Wanneer Suid-Afrikaners oorsee reis, het ons, benewens 'n geldige paspoort, dikwels ook 'n visum nodig. Liz de Villiers het gaan delf.
Vir jare was die Suid-Afrikaanse paspoort bekend as die "groen mamba" - ons was nie juis gewild oorsee nie. Dit is nie meer die geval nie, maar ons moet steeds vir talle lande aan visum-vereistes voldoen voor ons daarheen reis. Waar begin 'n mens?
Algemene vereistes en koste
Europa is steeds 'n groot gunsteling onder Suid-Afrikaners, en die feit dat daar nou iets soos 'n Schengen-visa is, maak dinge ietwat makliker, sê Jan Hough van TE Tours in Tygervallei. Wanneer jy vir so 'n visum aansoek doen, het jy - buiten die gewone vereistes soos jou paspoort (wat vir minstens ses maande nog geldig is), foto's en ander biometriese vereistes soos vingerafdrukke - ook 'n volledige reisplan nodig. Dit moet insluit bewys van verblyf (soos 'n hotelbespreking) vir die volle tydperk, bevestiging van jou vlugbespreking, en 'n brief van jou werkgewer wat jou verlof bevestig. Soms wil hulle selfs ook 'n bewys van salaris hê. (Die ambassades van Schengen-lidlande soos Duitsland, Nederland en Frankryk het almal volledige inligting oor wat jy benodig op hul webwerwe, of jy kan 'n agentskap soos VFS Global kontak.)
Wat koste betref, moet jy die wisselkoers ingedagte hou - 'n aansoek vir Engeland sal jou byvoorbeeld tans £115 kos, wat weens die swak rand sowat R2 860 is!
"Daar is baie bestemmings, soos die Ooste, Sentraal-Europa en nie-Schengen-lande waar die visumaansoek deesdae 'n betreklik maklike aanlyn oefening is met baie minder rigiede vereistes," sê Jan. Vir ander gewilde bestemmings, soos byvoorbeeld Thailand, is daar geen visumvereiste vir Suid-Afrikaners nie, voeg hy by.
Die algemene neiging is aanlyn aansoeke, en selfs die Europeërs oorweeg dit, sê Jan.
Van tyd tot tyd verander lande van plan wanneer dit by visums vir Suid-Afrikaners kom. Tot redelik onlangs kon ons byvoorbeeld sonder 'n visum Ierland toe reis, maar nou moet ons een hê. Hoe weet 'n mens? Jan sê daar is toegewyde webwerwe soos Sherpa (apply.joinsherpa. com) wat op die hoogte bly van visumvereistes wêreldwyd, maar as jy doodseker wil wees, is dit ook maklik genoeg om met jou naaste reisagent te skakel in dié verband.
Die proses
Party lande, soos die Schengen-lande, Engeland en die VSA het baie streng visumvereistes en die aansoekproses kan 'n tydjie duur.
Jan sê die eerste stap is om 'n afspraak by die konsulaat of deesdae visumagentskap te maak en, afhangend van die tyd van die jaar waarin jy wil reis, kan dit soms tot 'n maand wees voor jy 'n afspraak kry. In Europa is dit byvoorbeeld moeiliker om afsprake tussen April en Julie te kry, want dit is hoogsomer (en dus toerismeseisoen) daar en dan doen almal aansoek vir visums, voeg hy by.
Nadat die afspraak afgehandel is, neem dit gewoonlik sewe tot 10 werksdae om dit te kry. Maar daar is uitsonderings, maan Jan. Kanada, byvoorbeeld, het meestal lang wagtye vir afsprake. As jy dus 'n besoek aan die kleinkinders beplan, moet jy solank al jou hoenders op hok begin kry.
Verbeter jou kanse op sukses
As jy vir Jan vra of daar enige algemene foute is wat Suid-Afrikaners maak wat dalk tot afkeuring kan lei, sê hy die hoofding is maar om seker te maak jy kan bewys jy gaan nie daar bly en nie terugkom huis toe nie.
Hulle wil met ander woorde seker wees jy't 'n werk of onderneming om na terug te keer en dat jy teen 'n sekere datum weer móét terug wees, of dat jy goed gevestig is en finansiële of ekonomiese belange hier het wat jou terugkeer noodsaak. Party lande vereis tot bankstate saam met 'n visumaansoek.
Meestal, sê Jan, is die rede waarom 'n aansoek afgekeur word eenvoudig omdat die persoon nie voldoende dokumentasie saam met sy aansoek ingedien het nie.
Hoewel dit nie in vandag se tye noodsaaklik is nie, sê Jan die voordeel van deur 'n reisagent werk, is dat hulle saam met jou deur die hele proses gaan en dit makliker maak omdat hulle weet presies wat jy benodig en wat die slaggate is.
"Vir Europa, die Verenigde Koninkryk en Amerika moet jy in elk geval persoonlik vir die afspraak opdaag, maar weer eens sal 'n goeie reisagent toesien dat jy goed voorbereid en met die regte dokumentasie en so gaan, wat jou kans op sukses net soveel beter maak," verduidelik hy.
Probleemgevalle
Daar is lande waarvoor dit meer moeite is om 'n visum te bekom, en waarvoor jy byvoorbeeld Pretoria toe moet reis vir 'n onderhoud by die betrokke land se konsulaat.
Jan sê die meeste lande maak gebruik van visumagentskappe soos VFS en TLS, en hulle het gewoonlik kantore in die groot sentra in SA waar jy kan aansoek doen.
"Daar is wel gevalle waar daar Pretoria toe gereis moet word, wat dit 'n groter schlep en baie duurder maak, natuurlik," sê hy. Hy noem Litaue as voorbeeld wat, hoewel dit 'n Schengen-land is, slegs in Pretoria visums uitreik.
As jy dit natuurlik voor die tyd weet, kan jy jou planne sodanig aanpas of verander om nie in daai strik te trap nie. Jy kan byvoorbeeld net die volgorde van jou bestemmings aanpas - nog iets waarmee 'n reisagent jou kan help.
"Dit gaan alles oor goeie beplanning," sê Jan.
Dan is daar transitovisums
Soms, as jy deur 'n ander land na jou bestemming reis, het jy 'n transitovisum nodig. Jan sê die algemene reël hier is dat as jy nie tussen vlugte die lughawegebou verlaat nie en bloot tussen vlugte beweeg, het jy nie een nodig nie. Maar daar is uitsonderings.
"In die Verenigde Koninkryk, Londen dus, het Suid-Afrikaanse paspoorthouers 'n transitovisum nodig al bly jy ook net in die lughawe. Daar is enkele gevalle waar jy dit nie nodig het nie, byvoorbeeld as jy 'n geldige Amerikaanse of Kanadese visum het," verduidelik hy.
Hy voeg by daar is ook transitovisums in gevalle waar mense by 'n bestemming aanland en dan oor daardie land se grondgebeid moet reis om by die eintlike bestemming uit te kom. Hierdie is uitsonderlik en veral in meer eksotiese bestemmings, soos Sentraal-Asië, sê hy. In sulke gevalle moet jy vir 'n visum aansoek doen en deur die voorgeskrewe proses gaan.
3 belangrikste wenke
- Volg die voorskrifte presies. Maak seker jy het die regte dokumente.
- Moenie probeer kanse vat en dink iets is onbelangrik nie - dit is gewoonlik wat die proses gaan pootjie.
- Beplan ver genoeg vooruit en maak seker jy het genoeg tyd vir die proses. "Daar's niks so stresvol as om jou swaarverdiende geld aan 'n reis te bestee en dan op No. 99 nie te weet of jy dit sal kan doen nie weens 'n afgekeurde visum-aansoek," sê Jan Hough van TE Tours.





















