Styl

Húlle gaan sorg dat Mej. SA-finaliste skitter

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Met sprankelende diamante, swart steenkool, blink koper en glinsterende goud as hul inspirasie, sal van die land se top modeontwerpers vanjaar die top-10-skoonhede van die Mej. Suid-Afrika-kompetisie se uitrustings maak.

Casey Jeanne van Morningside in KwaZulu-Natal, Georges Malelu van Johannesburg, Jolandie Fouché van Potchefstroom, Juan William Aria van Weltevredenpark, Thando Thabethe en William de Beer van Johannesburg en Zamaswazi Mathole van Soweto is vanjaar se ontwerpers vir dié glansryke kompetisie.

William de Beer, ontwerper en eienaar van Willet Designs Couture, ontwerp van die uitrustings wat die top-10-deelnemers tydens die kompetisie sal dra.

"Verwag om verwonderd te wees. Dit is soos niks wat nog ooit op 'n verhoog gesien is nie."

Hy het die voorkoms beskryf as 'n "New York-modeparade met 'n kombinasie van High Street meets couture".

Thabooty's, die onder- en swemklere-handelsmerk van die aktrise en sakevrou Thando Thabethe, is die amptelike borg van die swemklere.

"Swemklere kan 'n ontwerperstuk wees wat 'n vrou selfvertroue kan laat uitstraal," sê Thabethe.

Die oorblywende vyf ontwerpers sal elkeen 'n magiese aandrok vir twee van die topfinaliste skep. Tussen hulle het hulle al vir 'n hele aantal bekendes en voormalige Mejj. Suid-Afrika, onder wie die sangeres Beyoncé, Demi-Leigh (Nel-Peters) Tebow, Zozibini Tunzi, Zuraida Jardine en Shudufhadzo Musida, klere en rokke ontwerp.

Dié ontwerpers is uitgedaag om kledingstukke te skep wat deur Suid-Afrikaanse minerale hulpbronne geïnspireer is. Dit het hulle 'n wye verskeidenheid kleure en teksture gebied om mee te werk, waaronder skitterende diamante, swart steenkool, blink koper en glinsterende goud.

Die Mej. Suid-Afrika-kompetisie keer terug na Gauteng, waar die wenner op 13 Augustus in Time Square in Pretoria gekroon sal word.

Die groot aand sal ook van 18:30 regstreeks op Mzansi Magic (DStv-kanaal 161) en M-Net (DStv-kanaal 101) uitgesaai word.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM