Dit was waarskynlik die langste ses dae van my lewe!
Ondanks ons drietjies se eed van geheimhouding laat val die kinders steeds van tyd tot tyd wat gebeur het terwyl hulle ma weg was: Pasta wat teen die plafon vassit, 'n viermantent wat in die sitkamer opgeslaan is, middernag-uitstappies in stormweer om reënpaddas te soek...
Hoewel ek net 'n week lank 'n enkelpa was, het dié ervaring my met nuwe respek vir die grootlangtoonmannetjie gelaat. Dié lawaaierige adonis is bekend vir sy vermoë om bo-op drywende waterplante te loop. (Die prentjie van 'n langtoon tussen die lelies op 'n spieëlgladde dam sal selfs bekend wees aan mense wat nog nooit voëls gekyk het nie.)
Dié lawaaierige adonis is bekend vir sy vermoë om bo-op drywende waterplante te loop.
Op sulke uitstappies is hy op jag na waterinsekte en hulle larwes. Ander ongewerweldes soos spinnekoppe, skaal- en weekdiere word net so gulsig opgepik.

Dis danksy daardie lang tone en naels dat die voël só oor die weg kan kom. Die voetspan van 'n volwasse grootlangtoon trek hier by die 16 cm - dis omtrent so groot soos 'n man se oopgestrekte hand. Met ander woorde: enorm! Veral in verhouding tot die res van die langtoon se lyf wat maar 'n liniaallengte hoog staan.
Hoewel sy pote nie geweb is nie, is die grootlangtoon 'n heel bekwame swemmer en dís 'n belangrike vaardigheid - veral wanneer hulle verveer en gevolglik 'n ruk lank nie kan vlieg nie.
Teen dié tyd wonder jy seker al: Faansie, hoe pas die grootlangtoonmannetjie en om enkelpa te wees bymekaar? Jy sien, die grootlangtoon het ongewone broeigewoontes. Die wyfie (wat tot dubbel die mannetjie se gewig is) het slegs 'n klein rolletjie te speel.
Sy lê net die eiers en laat dan alle huishoudelike takies aan Manlief oor - van nesbou tot eiers uitbroei en kuikens versorg. 'n Dominante wyfie heers oor wat ons 'n supergebied noem; dit sluit kleiner gebiede van tot sewe mannetjies in.
En sy lê eiers dat dit klap: 'n Wyfie kan - met die nodige, um, aandag - tot tien broeisels van vier eiers elk in 'n broeiseisoen lê. Sy lê dus elke twaalfde dag wéér! Hierdie veelmannery (die boeke noem dit "poliandrie") is raar onder voëlspesies en die grootlangtoon deel dié leefstyl met slegs sy naaste verwant, die goudsnip.
Die grootlangtoon se eiers is mooi: dit het 'n koper agtergrond waaroor donker skribbels kartel, so asof 'n kleuter 'n swart pen in die hande gekry het. Die eierdoppe se glans maak dat dit lig weerkaats, net soos die nat waterplante waarin die nes versteek lê. Wat 'n slim kamoefleringstaktiek is dit nie!
En tog hou die broeiseisoen steeds groot gevaar in: Eerstens, die grootlangtoon se verskoning van 'n nes bestaan slegs uit 'n paar saamgeflanste waterplantstammetjies. Die eiers kan dus maklik afrol of onderdompel word indien die watervlak skielik styg. Gelukkig dryf die eiers, dus kan mnr. G. Langtoon sy nageslag na 'n nuwe nes aanpor indien hulle broeiplek sink.

Tweedens moet daar met roofdiere rekening gehou word. Grootlangtone maak deels op die warm Afrika-son staat om hulle eiers uit te broei en wanneer die mannetjie die nes verlaat om te gaan snuffelvreet kan waterlikkewane, otters, grootkoningriethane en ander eierdiewe hulleself kom help.
Wanneer die kuikens egter eers uitgebroei het (hulle is te ougat en die ene pote!), het hulle genadiglik 'n beter kans op oorlewing. Die kleintjies verlaat die nes sowat vier uur nadat hulle uitgebroei het en begin kos soek. Die pa wys met sy snawelpunt krieseltjies uit en só leer die kleinspan wat eetbaar is.
Die langtoonpa is waaksaam en aggressief en skrik skoorsoekers af deur met sy vlerke hard op die water te klap. Hy het nóg 'n truuk: 'n Mannetjie kan sy kuikens twee-twee onder sy vlerke optel.
Dis indrukwekkend om te sien hoe die kroos se tone soos klosse spinnekoppe onder sy lyf uithang!
As 'n laaste uitweg kan die kuikens ook, wanneer Pappa nie naby is nie, onder die water duik en van die gevaar af wegswem. Soms bly hulle 'n ruk onder die water met net die snawels wat soos snorkels bo die oppervlak uitsteek.
Ek is dankbaar dat my seuns nooit in my sorg sulke noodduike moes uitvoer nie, maar dis dalk iets wat ons moet oefen voordat hulle ma weer weggaan!
















