Jy's verloof, die ring is aan jou vinger, julle het besluit op 'n troudatum en nou is dit tyd om die dag te begin beplan. Vir party paartjies kan dit oorweldigend wees: Kies jy rose of lelies? 'n Buffet- of aansit-ete? 'n Platejoggie of orkes? Nooi jy 80 gaste of 120? En trou jy op 'n wynlandgoed of op die strand?

Gelukkig is die kuberruim propvol idees. Trou jy in 2018? Hier's 10 trends wat veral gewild gaan wees.
1. Venues met 'n industriële gevoel
Philip Carr, 'n Australiese troukoördineerder, voorspel al hoe meer paartjies gaan in 'n industriële pakhuis of ou skuur trou, berig Daily Mail. 'n Retro-gevoel is hoogmode, so ook om 'n groot vertrek op te deel in byvoorbeeld 'n deel met gemaklike sitplek, 'n koffiekroeg en dansvloer.

2. Helder kleure
Helderkleurige blomme en dekor gaan beslis gewilde keuses wees, volgens Daily Mail.

3. Kleiner troues
Volgens Martha Stewart Weddings gaan nie net die gastelyste korter word nie, maar die bruid se gevolg gaan ook kleiner wees: een hoofstrooimeisie of twee strooimeisies.

4. Deursigtige markiestent
Al hoe meer paartjies verkies glo om hul bruilof in 'n deursigtige markiestent te hou. Volgens Martha Stewart Weddings is hope glas-elemente en liggies deel van die trend.

5. Vlootblou is die nuwe swart
Vir hul groot dag verkies al hoe meer bruidegomme 'n vlootblou pak, berig Wedding Wire.

6. Unieke kos op die spyskaart
Volgens Wedding Wire gaan interaktiewe kosstasies, soos 'n soesji-kroeg of kaastafel, gewild wees. Mense span ook al hoe meer unieke familieresepte in. Mooi nageregtafels met lollies, mini-poedings en roomys-toebroodjies is ook 'n trend.

7. Rosé!
Dié pienk wyn gaan al hoe meer op troutafels gesien word, sê Daily Mail.

8. Vintage-karre
'n Ou kombi of selfs kewertjie raak gewilde troukar-keuses.

9. Totsiens, kolwyntjies
Kolwyntjies swaai nie meer septer op troues nie. Paartjies gee nou eerder geld uit op besonderse troukoeke.

10. Potplante
Die gebruik van potplante eerder as blomrangskikkings neem toe.

Bronne: Daily Mail, Wedding Wire, Martha Stewart Weddings, NZ Herald
















