Reis

Tussen blou en klou

Die wolke trek onder my oop en ek kan Kampsbaai doer onder sien - byna 'n vertikale kilometer laer. Hóékom het ek afgekyk, raas ek met myself.

SIRKUSTRUUKS. Julia Wakeling doen 'n paar truuks terwyl sy op Tafelberg abseil. Aangesien klimskoene so styf pas, trek die meeste klimmers dit uit, tensy hulle 'n rotswand aanpak.

FOTO'S: Jon Minster

My maag én my kop draai behoorlik! Al wat my bo hou, is my groottoon in iemand anders se knap klimskoen, en ingewig in 'n kraak in 'n rotswand. Om boontoe te klim moet ek daai toon nóg dieper indruk en myself opstoot.

Terselfdertyd moet ek my een hand los hou en strek vir 'n rotslysie 'n entjie hoër op teen die rots - 'n lysie wat glad nie lyk of dit die gewig van 'n volwasse man kan dra nie.

Haal asem. In. Uit. In. Uit.

Op een of ander manier laat my brein my toe om die beweging te doen en ek klim 'n halwe meter. Ek druk my ander voet in 'n ander kraak en hang vir net 'n oomblik. My hart hamer vinnig in my keel en my rekenaarhande is gekrap en rou. Ek dink my knie bloei, maar ek kan myself om die dood nie sover kry om weer af te kyk nie. Tog was ek nog nooit so bewus van my hartklop nie!

As jy al ooit rotsklimmers in aksie dopgehou het, het jy waarskynlik al gewonder of al hulle varkies op hok is. Wel, dis wat ek gewonder het. Die goed wat hulle doen, lyk onmoontlik: Hulle klouter teen rotswande wat soms oorhel na die verkeerde kant van vertikaal, met hand-en voetholtes wat meer gepas is vir akkedisse.

En sê nou hulle val? Maar die sport boei my.

Daar is 'n sort poësie in die beweging van 'n goeie klimmer; 'n wisselwerking tussen grasie en krag. En ek het nog altyd gewonder hoe dit moet voel om so in die lug te hang met die wêreld aan jou voete.

Toe my vriendin Julia Wakeling, wat lid is van die Bergklub van Suid-Afrika (BKSA), vra of ek eenslag wil saam kom, het ek effe huiwerig ja gesê...

Die BKSA het onlangs 'n groep bobaas klimmers van die Verenigde Koninkryk op 'n toer na al die beste klimkolle in Suid-Afrika gevat, insluitend Wolfberg en Tafelberg in die Sederberg en Blouberg in Limpopo. Tafelberg, Kaapstad, was ook op die lys en Julia het my saamgenooi vir die dag. Die meeste van die klimwerk in Suid-Afrika is tradisionele klim (die ouens wat weet, praat sommer van trad). Dit beteken die roetes is nie gemerk nie en daar is net enkele permanente boute in die rotswand.

Ja, vandag klim die BKSA-lede en die Britte in kostuums uit die tagtigerjare, want… wel, hulle kan.

Dis 'n los-geen-spoorbenadering, waar klimmers hulle toue vasmaak soos wat hulle klim en ná die tyd hulle toerusting afhaal. Dis maklik om 'n groep trad-klimmers by die onderste sweefspoorstasie raak te sien: Hulle is die lenige, gespierde ouens en meisies met enorme rugsakke vol toue, karabynhake, moere en cams - al die dinge wat moet verseker dat hulle nie teen die berg afdinges nie. "Ons is eintlik gekant teen risiko," sê Mikey Goldthorp van Wallis, een van die klimmers wat hier kuier. "Dit lyk dalk gevaarlik daarbo, maar daar is altyd 'n veiligheidsnet."

Ek wil regtig glo wat Mikey sê, maar dis moeilik om hom ernstig op te neem, want hy is aangetrek soos die voorsanger van die rockgroep Van Halen.

