Reis

Weskusplek: Jacobsbaai

(Esma Marnewick)

By die meeste restaurante bring 'n mens 'n uur of twee deur - jy drink 'n glasie wyn, eet lekker en groet die kelner. Aikôna, nie by die Weskusplek nie.

By dié restaurant kom jy vir ontbyt en bly tot ná aandete, veral as jy jou sit gekry het by 'n buitetafel. Ja, dis die soort plek waar 'n mens wil kyk hoe die dag uitloop... van laag- tot hoogwater!

Die restaurant is in die mees noordelike baaitjie (hier's 'n paar) op Jacobsbaai aan die Weskus. As jy op die stoep sit of by 'n binnetafel met 'n uitsig voel dit asof jy in Griekeland is - die water is kalm en turkooisblou met witgekalkte vissershuisies aan die oorkant van die baai (of dis hoe die meeste strandhuise van hier af lyk).

Die restaurant is óp die hoogwatermerk - jou kinders kan sandkastele bou op die strandjie, in die vlakwater plas of hulle lyf Tarzan hou op die twee swaaie terwyl julle smul aan interessante goed soos visbobotie en 'n Malmokpizza (met Marmite en mozzarella) of die ou staatmakers soos calamari-en-tjips of stokvis-en-tjips.

Jy kan heeljaar kom tuur oor die blou baai, hier's ook twee kaggels vir kouer aande. En as dit jou soort ding is, tree ouens soos Jak de Priester, Thys die Bosveldklong en Jannie du Toit soms hier op.

Waar? Jacobsbaai is sowat 150 km noord van Kaapstad. Hou reguit soos jy Jacobsbaai inry en volg die bordjies.

Oop Daagliks van 8.30 vm. - 9.00 nm. en op 'n Sondag net tot 3 nm. (Bespreek 'n buitetafel vir heeldagsit - behalwe tussen 15 Desember en 5 Januarie.)

Kontak * 022 715 3333; * weskusplek.co.za

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM