Reis

Span uit naby Rosendal

Jy wil groot kuier vir jou 40ste, maar jy wil nie noodwendig op een groot krismisbed slaap saam met die familie nie? Kom hou jou partytjienaweek by die Mosamane-lodge - hier's plek vir 24 mense in vyf kamers en 'n backpackersaal.

Goed, die slaapplek is afgehandel, waar kuier ons? Hier is binne- en buitebraaiplekke en 'n groot stoep waar julle kan kaartspeel in die dag, skemerkelkies klink en tot laatnag kan kuier.

Mosamane is net sowat 8 km van Rosendal af, maar julle kon netsowel op Jupiter gewees het. Die lodge is omring deur hoë sandsteenkranse en 'n groot populierbos.

Wat kan ek nog doen? Gaan stap een van die twee staproetes (5 km en 9 km) al langs die massiewe sandsteenkranse en bo-op die plato's met mooi uitsigte. Die paadjies is goed gemerk en kronkel, klim en daal deur bosse, dongas, sandsteenskeure en grotte.

As jy eerder wil trap as stap, pak die 16 km lange bergfietsroete. Dit volg dowwe tweespoorpadjies oor rante en deur die veld en verby beeste, melkbokke en duikers.

Of jy kan reël dat een van die plaas se perde vir jou opgesaal word - dit kos R150 per uur.

Waar bly ek? Hier is drie dubbelkamers en twee gesinskamers met plek vir vyf en ses persone - almal en suite en met 'n kaggel.

Hier is drie kombuise en julle deel 'n leefvertrek. Die kombuise sowel as die braaiplek op die stoep is goed toegerus en hier is genoeg braaitange, borde, glase en eetgerei. Hier is ook 'n ordentlike gasstoof sou jy 'n aartappelgereg wou maak.

Gasgeisers en sonpanele gee krag aan die huis, dus is haardroërs uit.

Die backpackersaal is agter die lodge, maar deel van dieselfde gebou, met 'n eie badkamer. Backpackers gebruik dus die lodge se kombuise. Indien jy die hele lodge bespreek, sal die eienaars nie gaste in die backpackers laat bly nie.

Hoe kom ek daar? Dis sowat 8 km suid van Rosendal. Jy draai van die R70 af - hier is 'n bordjie. Die pad is rybaar met enige voertuig.

Koste R380 p.p.p.n. of R600 p.p.p.n. wat deel. 'n Gesinskamer vir ses mense: R1450 p.n.; die hele lodge: R3300 p.n. Die hele lodge en backpackers: R3800 p.n. Backpackers: R160 p.p.p.n.

Kontak *082 901 8799 (Henriette)

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM