Styl

Hier is Augustus se wenbruid

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Eric en Heneline Basson op hul troudag op 12 Augustus.
Eric en Heneline Basson op hul troudag op 12 Augustus.

Baie geluk aan Heneline Basson, ons Augustus-wenbruid in Beeld se Bruid van die Jaar-kompetisie in samewerking met World Leisure Holidays.

Heneline en haar man, Eric, kom van Middelburg, Mpumalanga, en is op 12 Augustus getroud. Eric bedryf sy eie onderneming in die konstruksiebedryf en Heneline werk saam met hom in die finan­siële afdeling van die onderneming.

"Ons het mekaar op skool ontmoet. Ons was albei in die HTS Middelburg, maar Eric is 'n jaar ouer as ek. Ek was in gr. 8 en hy in gr. 9 toe ons begin uitgaan het. Ons is al tien jaar bymekaar," sê Heneline.

Oor hul groot dag sê sy: "Ons het besluit ons wil 'n baie intieme, ‘wow'-troue hê. Ons het slegs agt mense by ons troue gehad: Eric se ouers en sy boetie en my ouers, sussie, die pastoor en sy vrou. Op ons troue was alles wit en ons het die agt gaste gevra om swart aan te trek. Ons het sommer 'n vakansie daarvan gemaak. Ons almal het 'n week voor die troue afgevlieg Kaap toe en eers vakansie gehou en in die Kaap rondgetoer.

"Ek voel 'n groot ‘boeretroue' is overrated en mense vind altyd fout. Ons het wel in September 'n feesviering gehou waar ons al ons vriende en familie genooi het vir 'n lekker kuier om ons troudag te vier."

Sy sê sy wou 'n baie elegante voorkoms gehad het wat eenvoudig maar stylvol is.

"Ek het my droomrok by Vonve gekry ná slegs drie rokke wat ek aangepas het. Ek het gehou van die outydse Hollywood-voorkoms. Minder is meer. Ek het kort hare, so ek wou dit so hou en nie haarverlengings insit nie omdat ek nie myself wou verander nie. Eric ken my so en ek wou dit so hou."

Die hoogtepunt van die troue vir Heneline was toe Eric omdraai en haar vir die eerste keer in haar rok sien.

"Hy het baie hard probeer om nie te huil nie, maar hy het. Net daar het ek besef vir die res van ons lewe is ons vir mekaar geleen as man en vrou. Dit was een van die spesiaalste oomblikke van my lewe."

September-bruide, julle het nog net tyd tot môre om in te skryf en 'n kans te hê om jou deel van die meer as R400 000 se pryse te wen.

Sperdatums

  • September-bruide: 9 Desember 2022.
  • Oktober-bruide: 3 Februarie 2023.
  • November-bruide: 3 Maart 2023.
  • Desember-bruide: 31 Maart 2023.

Skryf só in

Die kompetisie duur van 9 Junie 2022 tot 4 Mei 2023. Jy moet in 2022 trou of getrou het om te kan deelneem.

1. Verstrek die volgende in 'n Word-dokument:

a) Troudatum

b) Bruid se naam en getroude van

c) Bruidegom se naam en van

d) Bruid en bruidegom se kontakbesonderhede (e-posadresse en kontaknommers)

e) Woonadres

2. Antwoord die volgende vrae in dieselfde Word-dokument:

a) Waar het julle mekaar ontmoet?

b) Hoe lank ken julle mekaar?

c) Watter beroepe beoefen julle?

d) Wat is jul belangstellings?

e) Vertel ons van jou troue. Was daar 'n tema en wat was jou inspirasie?

f) Beskryf jou troudagstyl. Hoe het jy op jou rok en voorkoms besluit?

g) Wat was jou hoogtepunt van die troue?

3. Troufoto's: Heg kleur of swart-en-wit foto's aan in jpeg-formaat. Foto's moet elk 'n minimum van 1 MB groot wees.

- Bruid: kop-en-skouer foto

- Bruid: vollengte foto

- Egpaar: foto

4. Dit is die persoon wat inskryf of namens 'n bruid inskryf se verantwoordelikheid om te verseker dat enige inligting wat verskaf word, akkuraat en volledig is.

5. Daar word nie e-pos-korrespondensie oor inskrywings gevoer nie.

6. E-pos-inskrywings moet vóór 12:00 v.m. op die sluitingsdag aan bruide@media24.com gestuur word. Ons maak geen uitsonderings vir laat inskrywings nie.

Karla Janse Van Vuuren

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM