Dominic Chabon, oftewel The Fynbos Guy, gee raad oor die roetes op Tafelberg waarop jy dié mooi nooi kan sien.
Die maklike roete: Jy gaan moet stap om dié orgideë te sien - hulle groei in die hoë dele van Tafelberg langs strome en vleilande. Die maklikste roete is om met die sementpad van Constantianek af tot bo op die berg te stap, verby die Overseer's Cottage en regs te hou op die Smuts Track-enkelspoorpaadjie. Stap verby die Nursery- en Skeleton-ravyn tot by Window Stream in die Window-ravyn waar daar gewoonlik baie te sien is. Jy kan dan terugloop in jou spoor of voortstap met die Smuts Track na Maclear's Beacon en die sweefspoor.
Die moelik(er) roete: Stap van Kampsbaai af op met Kasteelpoortroete (parkeer in Theresalaan). Daar staan gewoonlik 'n paar in die stroompie in die laaste deel van die kloof. Of stap van die Kirstenbosch- botaniese tuin af op met Skeleton-ravyn - 'n paar disas staan gewoonlik aan die bopunt van die roete - en weer af met die veiliger Nursery-ravyn. Albei is halfdagroetes.
Kontak: Dominic by 072 992 5636 of gaan na thefynbosguy.com.
Harold Porter- botaniese tuin
Volg die Disa-roete (sowat 'n uur uit en tuis) tot by die waterval. Die roete is so genoem omdat die rooidisas groei teen die hange aan die westekant van die Disarivier - hou dus jou oë oop.
Jy kan ook die rooidisa sien op die Luiperdskloofroete. Jy moet by ontvangs 'n permit en sleutel kry om die roete te stap. Jy kry die sleutel voor 1 nm. en jy moet teen 4 nm. teruggee.
Koste R30 p.p. Gratis vir kinders jonger as 6 jaar.
Oop Maandag-Vrydag van 8 vm.-4.30 nm. en tot 5 nm. op naweke en vakansiedae.
Kontak 028 272 9311; sanbi.org












