Styl

Eksperimenteer met dié treffendste naelmodes van die seisoen

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Watter beter tyd is daar as die begin van die somer om jou kleurpalet en naelontwerpe te verfris sodat dit pas by die sonnige dae wat voorlê?

Kry volpunte vir jou vingers met van die treffendste naelmodes van die seisoen. Foto: Gallo Images/Getty Images
Kry volpunte vir jou vingers met van die treffendste naelmodes van die seisoen. Foto: Gallo Images/Getty Images

Of jy nou hou van minimalistiese manikure of opvallende, helder naels, dit is tyd om jou donker, misterieuse politoer te verruil vir 'n helderkleurige manikuur wat die energie van die seisoen vasvang.

Jy hoef nie 'n kenner van tuisjels te wees nie - selfs 'n beginner kan hierdie voorkomste behaal.

Marmernaels

Marmernaelontwerpe is nou hoogmode. Die skilderkuns­agtige helder kleure word oral op loopplanke en sosiale platforms gesien en maak 'n stelling.

Marmernaelontwerpe is nou hoogmode. Foto: Gallo Images/Getty Images
Marmernaelontwerpe is nou hoogmode. Foto: Gallo Images/Getty Images

Net soos 'n marmerblad jou kombuis- of badkamerdekor dadelik deftiger kan laat lyk, gee marmernaels 'n gesofistikeerde flair aan enige manikuurvoorkoms. Of jy nou iets wasiger en meer subtiel soek (dink wit, opaal en metaalkleurige aksente) of iets waaghalsiger wat meer aandag trek, daar's 'n marmernaelontwerp wat by jou styl pas.

Maak so

  • Wend 'n basislaag aan.
  • Verf een of twee lae van die kleur van jou keuse aan.
  • Stippel die kleur aan wat jy wil hê as die marmer te voor­skyn moet kom.
  • Tik piepklein spikkels van die eerste kleur wat jy aan jou naels geverf het bo-op die vorige stippels aan.
  • Gebruik 'n tande- of naelvliesstokkie en trek dit met ligte draaibewegings deur die kleure om 'n organiese vryvormpatroon te skep.
  • Wend jou bolaag aan.

Veelkleurige naels/Reënboog Manikuur

Vergeet die skoonheidsreëls; 'n manikuur hoef nie meer te beteken jy verf dieselfde kleur politoer aan al jou naels nie. Reënboognaels is 'n goeie manier van rondspeel en met al jou gunstelingkleure aan een hand te spog.

Veelkleurige naels/Reënboog manikuur. Foto: Gallo Images/Getty Images
Veelkleurige naels/Reënboog manikuur. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die beste deel is jy kan so kleurvol raak soos wat jy wil. Hou by 'n enkele kleurpalet of gryp die reënbooggevoel aan met vyf verskillende politoere.

Maak so

  • Maak jou naelplaat met politoerverwyderaar skoon, vyl jou gewenste naelvorm en skuur enige riwwe af. Versag met naelvliesolie en druk jou naelvliese met die plat kant van die houtstokkie terug.
  • Kies jou kleure - nuanses van een kleur lyk altyd goed, asook 'n mengsel van pastel­skakerings.
  • Wend een tot twee lae verskillende skakerings aan elke nael aan.
  • Verf 'n bolaag aan om jou manikuur te beskerm.

Italiaanse manikuur

Hierdie verftegniek is nou ge-wild onder naelkunstenaars.

Hierdie verftegniek is nou ge- wild onder naelkunstenaars. Foto: Gallo Images/Getty Images
Hierdie verftegniek is nou ge- wild onder naelkunstenaars. Foto: Gallo Images/Getty Images

Anders as die klassieke Franse manikuur waar die punt nader aan die kante van die nael in 'n halfmaanvorm begin, begin die Italiaanse styl sowat halfpad teen die nael op aan die linker- en regterkant om meer van 'n U-vorm te skep wat die optiese illusie van 'n langer nael gee.

Maak so

  • Vyl die naels in 'n vorm, druk die naelvliese terug, maak die kon­toere skoon en smeer bevogtigende naelolie aan om dit soepel te hou.
  • Verf die hele nael met 'n ligte onderlaag - beige of roomkleur is ideaal as jou bolaag donkerder is. Bring die kwas so na moontlik aan die vliese sonder om daaraan te raak.
  • Wend die hoofkleur aan wanneer die onderlaag droog is. Dit is belangrik om nie die bolaag tot by die naelvliese te verf nie, maar 'n paar millimeter afstand tot by die rande te los. Die negatiewe ruimte weerskante skep die illusie van 'n langer naelbed en laat die nael baie langer lyk.
  • Verseël die manikuur met 'n deurskynende bolaag.

Naelplakkers

As dit goed gedoen word, kan naelkuns wonderlik lyk. Maar dit verg vaardigheid en jy kan sukkel om dit self te doen as jy nie jou hande kan stil hou nie. Gelukkig kry 'n mens naelkunsplakkers.

Naelplakkers. Foto: Gallo Images/Getty Images
Naelplakkers. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die plakkers stel jou in staat om sonder enige kunsvaardigheid jou manikuur salonstatus te gee. Kies uit alles van klassieke en eenvoudige ontwerpe soos blomme, sterre en vlamme tot bonkiges vol juwele en versiering. Plak dit net oor 'n eenvoudige manikuur of kaal naels.

Maak so

  • Verf die onderlaag aan skoon, droë naels. Naelpolitoer is opsioneel en hang van jou voorkeur af. Jy kan by 'n natuurlike of bleek agtergrond hou of 'n helder kleur kies.
  • Gebruik 'n haartangetjie vir egalige aanwending en plak die plakker op die nael.
  • Rond dit daarna met 'n bolaag af.

Glazed doughnut-naels

Hailey Bieber se "glazed doughnut"-voorkoms het nie net een van die gesogste voorkomste geïnspireer nie; dis ook een van die gewildste manikure hierdie somer.

Glazed doughnut-naels word deur 'n reënboog-, pêrel- of versiersuikeragtige naelkleur met 'n sterk glans gekenmerk. Foto: Gallo Images/Getty Images
Glazed doughnut-naels word deur 'n reënboog-, pêrel- of versiersuikeragtige naelkleur met 'n sterk glans gekenmerk. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dit word deur 'n reënboog-, pêrel- of versiersuikeragtige naelkleur met 'n sterk glans gekenmerk. Dit is neutraal en opvallend, en vlei enige vel.

Maak so

  • Wend die onderlaag aan.
  • Behaal die romerige maar deurskynende geglaseerde voorkoms deur met 'n dun laag wit, vaalpienk of bleek naelpolitoer te begin.
  • Verf die glanslaag aan. (Jy kan dit ook skep deur 'n vaal pêrlemoenagtige politoer met 'n deursigtige bolaag te meng.)
  • Rond dit af met 'n keep­bestande laag sodat dit lank sal hou.

Minimalisties

Subtiele naelkuns van eenvoudige vertikale lyne en neonkleurige Franse punte tot oorkruis strepe en halfmane is dalk onderbeklemtoon, maar kan steeds groot trefkrag hê.

Of jy van aardse neutrale kleure hou of 'n spatsel kleur verkies, minimalistiese naelkuns kan net so indrukwekkend soos kleurvolle, inge-wikkelder opsies wees.

Maak so

Franse manikuur met neonpunt: Verf getinte onderlaag aan 'n skoon gevylde nael. Dit sal 'n basiskleur vir jou Franse manikuur bied sonder om te veel produk in lae op die nael aan te wend. Laat droog word.

Franse manikuur met neonpunt: Verf getinte onderlaag aan 'n skoon gevylde nael. Foto: Gallo Images/Getty Images
Franse manikuur met neonpunt: Verf getinte onderlaag aan 'n skoon gevylde nael. Foto: Gallo Images/Getty Images
  • Gooi 'n bietjie neonkleurige naelpolitoer op 'n stukkie foelie uit. Gebruik 'n dun naelkunskwas of tandestokkie en laat gly die politoer om die rand van die nael deur die natuurlike vorm te volg.
  • Rond met 'n bolaag af.
Leila Petersen (saamgestel)

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM