G'N RONDKRUIPERY
Nadat Lucas van der Schyff sy Venter-sleepwa se deksel in 'n bed omskep het, met 'n nommerpas tent bo-oor, was daar net 'n enkele trappie tussen hom en 'n salige nagrus in die kampterrein.
Al was hy sy woonwa kwyt, het die kampbloed in sy are bly pomp, het Lucas van der Schyff van Honeydew, Roodepoort in 2013 geskryf. Toe moes 'n Ventertjie bontstaan.
"Ek en my vrou, Anna, het baie jare met 'n woonwa gekamp. Maar toe ons by 'n aftreeoord intrek, was daar nie plek vir die wa nie. Ons moes hom noodgedwonge verkoop, en as ons verder wou kamp, moes dit met 'n tent en sleepwa wees.
"Baie pensioentrekkers sal saamstem dis nie aangenaam om op 'n gevorderde ouderdom op jou knieë rond te kruip om die tent en al jou toerusting op of af te slaan nie. Dieselfde met trappe op- of afklim in die nag.
"Toe kry ek 'n blink plan: Ek sou 'n doodgewone Ventertjie sleep, maar die deksel in 'n bed omskep. Ek het 'n paar voorvereistes vir die projek gehad: Die wa moet lig wees en maklik op- en afslaan; jy moenie met 'n leer opklim na die bed nie; en die projek moet bekostigbaar wees.
"Ek het 'n aluminiumraam op 'n gewone vyfvoet-Venter-sleepwa gesit en 'n tent laat maak. Jy slaan die deksel parallel met die grond oop en laat hom rus op stutte wat op die hoeke gemonteer is. Dit word jou bed, met 'n tent bo-oor wat die slaapkamer volledig maak. Die veranderinge het my R3 500 gekos.
"Ek sleep die waentjie met my Honda Jazz 1,4 l. Hierdie kombinasie werk uitstekend wanneer jy ver ry en êrens langs die pad vinnig by 'n kampplek wil intrek om te oornag."
* Hierdie artikel het in WegSleep#56 van Junie 2013, verskyn












