Styl

Donker kringe, pofferigheid en moeë oë? Behandel dit só

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Terwyl ons wakker is en selfs in ons slaap beweeg ons oë gedurig, en die vel om ons oë help met hierdie beweging. Die vel in hierdie area is die dunste aan die lyf en kan mettertyd tekens van veroudering en moegheid toon.

Ons verken maniere hoe jy pofferigheid, kringe onder die oë en tekens van veroudering met skoonheidsprodukte en tegnieke kan baasraak.

Kringe onder die oë

Dit word deur verskeie faktore veroorsaak, van 'n gebrek aan slaap en moegheid tot hiperpigmentasie en sonblootstelling.

"Dit is belangrik om eers die anatomie van die oog te verstaan," sê dr. Melissa K. Levin, 'n kliniese instrukteur by die NYU Langone- mediese sentrum en Mount Sinai-hospitaal in New York, aan byrdie.com.

"Ooglidvel is een van die areas waar die vel die dunste aan die lyf is. Jy het basies baie dun, delikate vel wat oor 'n hol struktuur om die oë sit waar jy been, bloedvate, vetkussings en spiere het."

Sy sê dun vel is veral by vroue tot droogheid en irritasie geneig.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Behandelings oogrome met spesifieke bestanddele

Sekere bestanddele help versag donker kringe; daarom is dit belangrik om aandag te skenk aan wat in die produkte is wat jy koop.

Hier is 'n paar bestandddele om voor uit te kyk:

Kafeïen

Nie net gee die drankie self die liggaam 'n hupstoot nie; kafeïen versterk ook die vel se energie.

"Kafeïen is 'n vaatvernouer, wat op sy beurt rooiheid, swelling en oormatige vogopdamming om die oë verminder," sê Melissa.

Hialuronsuur

Dié bestanddeel hidreer die vel en behou watervlakke. Wanneer die vel gehidreer is, lyk dit plomp en gesond, en dit geld ook vir oë. Soek vir hierdie bestanddeel as die vel om jou oë ontwater voel en donker kringe het.

Vitamine A, C en E

Hierdie bestanddele is wonderlik om die vel mee te verhelder en kollageenvervaardiging te versterk en die vel teen omgewingsfaktore soos die son te beskerm.

Verbloemer

Dit is die vinnigste manier om kringe onder die oë weg te steek. Verbloemers is in 'n verskeidenheid diktes en kleure te kry om by elke velbehoefte te pas.

Alleen of onder grimering gedra, gee die hoë konsentrasie pigment in verbloemers doeltreffende bedekking om daardie lastige donker kringe te laat verdwyn.

Sonbeskerming

Die vel beskerm homself teen die son deur melanien te vervaardig, maar dit sal later as verdonkerde vel sigbaar word.

Wanneer jou oë te veel aan die son blootgestel word, kan donker kringe onder jou oë verskyn. Keer dat dit gebeur deur jou oë met 'n hoed of sambreel teen die son te beskerm.

Allergiebehandelings

"Allergieë en sinusverstopping kan donker kringe onder die oë laat voortduur.

Om jou simptome en irritante te beheer kan dit help verminder," sê dr. David Shafer van Shafer Plastic Surgery in New York aan byrdie.com. Praat met jou dokter oor allergiebehandelings.

Kry genoeg rus

Soms kom die lewe in die pad en is daar net nie genoeg tyd vir asemskep nie. Dit is belangrik om tyd te maak, al is dit in intervalle, om 'n bietjie slaap te kry.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Pofferigheid

Of dit die gevolg van 'n huilsessie, 'n laat nag of genetika is, pofferige oë is nie baie mooi nie.

"Die vorm van die beenstruktuur van jou gesig, onder meer die oogkasrand, of die area wat jou oogballe hou, bepaal hoeveel die weefsel in daardie rand buite die vlak van die gesig uitsteek," sê dr. Zenovia Gabriel, 'n dermatoloog en hormoonvelsorgkenner, aan womenshealthmag.com.

Sy sê die vetkussing wat die oog beskerm, is geneig om mettertyd by die meeste mense meer uit te steek, want die spier wat dit aan die skedel heg, verslap namate 'n mens ouer word.

Gevolglik word daardie laag vet, wat oor die algemeen pofferigheid genoem word, opmerkliker.

Behandelings verkoelkussinkies

Enigiets koels, maar nie yskoud nie, aan die oë aangewend, sal 'n kompres-effek verskaf. Gebruik 'n lappie as jy nie verkoelkussinkies het nie. Los die lappie of kussinkie 'n halfminuut tot 'n minuut op die oë.

Ssametrekkende oogrome

Dit sal nie kitsresultate bied nie, maar jy sal mettertyd 'n verskil opmerk - en dit bestry plooie ook.

Hidrerende/liggewigverbloemer

Verbloemer sal nie pofferigheid laat verdwyn nie, maar 'n ligte skakering liggewigverbloemer sal 'n aksenteffek skep en lig weerkaats wat pofferigheid minder sigbaar maak.

Komkommer

Plaas 'n komkommerskyf vir 'n paar minute op die oë. Dit bevat foliensuur, vitamien C en water. Vitamien C verhelder die vel en foliensuur bevorder antioksidante aan die vel.

Oë wat moeg lyk

Jy het dalk nie pofferige oë of donker kringe nie, maar jou oë kan tekens van moegheid en stres toon.

Die simptome kan rooiheid, jeukerigheid en branderigheid insluit. Jy kan die simptome met oor-die-toonbank-oogdruppels verlig, maar gaan dokter toe as die simptome voortduur.

Grimering kan ook die ding doen en dit help as jy weet watter produkte om te gebruik en hoe om dit aan te wend.

Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images

Omylyn jou waterlyn

Omlyn jou waterlyn (die binneste wimperlyn van die onderste ooglid) met 'n oogomlyner in 'n ligte kleur. "Maak seker die omlyner is 'n beigerige kleur en nie te wit nie," sê Tim Quinn, grimeerkunstenaar vir Giorgio Armani Beauty, op oprah.com.

"Beige lyk natuurliker en werk beter om rooiheid in of om die oë te neutraliseer."

Krul jou wimpers

Om jou wimpers te krul het 'n soortgelyke uitwerking as maskara - jou wimpers lyk langer en dit gee jou oë 'n wawyd wakker voorkoms. Wend maskara aan nadat jy jou wimpers gekrul het vir 'n dubbele effek.

Egalige gelaat

Maak jou gelaat egalig om die rooiheid in jou oë teen te werk. Wanneer jou vel helder is, laat dit outomaties jou oë helderder lyk. Dit is gewoonlik beter om 'n liggewig- en stralende onderlaag te gebruik vir 'n natuurlike afronding.

Subtiel gevleuelde omlyner

Gevleuelde omlyner skep die illusie van geligte en wakker oë. Die geheim is om 'n effens opwaartse streep reg by die buitehoeke van die oë te maak.

Ekstra bronne: bydrie.com, oprah.com, vogue.com

Nthabiseng Makhokha

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM