
"Suid-Afrikaners is lief vir rooibos. Daar is iets magies daaraan." Só sê Sarah Hetherington, direkteur van handelsmerkkommunikasie van die trots Suid-Afrikaanse velsorgreeks African Extracts Rooibos.
Die Kaapse entrepreneur Rob Tiffin het African Extracts, 'n rooibosgebaseerde velsorgreeks wat hoofsaaklik op die uitvoermark gemik is, in 2002 begin.
Rob en Sarah se paaie het gekruis toe sy nog skoonheidsredakteur van die tydskrif Femina was, waarna hulle getroud is. Sarah het op 'n kontrakbasis kopie vir die velsorghandelsmerk se verpakking begin skryf en latere jare voltyds betrokke geraak.
En vanjaar vier hulle 20 jaar sedert hul ontstaan en hul eerste reeks, African Extracts Rooibos Classic.

Rooibos is inheems aan die Sederberge in die Wes-Kaap en ryk aan antioksidante en minerale soos kalsium, yster, magnesium en sink. Dié bestanddele help om die skadelike uitwerking van vry radikale op ons liggaam, wat tot oksidatiewe stres, leefstylsiektes en voortydige velveroudering kan lei, te beveg.
"Rooibos bevat bio-aktiewe komponente wat goeie velgesondheid ondersteun. Dit is omdat baie van hierdie komponente, soos aspalatien wat slegs in rooibos voorkom, sterk antioksidante is wat inflammasie in die vel teenwerk," verduidelik prof. Jeanine Marnewick, navorsingsprofessor in biochemie aan die Kaapse Skiereiland Universiteit van Tegnologie.
"Daar's selfs belowende navorsing wat wys dat rooibosekstrak veranderinge in die vel gekoppel aan kanker kan help neutraliseer," voeg Sarah by.
Het jy geweet?
Ongeveer 20 000 buisies word elke maand verkoop
Dit maak dus sin dat Rob 20 jaar gelede besluit het om die velsorgpotensiaal van sy geliefde koppie rooibostee te ontgin. Die Classic-reeks, geformuleer vir normale en kombinasie-velsoorte, is eerste bekendgestel en volgens Sarah verteenwoordig dié reeks hoe heilsaam rooibos werklik is.
Sedertdien is afsonderlike reekse vir olierige en droë velsoorte ontwikkel, produkte vir sonskade, asook 'n splinternuwe reeks vir mans.
Rooibosekstrak is die goue draad in elke African Extracts Rooibos-produk. Organiese groen rooibosteeblare van verskeie plase by Clanwilliam word gedistilleer om bio-aktiewe rooibos te verkry.
Só word die antioksidante in die ekstrak gepreserveer. Buiten rooibos word ander plaaslike plantekstrakte, soos kremetart, aalwyn en boegoe, saam met hialuroonsuur, seramiede en peptiede ingespan om tekens van veroudering, pigmentasie en knoppies te beveg en die vel te bevog.
"Ons is trots Suid-Afrikaans. Produkontwikkeling, gehaltetoetse en die vervaardiging van elke produk vind by ons fabriek in Kaapstad plaas," sê Sarah.

Top-podukte
Die African Extracts Rooibos Classic Moisturising Day Cream SPF 15 (R76) is 'n ligte vogroom met 'n sonbeskermings-faktor wat help om die vogbalans in jou vel te behou en dit teen sonskade te beskerm.

Sarah se gunsteling
African Extracts Rooibos Hydrofirm-C+ Anti-wrinkle Serum for Face and Eyes (R280) help om jou vel meer egalig en ferm te laat vertoon. Wend die serum onder jou oë aan om pofferigheid, donker kringe en fyn lyntjies hok te slaan.

Vir hom!
Raak ontslae van vuilheid wat deur die loop van die dag op jou vel opbou met African Extracts Rooibos Man Refreshing Face Wash (R80). Met bio-aktiewe rooibos en kremetartekstrak het dié reiniger 'n vars, speseryagtige geur.

20 jaar van trots SA velwetenskap
2002
Kaapse entrepreneur Rob Tiffin begin die African Extracts Rooibos-handelsmerk met die ikoniese Classic-reeks. Die reeks word ook met die Skoonheid Sonder Wreedheid-etiket gesertifiseer.
2015
Met die fokus op volhoubare en omgewingsvriendelike produkte sluit geen nuwe produk bestanddele in wat van diere afkomstig is nie. Bestaande produkte word herformuleer om ook as veganisties gesertifiseer te kan word.
2021
Die Hydrofirm-C+-reeks met olyfplantsel-tegnologie word ná onafhanklike kliniese toetse bekendgestel. Hierdie gevorderde formule beloof om binne 14 dae sigbare resultate te lewer.
2022
Die African Extracts Rooibos Classic-reeks vier 20 jaar. Ter viering van die mylpaal word die verpakking herontwerp.
'n Vereenvoudigde velsorgreeks spesiaal vir die manne word bekendgestel. African Extracts Rooibos Man fokus op 'n 3-stap-velsorgroetine wat uit reiniging, afskilfering en bevogtiging bestaan. "Dis geen geheim dat mans daarvan hou om ons produkte te gebruik nie," sê Sarah.

Skryf vandag nog in vir SARIE Voorbladgesig 2023!
Dertien jaar gelede het die eerste wenner van SARIE Voorbladgesig op ons voorblad gepryk - Alrie Velleman van Gqeberha.
Verlede jaar was Brittany Smith ons wenner.
En nou is dit tyd om ons 13de Voorbladgesig te kies. Dalk is dit jou jaar!
Dit is ook die vierde jaar dat ons SARIE Nuwe Gesig, spesiaal vir leerders van gr. 10 tot gr. 12, aanbied.
Ons vennoot van die afgelope vyf jaar, die Isa Carstens Akademie, kry boonop 'n nuwe spanmaat, African Extracts, en sáám is ons opgewonde om te sien wie vanjaar met die voorblad wegstap.
Gryp die geleentheid aan om deel te wees van iets besonders!






















