Dis verbasend hoe ver jy met 'n 4x4 kan kom as jy weet hoe. Maar dis ook vernederend wanneer jy om die simpelste rede vassit. Soos wanneer jy vergeet om die nawe te sluit ...
My ou Series 1 Landie is op 'n dag as troukar ingespan. Ek moes die bruidspaar reg voor die kerk se deur op die grasperk inlaai, net ná die confetti-gooiery. Die grasperk het 'n effense helling gehad waarteen ek moes uit, maar ek het dit regtig nie nodig geag om die nawe te sluit nie.
Toe dit tyd was om die bruidspaar elegant en romanties weg te raap voor die familie en gaste, toe sit ek vas op die grasperk, met een tollende agterwieletjie.
My effense paniekerige reaksie was om die lepel dieper te trap en met geweld daar uit te kom.
Maar al wat ek reggekry het, was om 'n groot gat in die grasperk te maak, 'n groot gat van myself te maak en die bruid se pa vol gras en modder te gooi.
Ek het uitgeklim en druipstert die nawe gesluit, terwyl 'n klomp mense in kisklere vir my gegrom en gegluur het.
'n Ander keer moes ek die Ruvumarivier tussen Tanzanië en Mosambiek oorsteek, maar die veerboot was gestrand op 'n sandbank 'n ent stroom-af.
Die plaaslike ouens wat daar rondgehang het, het my verseker dis moontlik om die rivier oor te steek as 'n mens jou roete noukeurig kies tussen al die sandbanke en riete deur. Net die laaste entjie is diep, het hulle gesê, maar hulle sou my help stoot.
Teen vergoeding, natuurlik.
Ek moes kalm dink en koffie werk goed om die gedagtes 'n bietjie los te maak. 'n Bier of ses sou later volg.
Ek het nooit die diep deel gehaal nie. Die Landie het skaars 10 m van die duskantse oewer af in die modder vasgeval.
Dit het nie net gestaan en spin nie (ek het die les oor nawe sluit by daai troue geleer …), maar sommer plat op sy onderstel in die modder gaan lê. Die vriendelike omstanders het gestoot en gebeur, maar dit het niks gehelp nie. Die Landie was vasgesuig in die modder.
Daar was nie boom in sig om 'n wenas-kabel aan te haak nie. Al wat daar was, was skraal riete.
Ek het kniediep in die water en modder uitgeklim, my Trangia-stofie op die enjinkap uitgepak en begin koffie maak.
Ek moes kalm dink en koffie werk goed om die gedagtes 'n bietjie los te maak. 'n Bier of ses sou later volg.
Ek het my panga uitgepluk en begin riete oes. Ek het 'n pad gemaak met die riete agter die Landie tot by die oewer en toe het ek groterige klippe aangedra.
Die toeskouers het maar net kopgeskud en in die koelte gaan sit en beraadslaag oor hoe om my daar uit te kry. Hulle het duidelik nie geglo my plan kon werk nie.
Hulle het gereken ons moes net meer mense kry om te kom help stoot.
Ek het die grootste klip reg onder die sleephaak van die Landie ingegrawe, siende dat die sleephaak onder die modder was.
Ek het my hoogligdomkrag op die klip neergesit en die Landie begin opdomkrag, in die middel agter, sodat altwee agterwiele saam uit die modder lig. Ek het klippe en riete onder die wiele gepak en die Landie laat sak.
Toe is die proses aan die voorkant van die Landie herhaal - 'n mens kan 'n ou Landie aan sy voorbuffer oplig. Riete is ook tussen die voor- en agterwiele gepak.
Die seerower en sy trawante het onder 'n boom gaan sit en probeer lyk asof hulle al die tyd in die wêreld het.
Ek het ingeklim, die Landie in trurat gesit en gewoonweg uitgery. Dit was tyd om koue bier en blyplek te soek.
Die volgende dag het ek my Landie 'n ent rivier-op op 'n dau gesit om oor te kom. Die eienaar het my aanvanklik dertig dollar gevra om my oor te neem Mosambiek toe, maar toe ons amper aan die ander kant kom, het daar uit die bloute nog 'n nul agteraan die prys verskyn.
'n Groot armswaaiery en stryery het gevolg. Nie een van ons wou ingee nie.
Die seerower en sy trawante het onder 'n boom gaan sit en probeer lyk asof hulle al die tyd in die wêreld het.
Die probleem was dat die dau met my Landie op 'n paar meter van die oewer af geanker was.
Ek het my wenas-kabel uitgerol, aan 'n boom vasgemaak en die Landie en die dau nader aan die boom gekatrol.
Die seerower het gou gesien dat sy boot baie sleg daarvan sou afkom, veral toe die planke begin kraak toe dit teen 'n sandbank druk.
Hy was skielik baie meer inskiklik. Ek het die dertig dollar betaal en hulle het my Landie van die boot afgelaai.
Die volgende keer toe ek by die Ruvuma kom, het die veerboot gedryf en alles het gewerk soos dit moes.
Vervelig.
Hierdie artikel het oorspronklik in Wegry (Oktober 2011) verskyn. Feiteen geite kon intussen verander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.















