of iets in jou sak soek.
2. Mus
'n Pluisstofmus hou jou kop en ore warm, ook wanneer jy slaap.
3. Oorpluisies
Nagklanke is mooi; snork nie.
4. Pluisstofbaadjie
Die nagte is nie grappies in die canyon nie. Staal jouself teen die koue met termiese onderklere (langbroek en langmouhemp) en 'n pluisstofbaadjie. Pak nog 'n trui in as jy plek het.
5. Slaapsak
Ná 'n lang dag se stap wil jy net jou moeë lyf neerlê en lekker warm slaap. 'n Slaapsak met 'n kappie hou ook jou kop en nek goed warm.
6. Grondseil
'n Basiese grondseil hou jou slaapsak skoon.
7. Pluisstofbroek
'n Pluisstofbroek - hierdie een is amper soos 'n sweetpakbroek - is gemaklik en warm.
8. Ekstra skoene
As die rivier nie te vol is nie, het jy nie waterskoene nodig nie. Hierdie skoene is gemaklik saans. Crocs of plakkies werk ook.

Probeer om al jou toiletware in een groot Ziploc-sakkie te bêre. Hier is ons lys: tandeborsel en tandepasta, pleisters vir blase, Tabard, Vaseline vir skaaf, sonbrandroom, Blistexlipsalf, Dettol-wipes en herwinbare seep-ensjampoe. Onthou 'n swart sak vir vullis en 'n rol toiletpapier. Moenie toiletpapier of Wet Wipes begrawe nie - verbrand dit of dra dit saam.

In die canyon is die beste plan vroeg opstaan, opruim, ontbyt eet en begin stap. Die meeste van die kos op ons paklys is by Pick n Pay verkrygbaar.
1. Oatso Easy
Kitshawermout proe pure koningskos in die canyon.
2. Koffiefilterhouer
Gebruik hierdie houer saam met 1x2-filterpapier.
3. Koffie
Pak filterkoffie of kitskoffie. Café Enrista se 3-in-1-kitskoffie bevat klaar suiker en poeiermelk.
4. Snacker
'n Snacker sit skop in jou stap.

Pak 'n Ziploc-sakkie vir elke dag se middagete.
1. John West-tuna
Kompak, geurig en heerlik.
2. Knorr Cup a Snack
Kookwater-kitsnoedels.
3. Pro-Vita
Vir tuna en kasies.
4. Kasies
Laughing Cow bly bobaas!

Aandete in die canyon is 'n belangrike tyd: Ná 'n lang dag se stap sit almal saam om 'n vuur, lig 'n beker op die lewe en die natuurskoon terwyl die kos gaar word. Eet jou swaar goed eerste om jou sak ligter te maak. Jy kan kartonnetjies langlewemelk saamdra, of poeiermelk maak (vir pasta en Smash).
1. Braaivleis
Koop 'n vakuumverpakte steak; en eet dit op die eerste aand.
2. Back Country-ete
Gooi kookwater by en siedaar: lig, lekker en gesonde kitskos.
3. Smash
Voeg net melk en water by vir klassieke kapokaartappels.
4. Werda-drieboneslaai
Drieboneslaai is 'n bobaas bykos vir vleis of pasta.
5. Pasta-en-sous
Die pakkies is lig en is blitsig jou aandete.
Terwyl jy stap:
Trail Mix
Dié vrugtestukkies is tops.
Biltong
Dié soutstaatmaker.
Enerjelly Babies
'n Energie-inspuiting in jou kies.
Game
Koeldrank vir jou kuite.

Spork
Jou alles-in-een eetgerei.
Vuurhoutjies
Vir kampvuurmaak en om toiletpapier te brand.
Leatherman
'n Knipmes sal werk, maar belê in 'n veeldoelige Leatherman.
Gasstofie en -pot
Twee stappers kan 'n stofie deel en die paklas ligter maak - dis voldoende vir kosmaak en water kook. Onthou ook om 'n ekstra gasbotteltjie in te pak.

Hoe werk dit?
Die roete is slegs oop van 1 Mei tot 15 September. Die somermaande is te warm. Indien daar te min drinkwater in die rivier is, word dit gesluit vir die jaar. Die meeste mense voltooi die roete van byna 90 km oor 5 dae. Tussen 3 en 30 mense (12 jaar en ouer) kan op 'n slag stap. Bespreek ten minste 'n jaar vooruit, hoewel jy ook by 'n groep kan aansluit as daar 'n kansellasie is.
Papierwerk
Paspoort (nog geldig vir ses maande), plus 'n mediese sertifikaat wat jou dokter vooraf moet invul, en 'n vorm waarin jy verklaar dat jy die natuur sal respekteer. Kry albei hierdie dokumente wanneer jy vir die staptog bespreek.
Fiksheid
As jy stapfiks is, sal jy die ervaring meer geniet.
Waar los ek my kar?
Ons het die aand vooraf by Ai-Ais (die eindpunt) oornag en die volgende oggend met die parkbussie na Hobas gery.Dan is jou kar klaar by die eindpunt.
Nie lus vir stap nie?
Jy kan steeds die canyon beleef al sien jy nie kans vir voetslaan nie. Jy kan soos ander toeriste die Hobasuitkykpunt as dagbesoeker besoek. Gaan teen sonop vir mooi foto's.
Die slenterstap-opsie
Verder noord in die canyon kan jy die Canyon Mule-staptog aanpak met 'n gids, 'n kok én muile wat jou sakke dra. Daarby oornag jy in luukse tente. Die roete is oop van 15 April-15 September.














