Drie maande klink na 'n lang tyd, maar in die mediabedryf is dit 'n oogwink.
Drie maande gelede was dit groot nuus dat Weg en ons sustertydskrif Weg Ry & Sleep saam met van die land se voorste Afrikaanse tydskrifte soos Landbouweekblad, Finweek, Tuis, Sarie, Kuier, Baba & Kleuter en Huisgenoot deel word van Netwerk24.
En nou? Nou is dit ou nuus. Ons het aangepas, ingeskakel en nes geskop in ons nuwe digitale huis. Die tandkrypyne was verbasend min.
Dit was veral die kans om ons unieke tydskrifinhoud - daai besonderse stories waaraan ons weke en partykeer maande bestee - in 'n digitale omgewing ekstra woema te gee wat ons opgewonde maak.
As jy nog nie kans gekry het om te sien hoe dit lyk nie, gaan maak gerus 'n draai op netwerk24.com. As jy reeds 'n Netwerk24-intekenaar is, kan jy onmiddellik begin lees. As jy nie is nie, kan jy registreer vir 'n 30 dae lange gratis proeftydperk. Daarna kos dit net R99 per maand om in te teken op Netwerk24 om al die nuus en stories te lees wat deur ons koerante en tydskrifte se joernaliste geskep word.
Ons kan natuurlik nie nou laat slap lê en ontspan nie. Ek het 'n ruk gelede in een van my redakteursbriewe geskryf oor ons wêreld wat gedurig verander.
Die Griekse filosoof Heraklitus het 2 500 jaar gelede al gesê: "die enigste konstante ding in die lewe is verandering". In Heraklitus se dae het daai verandering teen die spoed van 'n gletser voortgekruip, maar vandag is dit 'n passasier op een van Elon Musk se ruimteskepe.
Die enigste konstante ding in die lewe is verandering
Die grootste uitdaging van enige moderne sakeonderneming is nie 'n nuwe belastingkoers wat deur 'n laventelhaan in 'n blink pak aangekondig word nie, maar hoe om aan te pas by snelle tegnologiese vooruitgang. Dis een van die redes hoekom Weg lankal nie meer net 'n tydskrif op papier is nie.
Ons maak televisieprogramme - die derde reeks van Weg Agterpaaie, met Toast Coetzer en Sophia van Taak wat die Weskus verken, word nou elke Woensdag op Via se kanaal 147 op DSTV uitgesaai - ons bied lesertoere, werkswinkels en kampnaweke aan, meer as 100 000 mense reis saam met ons op sosiale netwerke soos Facebook, Instagram en Twitter en ons woeker op Netwerk24.
En natuurlik takel ons heeltyd nuwe dinge, want as ons stil staan, verdwyn daai ruimteskip sonder ons die heelal in. Een so 'n ding in 2018 is ons nuwe podcast met die titel Weg Stories waar ons eie skrywers van hulle beste rubrieke en reisstories in Afrikaans voorlees.
Die sukses hiervan het ons stoutste verwagtinge oortref. Ons was binne die eerste week die tweede mees geluisterde podcast in Suid-Afrika! 'n Nuwe podcast word elke tweede week gratis op ons webwerf en op iTunes uitgereik. Dis nog 'n rede om by Netwerk24 'n draai te maak en te kyk waarmee ons besig is!
Groete
Pierre Steyn
Redakteur













