Reis

Zambië: weet voor jy waai

Lus vir 'n nuwe plek om te verken?

Zambië is 'n droombestemming vir 4x4-ryers. Hier is alles wat jy moet weet voor jy die pad vat.

As jy na dié buurland reis, moet jy die volgende dokumente hê:

• Voertuiguitklaring, registrasiedokumente en versekering.

• Derdepartyversekering vir Zambië (sowel as alle ander lande waardeur jy gaan ry).

• 'n Padbelastingpermit, wat jy op die grens kan koop.

Tegnies gesproke mag slegs die persoon wie se naam op die permit staan, bestuur.

• 'n Geldige rybewys.

• 'n Geldige paspoort; maak seker jou paspoort word gestempel en dat jou visum

vir 'n paar ekstra dae geldig is.

Hoflik by die blokkades: Padblokkades en spoedlokvalle is algemeen in Zambië. Hou by die spoedgrens, veral naby groot dorpe en stede. Wees ekstra hoflik by padblokkades. Zambiese amptenare is oor die algemeen vriendelik en hoflik, maar is gretig om redes te soek om jou te beboet. Moenie vir hulle 'n rede gee nie.

Beste tyd om te gaan: In die droë seisoen, van Junie tot laat Oktober. In September en Oktober is dit baie warm in sekere dele van Zambië, maar byna al die paaie behoort gangbaar te wees.

Padtoestande: Meestal nie baie goed nie, maar gewoonlik aansienlik beter naby aan groot stede en dorpe. Teerpaaie het dikwels yslike slaggate en jy sien oral padbouwerk (ook op die Grootpad Noord en Grootpad Oos). Beplan vir vertragings langs die pad.

Jou spoed breek: Die Zambiese regering het ook 'n onverklaarbare voorliefde vir ongemerkte spoedbulte. Wees veral naby dorpe en stede versigtig hiervoor.

Brandstof: Brandstof is nie altyd in die afgeleë dele van Zambië beskikbaar nie. Probeer dus 'n reikwydte van minstens 1000 km hê. Baie vulstasies aanvaar net kontant.

Banddruk: Neem 'n kompressor saam, want jy moet dikwels jou bande af- en opblaas. Die vulstasies hier het nie altyd kompressors nie.

Kos en water: In die groot dorpe en stede sal jy 'n Shoprite kry. Lusaka en ander groot stede soos Ndola en Kitwe het ook 'n Pick n Pay en Woolworths, en albei verkoop alkohol. Langs die pad sal jy baie markte sien waar jy vars vrugte, groente en basiese noodsaaklikhede kan koop, ook drinkwater. Moenie die kraanwater drink nie. Bottelwater is geredelik beskikbaar en goedkoop. Sommige kampterreine het boorgate, maar ry genoeg water saam vir was en kook.

Geld: Jy kan geld op die grens ruil, maar gewoonlik teen 'n slegte koers. In die groot stede sal jy OTM's kry. Hou Amerikaanse dollar en Zambiese kwacha by jou.

Navigasie: Neem 'n Garmin saam waarop 'n Tracks4Africa-kaart opgelaai is. Jy gaan sukkel om daarsonder in die nasionale parke oor die weg te kom. Dit help jou ook om banke, vulstasies en verblyf op te spoor. Pak ook 'n gedrukte kaart in. Vir Zambië is Infomap die beste.

Medikasie: Jy moet 'n geelkoorsinentingsertifikaat hê wanneer jy uit Zambië na Suid-Afrika terugkeer. Drink malariapille, veral in die reënseisoen. Neem 'n noodhulptas en 'n malariatoetsstel saam.

Wil jy liewer 'n 4x4 huur? Hemingways doen 4x4-verhurings in Zambië (info@hemingwayszambia.com)

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM