Hoekom word Afrika-renosters as "swart" of "wit" geklassifiseer? Hulle kleur is dan byna identies en hulle is dikwels bedek in skakerings van rooi, grys of wit, afhangend van die kleur van die grond in hulle habitat.
Vra enige gids dié vraag en die antwoord wat keer op keer gegee word, is soos volg: Die ou Nederlandse kolonialiste het wat ons 'n witrenoster noem, 'n "wijde" renoster genoem danksy sy "wye" mond. Die Engelse het "wijde" met "white" vertaal en só het die dier sy naam gekry.
Een van Afrika se voorste gids-opleiers, Bennet de Klerk, het my jare gelede geleer dat dié antwoord nie noodwendig die regte een is nie. Sy voortgesette navorsing hieroor is die kern van hierdie rubriek.
Buiten sy natuurgeskiedenis-agtergrond, het Bennet nog 'n vaardigheid - wat niks met die eerste een te doen het nie! - wat gehelp het om 'n beter nagevorste teorie voor te stel.
Op universiteit het hy Antieke Nederlands bestudeer. Hy sê in die 17de eeu toe die witrenoster deur William Burchell beskryf is, sou die Nederlandse woord "wijde" nooit gebruik geword om na diereanatomie te verwys nie, maar eerder na afstand. Dink maar aan woorde soos "wyd", "wydverspreid" en 'n "wye draai" wat ons vandag nog gebruik, en almal na afstand verwys. Die woord "breed" of "breede" sou waarskynlik eerder gebruik geword het om na 'n dier se liggaamsdeel te verwys.
Maar hoekom praat ons dan van 'n witrenoster? Burchell het sy aanvanklike witrenosternavorsing in die Kurumangebied van die Noord-Kaap gedoen - 'n gebied wat bekend is vir die kalkreetpanne wat daar voorkom. Dis welbekend dat renosters lief is vir 'n modder- en stofbad en daarom die kleur van die omgewing se grond aanneem. Die oorspronklike witrenosters wat beskryf is, was dus inderdaad meer bleek, danksy die kalkreetstof op hulle vel.
Dis ook interessant dat voor die witrenoster sy amptelike wetenskaplike naam gekry het, het Nederlandse setlaars en jagters wat die renoster in dié gebied teëgekom het, in hulle dagboeke na die dier as "witte" renoster verwys - nie "wijde" renoster nie. Wie dit die eerste keer die witrenoster genoem het en presies hoekom, sal dalk nog lank 'n onderwerp vir bespreking wees. Maar ek stem saam met Bennet: In alle waarskynlikheid het dit baie min te doen gehad met die woord "wijd".













