Styl

5 slim maskara-wenke

Maskara is seker die een produk wat elke vrou beslis in haar grimeersakkie het. Gebruik dit slim en jy het kyk-na-my-oë wat aandag trek.

Die skoonheidshuis M.A.C het SARIE se skoonheidsredakteur, Charis van den Heever, na een van hul winkels in Johannesburg genooi om meer oor wimpers te leer. Hulle glo almal kan die perfekte wimpers skep met die regte maskara, tegnieke en toestelle en het 'n paar goeie wenke gedeel:

#1 'n Wimperkruller maak 'n gróót verskil...

Druk dit teenaan jou wimpers vir 'n paar sekondes en herhaal nog een of twee keer totdat al die haartjies mooi gekrul is. 'n Gehalte-toestel met 'n plastiekdeeltjie wat oor jou wimpers druk, beskadig dit nie.

#2 Kyk uit vir dié woorde...

Ons almal het verskillende behoeftes. Sommige soek langer wimpers, ander meer volume. Die naam en bewoording op die maskara-buisie sê presies wat dit doen. Kyk vir woorde soos volume, lengthening en thickening.

#3 Probeer dié maklike truuk...

Plaas die maskaraborsel so na as moontlik aan jou wimperlyn en wikkel dit van links na regs deur jou wimpers terwyl jy die borsel deurtrek om elke haartjie van mekaar te skei en met maskara te bedek.

#4 Twee (of drie) lae maskara is die sleutel vir vol wimpers...

Wend een laag aan en wag 'n minuut of twee voordat jy nog 'n laag aanwend. As jy die lae onmiddellik na mekaar aanwend, is die nat maskara te swaar en sak die krul wat jy met jou wimperkruller geskep het uit. Wag nog 'n minuut en wend 'n derde laag aan as jy voel dis nodig. 'n Goeie maskara maak nie klonte nie.

#5 Bonkige wimpers is weer mode...

Vir bonkige wimpers, soos die model Twiggy dit in die 60's gedra het, moenie die oortollige maskara van die borselpunt verwyder wanneer jy dit uit die buisie trek nie. Hou die borsel vertikaal en gebruik net die punt om die maskara aan te wend.

Embed from Getty Images

Onthou jy nog spinnekopwimpers soos in die foto hieronder? Lees meer hiér!

http://www.sarie.com/skoonheid/skoonheidstories/ja-spinnekopwimpers-weer-die-mode/

Charis van den Heever

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM