Die leser Henko Roukema hou van sporte soos rotsklim, ysswem en fietsry. Hy is 'n navigasie-offisier vir 'n Kanadese skeepsmaatskappy, wat beteken hy is maande lank ter see, maar wanneer hy aan wal kom, het hy ook lang tye verlof. Dit is dan wanneer hy soveel moontlik opwindende dinge doen en sien - soos om te gaan fietsry in die sneeu.

Henko vertel:
Daar is sneeu voorspel en 'n ysige koue het Ceres in sy greep - dis die ideale geleentheid om iets op my wenslysie af te merk: fietsry in die sneeu.
Ek mik met my moto vir die Matroosberg- private natuurreservaat, met sy 4x4-paadjie wat tot by die tweede hoogste bergspits in die Wes-Kaap loop, 2249m bo seespieël! Dit is net buite Ceres en toeganklik van die Kaap af.
Ek besef gou vandag gaan besig wees, want daar is 'n string 4x4's van Ceres af op pad in Matroosberg se rigting. Die sneeu bedek al vroeg die Swaarmoed-pas, en namate ons nader kom, begin dit al meer sneeu.
Nadat ek die toegangsgeld (R50) betaal, hou ek by die voet van die berg stil. Ek trek my warmste klere aan, kry 'n happie om te eet en pak 'n paar stukkies gereedskap in my rugsakie. Dan kan ek begin trap… wel, soveel as wat 'n mens kán trap teen die 4x4-roete se steil opdraand. Party dele is net té steil om te trap; dan moet 'n mens maar afklim en stoot.
Kort voor lank word die paadjie meer soos 'n kontoerpad, die sneeu is seepglad waar die voertuie dit platgedruk het en ek moet mooi kophou om nie om te kantel nie.

By Groothoekkloof-nek hou al die 4x4's stil en die pad van hier af is skoon, maar die sneeu is amper kniediep en die rotse word goed weggesteek. Dis meestal 'n geval van 'n paar meter trap, dan val in die sneeu - soms aspris, ander kere per ongeluk.

Ek baljaar lekker in die sneeu, trap 'n bietjie langs die sirkelroete en verkyk my aan die uitsig waneer die wolke ooptrek.
Ongelukkig moet alles tot 'n eide kom en dis tyd om van die berg af te kom voor al die 4x4's die pad blokkeer - natuurlik nie voor ek gly en op my agterent beland nie. Dis maar moeilik met die afkomslag, ek ry al gly-gly by die berg af. My fiets se remme werk oortyd en die stoom trek in die lug op as die remskywe in kontak kom met water!
Dit neem ongeveer 20 minute om tot onder te ry, want swaartekrag doen sy werk! Die gebied is beeldskoon - selfs sonder die sneeu - maar dit is 'n ander-wêreldse ervaring om in die Kaapse sneeu bergfiets te ry.
Henko se toerusting
KTM Taser 2 met 26 duim-wiele
First Ascent Hurricane-baadjie, Podium bib en spanbroek en 'n warm paar handskoene.
Osprey Manta-25 liter-rugsak met 'n watersak.












