Daar is verskeie opwindende haarneigings wat die skoonheidswêreld reeds aan die gons het en ons kan nie wag om dit op die proef te stel nie.
‘Boyfriend bob'
Die "boyfriend bob" word aan 'n meer hoekige voorkoms met stomp haarpunte geken. Hierdie haarstyl raam jou gesig en herinner effens aan die min-moeite haarstyl wat van die sangers van die Backstreet Boys in die negentigerjare gedra het.
Die bob word nie in lae gesny nie en die fokus is om 'n hoekige, boks-voorkoms te skep.

Lang lokke
Haarstyle met ekstra lengte is óók in die kol. Blaas jou lang lokke mooi uit of skep pragtige Hollywood-krulle vir volume. Die haarvoorkomste neem meer tyd in beslag, maar dit skep 'n treffende gestileerde voorkoms.
Daarom groet ons vir eers die min-moeite haarvoorkomste.


Nat voorkoms
Vogue berig dat glansende, nat lokke in 2023 gaan koning kraai. Op die loopplanke by verskeie modevertonings was soortgelyke haarvoorkomste te sien.
Dis 'n veelsydige haargier wat goed met beide lank of kort hare werk. Jy kan ook kies om 'n meer reguit voorkoms óf met meer tekstuur te dra.


Franse kuif
'n Effense langer kuif wat aan die Franse aktrise Brigitte Bardot se ikoniese haarstyl herinner, is gewild. Die langer kuif wat soortgelyk aan curtain bangs is, kan vorentoe gedra word met 'n subtiele middelpaadjie om jou gesig te raam of agter jou ore gesteek word vir 'n meer gesofistikeerde voorkoms.
Danksy die langer lengte hoef jy nie die kuif perfek uit te blaas nie en kan dit ook vanself droog word. Dit groei maklik uit en veroorsaak nie ekstra olierigheid op jou voorkop soos met 'n gewone kuif nie.

Versorg jou kroon
Ons is geneig om ons kopvel af te skeep en fokus slegs op die gesondheid van ons haarlengtes. Om na jou kopvel om te sien, speel 'n belangrike rol in die algehele gesondheid van jou kroon.
Volgens Pinterest het die einste soektog die afgelope jaar met 70% verhoog.
Kies haarsorgprodukte wat spesifiek vir jou kopvel geformuleer is. Gewilde bestanddele soos salisielsuur, vitamien C, hialuroonsuur, niasienamied, glikolsuur, bokmelk en aloe vera sal die gesondheid van jou kopvel doeltreffend verbeter.

Probeer hierdie produkte:
1. The Body Shop Ginger Scalp Serum (R250)

2. Kérastase Argile équilibrante Cleansing Clay (R455) Byretailbox.co.za

3. Just Pure Scalp & Hair Elixir (R95) Byfaithful-to-nature.co.za


















