Goeie beplanning is nodig vir 'n lekker stap-ervaring. Ons wys vir jou haarfyn hoe die verskillende roetes van die Weg-Stapfees (wat op 14-16 Februarie plaasvind) lyk, en gee 'n paar algemene wenke om die naweek so suksesvol as moontlik te maak.
VRYDAGMIDDAG (6 km)
My hartjie, my liefie . . . Dis Valentynsdag en wat is meer romanties as 'n stappie laatmidag op Meerendal? Dis 'n maklike 6 km-roete waaraan die hele gesin kan deelneem. Daar is net een kleinerige bultjie op die hele roete, en dit gaan jou 'n mooi uitsig oor die wingerde van Meerendal gee. Gesels met die ander stappers langs die pad. Kuier daarna op die heerlike grasperk voor La Romantica. Daar is kosstalletjies en drinkgoed beskikbaar, asook 'n musiekgroep vir die gees!

SATERDAGOGGEND
Die 25 km-roete
Die 25 km-stappers is die eerstes wat wegspring. Die roete het net een moeilike bult, Dorstberg, en dit is reg aan die begin. Dis een van daai verraderlike opdraandes wat jou telkens laat dink jy's bo, en dan lê die angel in die stert nog voor. Maar hou moed: As jy die hek sien, is jy op die hoogste punt. Maar dan begin die afdraand! Daardie deel van Dorstberg sien minder stappers en die pad kan glibberig wees op los klippe. Wees baie versigtig.
As jy egter eers onder is, is die eerste sowat 5 km agter die rug en is jy baie naby aan die eerste waterpunt.
Van hier af loop die roete lekker oor die plaaspaaie van Fair Cape, maar moenie oorgerus raak nie. Daar mag dalk 'n lastige bultjie of twee op jou wag. Die pad kronkel verder oor 'n wandelpad styf teen die berg (jy sal skoon vergeet jy is naby aan die stad), voordat jy met 'n wye draai terug is by dieselfde waterpunt.
Van hier af is dit 'n maklike pad terug oor Klein Phesantekraal en daarna oor Diemersdal, waar daar nog 'n watertafel op jou wag. Van hier af is dit nie meer te ver terug na Meerendal nie, waar daar lekker kuierplek onder die koeltebome is.

Die 13 km
Daar is niks ongelukkigs aan hierdie 13 nie! Die roete het net een uitdaging, en dis Dorstberg, reg aan die begin, wanneer jou bene nog vars is. Onthou egter dat Dorstberg 'n moedbreekbult is . . . As jy dink jy is klaar, is jy nog nie klaar nie! Jy is eers bo as jy 'n bankie en 'n hek sien. En selfs dan is jy nog nie klaar gesuffer nie. Dortsberg het aan die agterkant 'n kwaai afdraand op los klippe, waar jy jou voete versigtig moet neersit.
As jy eers onder is, is jy baie naby aan die eerste watertafel, waar lafenis (en 'n toilet) op jou wag. Van die watertafel het jy nog 'n maklike 8 km oor tot by die eindpunt. Die pad neem jou oor Klein Phesantekraal en Diemersdal, waar daar nog 'n watertafel gereed is.

Die 6 km-roete
Kom geniet 'n heerlike oggend waar jy luilekker oor die Meerendal-plaas gaan stap. Die 6 km-roete volg basies dieselfde roete as die weeklikse Park Run, maar ons het 'n ekstra draai as bonus bygesit. Is dit dieselde roete as die vorige dag? Nie heeltemal nie. Jy gaan die Vrydag-roete nou "andersom" stap. Daar is net een klein bultjie, en dit gaan vir jou 'n mooi uitsig bied oor Meerendal.
Kuier daarna lekker op die grasperk.

Sondagoggend 10 km
Ons het geleer uit verlede jaar se ervaring en die Sondag-10 km spring vanjaar vroeër weg sodat ons die koel oggendlug beter kan benut. Dis 'n lekker maklike stappie oor Meerendal. Drink en eet ietsie agterna op die grasperk, en kyk of jy nie dalk 'n prys van een van ons borge in 'n gelukstrekking wen nie.

Wenke
Skryf nou in. Dit gaan jou motiveer om te oefen! Klik hier.
Jy het veldlooptekkies vir dié naweek nodig. Gewone draftekkies gaan nie vir jou genoeg vastrap gee nie. Gaan loer by ons borge in.
As jy hulp nodig het met 'n oefenprogram, is daar Weg-Stapfiks, wat deur 'n biokinetikus saamgestel is. Die oefeninge word met byna 200 verskillende kort video's gedemonstreer. Jy het nie 'n gimnasium of duur toerusting nodig nie.
Oorweeg dit ook om stapstokke en 'n gordel/rugsak vir versnaperinge saam te dra. In Februarie is 'n hoed 'n moet!
Geen honde of stootwaentjies word toegelaat nie.
Kom neem deel en maak 'n molshoop van 'n berg!
#WegStapfees #WegStapfiks #HouBeneHou
















