Wat is meer elegant as 'n egte leerhandsak? Toe Karla Janse van Vuuren een wou aanskaf en begin navorsing doen, het sy besef hoeveel klein, trots Suid-Afrikaanse ondernemings sulke sakke maak.
"Die meeste leerprodukte vra slegs dat jy dit gebruik, met ander woorde, moet dit nie in 'n kas los en slegs een keer per jaar gebruik nie," is Alex Strydom van Boot and Rally se raad.
Hy sê ook leer pas by 'n mens aan en dit kry karakter - dit ruik selfs ná 'n rukkie soos jy.
Claire Lord van Rugged Moose sê 'n mens moet 'n leerroom aansmeer om die sak te beskerm. "Die wonder van leer is egter dat die klein merkies van daaglikse gebruik dit karakter gee. Solank die leer nie uitdroog en begin kraak nie, is alles in orde."
Mieke Bredenkamp van Moss Bags sê leer sal sag en mooi bly as 'n mens daarna omsien.
"Ek dink altyd aan my leerskoolskoene - aan die hoeveelheid tyd wat ons moes insit om ons skoene te poleer en mooi blink te vryf.
"Klein dingetjies soos om dit nie uit te vat in die reën of dit te laat nat word nie, nie jou sak oorvol te maak nie, en gereeld met 'n goeie leerroom te behandel, sal jou handsak vir baie lank mooi hou."
Van vellies tot leersakke, ons Suid-Afrikaners hou van leerprodukte.

Die afgelope twee jaar met al sy skommelinge het meegebring dat baie kreatiewe siele hul stokperdjies in ondernemings verander het. Dit is beslis ook die geval in die leerprodukte-bedryf.
Claire Lord van Rugged Moose sê dit is presies wat met haar gebeur het. "Rugged Moose het as 'n stokperdjie begin en is na ons gesinshond, Moose, vernoem. Ek werk in opvoedkunde en het altyd 'n bietjie tyd in die vakansie. Ek het 'n kursus in leerwerk gedoen en begin produkte maak. Vriende en familie het so baie gehou van dit wat ek maak, dat dit 'n klein onderneming geword het.
"Die grendeltyd het veroorsaak dat ek baie meer tyd aan my leerwerk kon bestee, en ek het begin om produkte aanlyn te verkoop. Nou verkoop ek ook by 'n paar markte soos die Linden-mark in Johannesburg en ek verskaf sakke aan 'n paar boetieks," vertel Claire.
Elke Rugged Moose-sak is uniek omdat Claire dit met die hand stik. " 'n Messenger-sak neem twee middae/aande (om te maak), 'n skootrekenaarsak neem drie tot vier middae en 'n sportsak (duffel) neem 'n week, minimum. Ek geniet egter elke oomblik van die proses!"
Simonstad tot Klein-Karoo

Dit vat tyd om iets moois uit leer te maak. Dit neem sowat vier dae om 'n mooi stuk leer te verwerk, sny, druk, politoer en dan in een van hul unieke sakke te stik, vertel Mieke, Hanici en Barend Bredenkamp, die span agter Moss Leather Bags. Hulle het in 2015 begin sakke maak, vertel Hanici.
"Die grendeltyd het ons behoorlik laat bewe, maar ons het gefokus op ons aanlyn winkel en sosialemedia-teenwoordigheid en het vasgebyt en nou floreer ons!"
Mieke sê hulle is 'n span van vyf wat in Simonstad werk. "Ons leersakke is baie suksesvol as geskenke en verrassingspakkies. Daar word vreeslik baie Moss-leerhandsakkies met ons proteas en suikerbekvoëltjies en ook fynbos-voorkante bestel wat ons dan oorsee stuur na Suid-Afrikaanse families."
Marian Nel van Mally Bags sê dit is ook haar produkte se uniekheid wat dit so gesog maak.
"Ons bedryf 'n internasionale onderneming vanuit die hartjie van die Klein-Karoo. Elke Mally-sak word individueel gemaak. Dis 'n lewenslange vriend en raak net beter met die tyd."
Mally Bags het in 2009 begin toe Marian vir haarself 'n mooi leersak wou koop, maar nie een kon opspoor nie. "My man, Philip, het voorgestel ek gebruik van die plaas se leer en ontwerp self een. Familie en vriende se terugvoering was oorweldigend gunstig en dit het die wiele aan die rol gesit.
"Mally Bags verskaf werk aan tien vroue en een man in Kaapstad. Met hul ervaring en my fokus op gehalte maak ons 'n uitstekende span!"
Alles begin by die Boeremark

Boot and Rally is ook begin deur 'n kreatiewe vrou, Cindy Strydom, vertel haar man, Alex.
"Boot and Rally is gestig aan die begin van 2018. Cindy was vir 20 jaar in die korporatiewe wêreld en het toe bedank. Sy is egter 'n besige klein mensie en kon nie lank stilsit nie. Dit was aanvanklik slegs 'n idee om haar besig te hou.
"Ek het reeds 'n masjien gehad om leer mee te stik aangesien ek ou motors as 'n stokperdjie opbou en oordoen. Ons het bietjie leer gehad en het besluit om 'n paar sakke te maak, dan kon sy dit op Saterdae by die Boeremark in Pretoria verkoop.
"Ons het begin met slegs die twee van ons van die huis af. Dit het egter binne vier jaar gegroei tot waar ons vandag tien masjiene het en voltyds 14 mense het wat vir ons werk."
Mieke sê sy is trots om te sien hoe die leerbedryf in Suid-Afrika die afgelope paar jaar gegroei het.
"Die feit dat daar soveel knap handwerkers en kunstenaars is wat leer se potensiaal raaksien, maak ons Suid-Afrikaanse leerprodukte baie gesog."
- Besoek www.ruggedmoose.co.za, www.mally.co.za, www.bootandrally.co.za en www.moss-shop.co.za vir meer inligting.
Wen!
Een gelukkige leser kan 'n geskenkbewys van Rugged Moose wen ter waarde van R1000. Om in aanmerking te kom, SMS jou naam, van en kontakbesonderhede na 34581. Inskrywings sluit Dinsdag 12 Julie om 12:00 die middag. 'n SMS kos R1,50 en jy kan soveel keer inskryf as wat jy wil. Begin jou SMS met "Rugged Moose".

Hoe hou ek my sak mooi?