Ek het nog 'n paar meter geklouter en sien nou vir Mikey wat op 'n rotslysie wag. My linkerbeen skud asof ek vir drie uur in die verkeer koppelaar getrap het, en my hemp is sopnat gesweet. Die ironie is dat Mikey en Julia besluit het my klimdoop gaan op 'n roete met die naam "Staircase" gebeur omdat dit blykbaar so maklik is soos trappe klim. Dit het 'n gradering van 13 - 'n vulletjie teen van die ander roetes teen Tafelberg, soos Double Jeopardy ('n gradering van 30!) wat basies 'n loodregte muur is wat buitentoe hel as jy opkyk. Maar moenie opkyk nie - jy gaan dronk word. En moenie afkyk nie, want jy mag dalk jou ontbyt kwyt wees. Kyk net vir die rots voor jou en strek vir die volgende holte.

Die Staircase werk só: Mikey klim vooruit en anker cams en moere in die rots, en hieraan word die klimtou geheg. Julia belay die tou van onder af. Dit behels om spanning op die klimmer se tou te sit sodat hy nie ver val as hy wel val nie. Ons almal dra 'n harnas om ons middel en ons bene is vas aan toue. As Mikey sou gly, sal hy net so ver val as wat die naaste vasmaakpunt aan hom is.

Die Staircase is 'n drie-pitch-klim, wat beteken hier is drie klimdele met lysies tussenin waarop 'n mens kan rus of in my geval, tot bedaring kom. Wanneer Mikey by die eerste lysie kom, anker hy homself en belay my en Julia terwyl ons klim. As die tweede klimmer in die ry hoef ek net my tou los te haak van elke vasmaakpunt as ek verby klim. Julia is laaste in die ry en haal elke cam en moer uit en haak dit aan haar harnas vas.

Ná elke klimdeel word die proses herhaal: Die voorste klimmer gaan op en maak die roete veilig; dan volg die ander twee en haak die toerusting af. Die meeste van die klimwerk teen Tafelberg is doer bo-op die mooi sandsteenkranse net onder die boonste sweefspoorstasie. As jy weer bo-op Tafelberg kom, gaan na die hoofuitkykpunt. Van hier af moet jy 'n entjie afklouter tot waar jy jouself aan 'n lyn kan vasmaak. Rotsklimmers abseil van hier af tot op 'n platterige deel langs die India Venster-stappaadjie.

Dis van hier af wat klimmers hulle pad na bo vind met 'n hele paar roetes wat wissel in moeilikheidsgraad. Dan abseil hulle af en klim weer. En weer.

"Die lekker ding van rotsklim is dat 'n beginner dieselfde ervaring op 'n maklike klim kan hê as iemand anders op 'n graad 25-klim," sê die legendariese Suid-Afrikaanse klimmer Ed February, wat ook vandag op Tafelberg is. "Dis 'n persoonlike ervaring. Om jou lyf te voel beweeg en te verstaan wat is moontlik."

Teen die tyd dat ek my tot bo-op Staircase getrek het en veilig aan 'n tou is, verstaan ek wat Ed bedoel. Ek het spiere gebruik wat jare laas oefening gekry het en my brein pols van adrenalien en endorfiene. Om buite in die sonlig te wees, berglug in te asem en in die lug te sweef… Ek kom gou weer hang hier tussen hemel en aarde.

JA, EK WIL DIT PROBEER

Die Bergklub van Suid-Afrika bied gereeld landwyd soortgelyke uitstappies aan. Ervare klimmers gaan saam met al die toerusting om jou te wys hoe dinge werk (mcsa.co.za). Of huur 'n privaatgids soos Ross Suter in Kaapstad (highadventure.co.za/ross@highadventure.co.za; tel: 0216714189, sel: 082 437 5145) of Gustav van Rensburg by Waterval-Boven in Mpumalanga (rocrope.com; tel: 082 753 3695).

Koste hang af van die aantal mense in die groep en hoe lank die uitstappie is. Jou plaaslike BKSA-kantoor kan ook 'n gids in jou omgewing aanbeveel.

Nog 'n opsie op Tafelberg is om die klim oor te slaan en net die abseil te doen. Abseil Africa (abseilafrica.co.za) bedryf 'n roete na aan die een wat klimmers gebruik. Dit kos R1095 p.p. vanaf 1 September 2017 (R995 indien jy aanlyn koop) en groot glimlagge is gewaarborg.

Jon Minster

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM