Reis

Sout van die kus

Fotos' Leon Botha

By die Salt Rock-woonwapark spel jy vakansie met drie S'e: see, sand en strand.

Die Salt Rock-woonwapark is naby aan Ballito in Kwazulu-Natal. Die pryse van kampeerplek is 'n fraksie van die koste wat jy vir vakansieverblyf in die omgewing sal betaal.Dié oord is net 4 km se ry van die Dolphin-oord (lees hier) af, en met die palms wat ingeryg staan, voel dit of jy Mosambiek binnery. Volgens 'n geraamde pamflet in die kantoor is Salt Rock egter die Kalifornië van Suid-Afrika.

Die oord lê teen die strand by 'n indrukwekkende geboude getypoel tussen die rotse. Salt Rock kry sy naam van dié rotse af. Die diensmaagde van koning Shaka, stigter van die Zoeloe-nasie, het hier by die rotspoele sout bymekaar gemaak en só het Salt Rock sy naam gekry.

Welkom in die onderdorp...

Die onderste staanplekke langs die strand is duidelik gemerk met nuutgeverfde nommers op die sypaadjie asook 'n nommer op die vullisdrom. Van die nommers het selfs 'n pyl langsaan wat in die rigting van die staanplek wys.

Hier is nie veel skeiding tussen jou en die bure nie en jy deel 'n kraan met hulle. Bring ook jou eie braaier saam, want hier is nie braaiers op die staanplekke nie.

Op jou staanplek is fyn gras waarop jy jou wa trek, en langsaan is 'n reghoekige blok wat met sintetiese groen materiaal oorgetrek is. Dié blok is nie al gerief nie: Op die grond waar jy jou wa staanmaak, is drie betonblokke, vir jou wa se wiele en neuswiel. Danksy dié blokke hoef jy nie met 'n waterpas te sukkel nie. As jy die wa op hulle getrek het, staan hy gelyk. In die dertig jaar dat ek al kamp, is dit die eerste keer wat ek dit sien en dit verdien bonuspunte.

Na die see se kant toe word die palmbome minder en hier kom die son jou by. Weg van die strand af, nader aan die kantoor, is skaflike koelte as jy nie heeldag in die son wil bak nie.

Die badkamers vir die onderste kampeerders is direk agter die koeltestaanplekke. Dit het nuwerwetse marmerblaaie met keramiekwasbakke, maar dit lyk of die beplanning van die storthokkies nie heeltemal reg uitgewerk het nie. Die witborddeure van al die hokkies is te groot vir die raam en maak nie heeltemal toe nie. Oor die gerief agter die deur kan 'n mens egter nie kla nie: Jy het 'n bankie en die stort is agter 'n glasdeur.

Langs die badkamer is 'n waskamer met wasmasjiene en tuimeldroërs vir jou vakansieklere en swemhanddoeke, plus opwasplek vir jou skottelgoed. Die masjiene werk met R10-ruilmunte wat jy by die kantoor koop. Agter die waskamers is 'n dreineerpunt vir jou kassettoilet.

... en die bodorp!

Die boonste staanplekke is in 'n ruie tuin, maar hier is darem plek waar die son lekker deurkom en waar jy jou swemklere in dié klam wêreld kan droog kry.

Van die staanplekke het geen skeiding tussenin nie en ander word deur struike geskei. Bring maar jou seilmuur saam as jy privaatheid op jou staanplek soek. Op hierdie staanplekke is nie betonblokke vir jou wa se wiele soos op die onderste staanplekke nie.

Dié staanplekke is net soos die onderstes genommer en jy het 'n blou woonwakragpunt en vullisdrom. Jy deel 'n kraan met jou buurman.

In dié deel van die woonwapark is twee ablusieblokke. Die een die naaste aan die kantoor het egter beter dae geken. Van die mosaïekteëlwerk by die wasbakke kom los en die badkamers lyk afgeleef. En die storthokkie is oop met net 'n stortgordyn voor. Die skottelgoedplek agter die ablusieblok kort ook ernstig aandag.

Die ander badkamers lyk nuwer en netjieser. Hier is ook 'n marmerblad by die wasbakke en die tamaaigroot storthokkie het 'n skuifdeur. As jy nie voor die res van die mense wil aantrek nie, moet jy dit in die nat hokkie doen, want hier is nie 'n droë deel in die hokkie nie.

In dié ablusieblok is ook badkamergeriewe vir gestremdes.

Seebad

Dié woonwapark het nie 'n swembad nie, maar met die bielie van 'n getypoel is dit ook nie nodig nie. Die poel is 85 m lank en dus langer as 'n Olimpiese swembad - dit strek oor die hele breedte van die oord. Dis nie vierkantig of reghoekig soos baie ander getypoele nie, maar in 'n Y-vorm met 'n gekromde onderpunt gebou.

Van die kampplek af strek 'n betonmuurtjie van 20 m oor die sand tot by die poel en jy stap daarlangs tot by die water. Dié poel is gewild onder oud en jonk: Kinders plas met hulle vlerkies in die water, ouer mense dryf rustig en salig in die water, en skraal tienermeisies bak soos dassies op die rotsbank in die son - en 'n rooigebrande man swem lengtes soos in 'n gimnasiumswembad.

Op die verste punt van die poel is 'n geboude uitkykpunt wat soos die hoektoring van 'n kasteel lyk en omtrent 'n verdieping hoog staan. Hengelaars gebruik dié punt se hoogte om hulle aas ver te gooi. Hier is baie swartstert (ook bekend as dassies) van ongeveer voorarmlengte in die water, en sardyn is 'n gewilde aas.

Dís hoe jy ry

• Draai net noord van Ballito van die N2 af in Salt Rock-straat.

• Draai ná 3,3 km regs in Hotelweg. Die hek is 160 m verder voor jou.

GPS: S29.504569 E31.236788

Kortliks

Kampplek: 101 staanplekke in 2 kampe; 34 is naby die strand, 6 teenaan die strand en 61 is verder van die strand af en meer beskut.

Ablusiegeriewe: 3 skoon ablusieblokke waarvan die een aandag kort.

Prys: Vanaf R275 per staanplek vir die eerste 2 mense plus R70 vir elke bykomende mens tot R825 en R95 ekstra per bykomende mens, afhangend van die seisoen (kinders bo 6 jaar betaal volprys). Maksimum 6 mense per staanplek.

Aankoms- en vertrektyd: 11 vm. en 10 vm.

Kontak: * 032 525 5025; * hotel@saltrockbeach.co.za; * saltrockbeach.co.za

Hoe ver van Durban af? 56 km.

Hoe lyk die pad? Heelpad teer.

Wegsleep sê: Jy kan 'n braaier huur teen R20 p.d. plus 'n deposito van R200.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM