Reis

Tem die Bobbejaanspas!

Foto's Kyle Kock

Dit sal ook sý eerste keer oor die Bobbejaanspas wees, erken Riaan Kotzee agter die stuur van sy Toyota Hilux 2.4-dubbelkajuit-dieselbakkie terwyl ons op pad is na die bergkoninkryk vir 'n paar dae se grondpadplesier.

Ons ry in 'n konvooi met twee ander bakkies. Ons bestemming is die Bobbejaanspas, en die doel is om te kyk of dit 'n geskikte uitdaging sal wees vir klante wat pas 'n Toyota-bakkie of -sportnutsvoertuig gekoop het.

VINNIG EN MAKLIK. Die grenskruising by die Pekabrug het vinnig en sonder moeite verloop. Die voertuie is deurgesoek vir enige onwettig goedere en die paspoorte gestempel. As jy van enige van Suid-Afrika se groot stede na Ramabanta-lodge wil reis, moet jy jou regmaak om 'n hele dag op die pad deur te bring. Dis egter die moeite werd, want van hier af kan jy die Bobbejaanspas teen die berg sien.
VINNIG EN MAKLIK. Die grenskruising by die Pekabrug het vinnig en sonder moeite verloop. Die voertuie is deurgesoek vir enige onwettig goedere en die paspoorte gestempel. As jy van enige van Suid-Afrika se groot stede na Ramabanta-lodge wil reis, moet jy jou regmaak om 'n hele dag op die pad deur te bring. Dis egter die moeite werd, want van hier af kan jy die Bobbejaanspas teen die berg sien.

Die proses by die Pekabrug-grenspos verloop vlot en ons vat die pad suidwaarts deur die dorp Roma. Ons kies koers na die Ramabanta-handelspos, 'n lodge wat 'n uitstekende wegspringpunt is vir diegene wat die uitdagende bergpas wil aandurf of net die omgewing se perdry- en wandelroetes wil verken. Ons plan is om voor sononder daar te wees. 'n Groep van Halfway Toyota se takke in Scottburgh en Shelly Beach, KwaZulu-Natal, sluit hulle daar by ons aan.

Die blote gedagte om 21 km met die taaiste bergpas in Afrika te ry is effens intimiderend. 'n Vinnige kykie op YouTube laat 'n mens beslis nie beter voel oor die saak nie - 'n hele klomp pogings het al in trane geëindig. Die kans dat 'n mens gaan misluk, is goed, veral as die weer sleg is. Ons maak ons reg vir twee dae se sukkel.

RAMABANTA-HANDELSPOS

Ons bereik die Ramabanta-handelspos kort ná 4 nm. en ontmoet die ouens van KwaZulu-Natal. Ons is nou altesame ses voertuie wat saam die pas gaan aandurf: vier Hilux'e, 'n Land Cruiser 76 en 'n Jeep Wrangler, 'n 2002-model.

Van ons staanplek af hier aan die voet van die berg kan ons die Bobbejaanspas in die verte sien. Dit begin 'n paar kilometer van Ramabanta af teen die steiltes uitkronkel. Dis 'n ongenaakbare roete, een van Afrika se taaistes.

Die ouens is egter optimisties. Die laaste keer toe hulle hier was, omtrent 'n jaar tevore, het dit gesneeu, en ná 'n week se wag moes hulle tou opgooi en stert tussen die bene terugkeer huis toe.

Vandag is dit koud, maar daar's darem geen sneeu en ys in sig nie. Die wit berge sou mooi gelyk het, maar dit sou slegte nuus gewees het vir ons ekspedisie.

Dit word vinnig donker - ons het laat aangekom. Gelukkig volg die manne die goue reël van kamp en slaan almal dadelik tent op en rol die matrasse uit. Ons kry ook streng opdrag van Gerald O'Brien, toerkaptein van die ekspedisie en die mees ervare veldryer in die groep, dat ons nié aan die kuier mag raak nie. As jy die volgende oggend wingerdgriep het, kan jy uit die groep geskop word.

Foutlose geriewe

Ramabanta lyk soos 'n ski-oord in die Alpe. As jy nie kans sien om in 'n tent te oornag nie, is daar ook houthutte en chalets. Dis die einde van die winter en die Ramabanta-waterval is nog gevries - hier hoog in die berge word dit saans snerpend koud. 'n Slaapsak is dus nie genoeg om die koue uit te hou nie. As jy nie wil verkluim nie, moet jy goed voorbereid wees.

Omdat die lodge daarop fokus om gaste te ontvang wat onderdak slaap, het die meeste van die hutte hulle eie badkamer met 'n warm stort. Diegene wat in die chalets en in tente oornag, gebruik die ablusiegeriewe. Dié is 30-40 m weg van die terras waarop ons uitspan en 'n eenvoudige struktuur.

BLAASKANS. Die Ramabanta- handelspos is ook 'n russtop vir die bekende Roof of Africamotorfietsren. Teen die einde van die winter is hier nie veel lewe nie, met die uitsondering van ons konvooi wat Bobbejaanspas toe mik en 'n groep motorfietsryers wat besig is om vir vanjaar se Roof of Africa voor te berei.
BLAASKANS. Die Ramabanta- handelspos is ook 'n russtop vir die bekende Roof of Africamotorfietsren. Teen die einde van die winter is hier nie veel lewe nie, met die uitsondering van ons konvooi wat Bobbejaanspas toe mik en 'n groep motorfietsryers wat besig is om vir vanjaar se Roof of Africa voor te berei.

Die deur na die mansgeriewe lei na 'n betontafel waarop jy jou klere en toiletware kan uitpak. Daar is storte en toilette aan weerskante van die gebou en 'n sinkwasbak met 'n spieël aan die bo- en onderpunt. Vreemd genoeg is die skottelgoedwasbakke nie by die ablusiegeriewe nie; hulle lê nader aan die kamp- plekke. Hier is dubbelwasbakke vir skottelgoed en dieper wasbakke waarin jy jou klere kan was.

Die geriewe is netjies. Die gras is kort, en hoewel dit in die wintermaande nie groen is nie, word dit steeds mooi netjies gehou. Oral staan rusbanke wat gemaak is van ou baddens, hout en klip. Die restaurant het sitplek buite op 'n houtdek waar jy oor die vallei kan uitkyk. In die noordelike helfte van die lodge se terrein is 'n speelplek vir kinders - hier is 'n klimraam, drie swaaie, 'n klimtou, buitebande en 'n houtdek.

Oral is braaiplekke. Sommige is plat en rond, sodat jy sommer so uit jou kampstoel kan braai, terwyl ander meer soos tafels lyk waarlangs jy moet staan om jou rooster om te draai. Hier is ook twee aparte braaiplekke onder 'n afdak langs die wasbakke. Onder dié afdak is 'n werkoppervlak waar jy in gure weer kan kosmaak en drankies skink.

Markeer die pas

Die span is teen eerste lig uit die vere en ons skop af met 'n lekker ontbyt. Ons vergader tien minute voor ons beplande vertrek sodat Gerald die program vir die dag kan bespreek. Omdat hy die mees bekwame viertrek in die groep bestuur - die Land Cruiser 76 - gaan hy voor ry. Ons ry saam met hom, ten minste vir die eerste been van ons toer.

Die ouens van KwaZulu-Natal het die eerste deel van die pas op hulle GPS'e uitgelê. Dis belangrik, want daar is geen padaanwysing wat beduie hoe om by die voet van die pas te kom nie. Op pad kom ons op 'n groot groep stappers af wat blykbaar ook onderweg is na die pas. Almal dra rugsakke en dit lyk of hulle gereed is om iewers in die berg te oornag.

Die konvooi trek kort voor die roete se amptelike beginpunt af vir 'n laaste paar voorbereidings. Van hier af lyk die pas amper onheilspellend. 'n Harde suisgeluid weergalm deur die oggendlug: Dis die klank van ses stelle bande wat op een slag afgeblaas word tot 1,5 bar.

Teen 9 vm., 'n uur ná ons vertrek, het ons al 3,5 km afgelê. Tot dusver was dit taamlik maklik. Die enigste tye wanneer ons moet stop, is wanneer ons aftrek om aankomende verkeer in die vorm van pakdonkies te laat verbykom. Die donkies word gewoonlik vergesel deur 'n herder of gids wat proviand van een nedersetting na die volgende dra.

sTadig oor die klippe. 'n Mens moet hier in jou spoor trap, want een verkeerde besluit kan katastrofiese gevolge hê. Op plekke moet jy die pad self met klippe en rotse bou, anders gaan jy nie verder kan ry nie. Hier is ook dele waar iemand gaan moet uitklim om vir jou die lyn te wys.
sTadig oor die klippe. 'n Mens moet hier in jou spoor trap, want een verkeerde besluit kan katastrofiese gevolge hê. Op plekke moet jy die pad self met klippe en rotse bou, anders gaan jy nie verder kan ry nie. Hier is ook dele waar iemand gaan moet uitklim om vir jou die lyn te wys.

Ons vorder goed in die eerste twee uur. Riaan se GPS wys ons is al verby twee hindernisse waar ons veronderstel was om klippe te pak om die pad begaanbaar te maak. Iemand moet die herstelwerk vroeër gedoen het, want ons vorder sonder enige moeite.

Nou en dan sukkel een van die Hilux'e 'n bietjie, maar dis waarskynlik omdat die bestuurder 'n verkeerde lyn gekies of te min momentum gehad het.

Ons ry die pas in afdelings, en Gerald stop slegs om 'n slaggat van nader te bekyk. Mettertyd raak die tog meer uitdagend en ons klim uit om klippe in gate en slote te rol. Dis nie harde werk nie en ons bring net 'n paar minute op 'n slag deur om die pad te herstel.

Ons vaar die berg teen 'n bestendige spoed uit en die konvooi bereik die halfpadmerk binne 2½ uur. Die bestuurders poseer vir 'n foto en neem 'n kort blaaskans. Ons klim oor in die Hilux 2.8 van Jaco Hanekom. Sy bakkie is heeltemal standaard met gewone plastiekbuffers. Hy sê hy raai sy klante gewoonlik aan om rotsglystawe op hulle Hilux aan te bring indien hulle in 4x4-aktiwiteite belang stel.

As jy hoogtevrees het of nie graag jou voertuig wil seermaak nie, moet jy liefs vergeet van die Bobbejaanspas.

Sekondes nadat hy dié wysheid kwytgeraak het, stamp die Hilux hard teen 'n klip. Die onderkant van die voorste buffer is geduik en gekrap, maar andersins is daar darem nie skade nie.

Die tweede helfte van die roete is aansienlik moeiliker as die eerste. Die padoppervlak is met klippe besaai en die rotsmuur is naby. Dit gee nuwe betekenis aan die uitdrukking "klippe kou". 'n Hindernis met die naam Goliatsklip vereis bande met goeie vastrap en 'n enjin met baie wringkrag. Dié rotsformasie is op 'n skuins draai en 'n moderne dubbelkajuitbakkie kan dit nie in een ononderbroke draai baasraak nie.

In die derde kwart van die pas kom ons op 'n besonder uitdagende hindernis af, maar ons is reg vir hom. Gerald ry vooruit en sy Land Cruiser kruip in laestrek teen die skuinste uit. Die Land Cruiser se ewenaarslotte is nie gesluit nie en die bande glip. Nadat Gerald die ewenaarslotte gesluit het, gaan dit sommer heelwat makliker.

Ryan Otto bestuur 'n Hilux 2.8 met 'n outomatiese ratkas. Dié voertuig veg verbete teen die rotse, maar ná vele probeerslae gee Ryan boedel oor en neem 'n makliker roete, óm die rotse. Die ander Hilux'e volg sy voorbeeld, maar die Jeep volg die Land Cruiser se spoor sonder 'n gespook en spartel.

Ons kom by die hoogste punt van die roete aan: 2 689 m bo seespieël. Die menslike komponent van die ekspedisie bibber van die koue, maar dit lyk of die voertuie die vars luggie geniet. Plaaslike kinders staar ons aan. Hulle wonder seker wie die lawwe mense is wat hande in die sakke rondtrippel in die koue.

Die uittog is 'n sukses. Geen van die voertuie is ernstig beskadig nie, niemand moes omdraai omdat hulle nie die mas kom opkom nie, en geen herwinningspogings was nodig nie. Ons weet nie wie die groep is wat voor ons hier uit is nie, maar hulle het duidelik die hardste werk gedoen. Die volgende storm sal al daardie harde werk ongedaan maak, en dan moet daar maar weer pad gemaak word.

Geen twee besoeke aan die Bobbejaanspas is ooit dieselfde nie. Die geluk was beslis aan ons kant, want ons kon die roete binne ses uur en dertig minute klaarmaak. Die einde van winter is beslis 'n goeie tyd om die Bobbejaanpas te takel - mits die sneeu al gesmelt het. Die pas is berug vir sy hindernisse, maar dié slag was hy so mak soos 'n lammetjie.

WYD EN OOP. Daar is amper nie een plek langs die pas waar die uitsig nié jou asem wegslaan nie. Ons was die enigste voertuie op die bergpas en ons het verbasend vinnig gevorder. Wees egter voorbereid op die moontlikheid dat jy beeste, donkies en vriendelike kinders gaan raakloop
WYD EN OOP. Daar is amper nie een plek langs die pas waar die uitsig nié jou asem wegslaan nie. Ons was die enigste voertuie op die bergpas en ons het verbasend vinnig gevorder. Wees egter voorbereid op die moontlikheid dat jy beeste, donkies en vriendelike kinders gaan raakloop

NIKS FOUT MET SEMONKONG

Die Semonkong-lodge is immergewild onder plaaslike avonturiers én internasionale besoekers. Die plek is geleë in 'n ravyn langs die dorp Semonkong. Sommige van die lodge se chalets en hutte staan oorkant die rivier teen die helling van 'n berg.

Jy kan die lodge met die A5-pad bereik - ry deur die dorp en af met 'n steil grondpad oor 'n enkelspoorbrug. Onder die naambord wys dit hoeveel doendinge daar by die lodge is. Die nabygeleë Maletsunyane-waterval spog met die wêreld se langste kommersiële abseil ('n skrikwekkende 204 m) - en dis deur die Guiness World Records gesertifiseer.

Jy kan ook perdry of 'n bergfiets huur (R90) en die ooraanbod bergpaadjies verken. Jy moet egter fiks wees, want dis nie maklik om op 'n hoogte van 2 200 m bo seespieël te speel nie.

'n Mens kan bergklim - beginners óf ervare ouens - maar jy moet jou eie toerusting bring. Jy mag in die rivier swem en selfs hengel. En as jy van perderesies hou, kan jy elke week na die plaaslike inwoners se poniewedrenne kom kyk.

Die lodge hou ook 'n pub crawl vir gaste en toeriste. Dis 'n ongewone drinksessie, want jy ry van die een taverne na die volgende op 'n donkie se rug. Jy betaal vir jou eie drankies. (En jy betaal môreoggend op 'n ander manier vir die pub crawl. - Red.)

Die uittog is 'n sukses. Geen van die voertuie is ernstig beskadig nie, en geen herwinnings- pogings was nodig nie.

GENIET JULLE VAKANSIE

Omdat daar so baie blyplek is in Semonkong - chalets, kamers én slaapsale - is die kampplek nie 'n prioriteit vir die bestuur nie. Hier is slegs vyf staanplekke, almal langs die rivier, en die enigste skeiding tussen jou en die parkeerterrein is 'n valhek. Die staanplekke het elektrisiteit en al die staanplekke deel 'n vullisdrom en braaiplek op die rivier se oewer. Die grond is gelyk, maar hier is nie juis gras nie. Gelukkig is daar 'n paar koeltebome om die son van jou tent af te hou.

Die staanplekke voel klein as jy 'n groot tent en ryding het. 'n Woonwa is buite die kwessie, tensy dit 'n boswa is.

Die lodge het 'n restaurant waar ook voorsiening gemaak word vir vegetariërs. Die Duck & Donkey-kroeg is 50 m van die kampplek af, agter die ontvangskantoor. As jy sukkel met selfoonsein, kan jy die ontvangskantoor se wi-fi gebruik teen 'n klein tarief.

Die ablusiegeriewe by Semonkong is klein, maar dit het die afwerkingsvlak van 'n gastehuis.

Van die kampplek af loop jy boontoe met 'n stel trappe tot op 'n terras na 'n kothuis. Hier is twee storte, twee urinale, 'n toilet en 'n wasbak. Aangesien die meeste gaste die lodge se geriewe gebruik, kan jy dié badkamer vir jouself toe-eien. Dit word ook deur die personeel netjies gehou, selfs al word dit min gebruik. Daar is altyd warm water.

Tussen die mans- en vrouedeel is 'n dubbele sinkwasbak waar jy klere en skottelgoed kan was.

EK WIL OOK GAAN

Jy het 'n geldige paspoort nodig om Lesotho binne te gaan, maar geen visum nie. Die grondpad wat na die Pekabrug- grenspos aan die Vrystaat se kant lei, is in 'n slegte toestand. As jy van KwaZulu-Natal af ry, moet jy eers teen die Sanipas opry en die grens aan daardie kant oorsteek.

As jy hoogtevrees het of nie graag jou voertuig wil seermaak nie, moet jy liefs vergeet van die Bobbejaanspas. Jou ryding moet ten minste veelterreinbande ophê. Hulle hoef nie enorm te wees nie; die standaardgrootte wat deur die voertuigvervaardiger aanbeveel word, is voldoende.

'n Veerstelsel wat effens hoër as standaard is, help geweldig baie, maar dis nie 'n vereiste nie. Staalbuffers, rotsglystawe en 'n wenas is gaaf, maar dis ook nie 'n vereiste nie.

Ons raai jou ten sterkte af om die Bobbejaanspas op jou eie aan te durf. Dis in elk geval lekkerder om dit in 'n groep te doen.

Hierdieartikel het oorspronklik in Weg Ry & Sleep #8 (Maart 2018) verskyn.Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen veranderhet - laat weet gerus as jy so iets raaksien.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in opons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte eninligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons opdie YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook.

Kyle Kock

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM