Reeds aan die begin van verlede jaar het ons berig dat haarlinte 'n gewilde haarbykomstigheid is. Vanjaar lyk dit asof die tendens behoorlik vlamgevat het soos wat talle bekendes dié toekenningseisoen met strikke in hul hare pronk.
En ons kan verstaan hoekom. Dis die ideale min-moeite-haarbykomstigheid om enige haarstyl onmiddellik vars te laat lyk. Al wat jy nodig het, is 'n lint!
'n Haarstrik gee die eenvoudigste haarstyl 'n tikkie elegansie. 'n Lae ponie of bolla lyk veral fantasties met 'n strik van satyn- of fluweellint. En dis nie net vir die jonges nie. Selfs by vroue bo 40 kan 'n haarstrik stylvol en sjiek lyk. Kyk maar net na die aktrises Susan Sarandon, Christina Hendricks en Laura Dern, wat al drie al vanjaar op die rooi tapyt strikke in hul hare gedra het. Stileer bloot jou hare in jou gunsteling-styl en voeg 'n klein of bonkige strik by.
Wenk:
Moenie bekommerd wees as jou strik nie perfek is nie. Dit voeg by tot die styl as die strik effens deurmekaar, pap of oneweredig hang.
Dié bekendes het al almal die toekenningseisoen met linte in hul hare gespog:
Millie Bobby Brown by die SAG-toekennings
Margot Robbie by die Critic's Choice-toekennings
Christina Hendricks by die Golden Globes-toekennings
Sadie Sink by die Golden Globes-toekennings
Kaley Cuoco by die Golden Globes-toekennings
Laura Dern by die SAG-toekennings
Bronne: www.glamour.com
















