IAN FRIEDLANDER van Kaapstad skryf: Ek het die foto in my tuin in Nuweland geneem. Watter soort ruspe is dit - dis die eerste keer dat ek so iets sien?
Die insekkenner DUNCAN MACFADYEN antwoord: Die lapelmotruspe is 'n gunstelinggasheer van parasietwespe (die wit kokonne op die foto onder), daarom moet dit so bes moontlik gekamoefleer bly.

Slegs 'n klein aantal van alle skubvleuelige insekspesies bereik volwassenheid - die meeste vrek weens die parasietwespe. Dié wesp se larwes vreet rondom die noodsaaklike organe om die ruspe lewendig te hou totdat hulle papies word; sodoende is hulle gewaarborg van 'n vars maaltyd.
Die lapelmotruspe word dikwels misgekyk. Dit lyk ook asof die ruspe glad nie vreet nie en net halfdood daar sit. Soms as iets hulle pla, sal hulle wel hulle lywe oplig om hulleself te verdedig (nie dat dit enigsins sal help nie). Die ruspe is grys en amper veeragtig. Hulle vreet akasia-, mahonie en vrugtebome en kom veral voor in die bosveld en subtropiese woude.












