Reis

Toe & Nou: Shingwedzi-ruskamp, 1964

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Shingwedzi-ruskamp, 1964
Shingwedzi-ruskamp, 1964

Errol Blair se Toe-foto van die Shingwedzi-ruskamp in 1964 in Weg #172 het my geïnspireer om dié Nou-foto te neem. Op die oog af lyk dit nie asof veel verander het nie.

Die ruskamp se huise is in twee sirkels gerangskik: A en B. Sommige van die huise in sirkel B is opgeknap ná die vloed in 2013, maar die goed - soos die vullisdromme, dakteëls en selfs sifdeure - lyk nog soos dié van destyds! In die A-sirkel staan van die oorspronklike grasdakhuisies gestut deur die einste ysterhoutpale waarmee dit in die 1930's gebou is.

Dinge hét wel verander. Deesdae word skoon linne afgelaai in 'n batterygedrewe gholfkarretjie, en die meeste van die huise het 'n kombuis en badkamer.

Dit was nie die geval in 1960 nie... ons kinders was erg benoud om in die aand na die gemeenskaplike badkamer te stap. My pa, Sam, móés met sy toorts saamloop, ingeval ons deur slange, spinnekoppe en skerpioene aangeval word! Sou jy diep in die nag 'n nood kry, was jou enigste uitweg die enamelpotjie wat altyd saamgery is.

Die huisies lyk dalk nog vandag dieselfde, maar deesdae het die ruskamp 'n swembad, restaurant en vulstasie.
Die huisies lyk dalk nog vandag dieselfde, maar deesdae het die ruskamp 'n swembad, restaurant en vulstasie.

'n Wildtuinbesoek met 'n baba en drie kleuterseuntjies agterin 'n DKW Auto Union ('n Duitse motortjie ongeveer die grootte van 'n Volkswagen Kewer) kon nie maklik gewees het vir my ouers nie.

G'n wonder my pa het uit radeloosheid een middag 'n skilpad langs die pad opgetel en by ons op die agtersitplek neergesit nie - hoogs strydig met die Parkeraad van destyds se reëls!

Padkos was 'n integrale deel van ons Kruger-kuiers; ons het beslis nie in 'n restaurant geëet nie. By die Tshokwane-piekniekplek kon jy kookwater kry. My ma, Grieta, het Trekker- of FG-koffie in 'n koffiekan met 'n flenniesak binne-in op die stoof geprut.

Foto: Sam J. Basch
Foto: Sam J. Basch

Hoe of wat sy vir ons gesin van ses in die gemeenskaplike buitekombuis gekook het, onthou ek nie, maar daar was op die meeste oggende lekker krummelmieliepap met gekerfde biltong daarby.

In 1964 was ek vir 'n skooltoer wildtuin toe. Daarvoor het ek gespaar vir 'n Kodak Brownie Starmite-kamera. Ek het nog 'n paar swart-wit foto's van die toer met onder meer blouapies doer ver in die mik van die boom.

Hulle lyk presies soos dié wat ek vanjaar in Shingwedzi afgeneem het - nóú net in kleur.

Hierdie artikel het oorspronklik in Augustus 2019 verskyn. Feite en geite kon intussen verander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.

Ons soek jou kiekies!

Het jy ou swart-wit foto's wat die storie van toeka se toere, gesinsvakansies of avonture vertel? Stuur dit gerus na redakteur@weg.co.za.

Sam J. Basch

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM