Styl

KYK: 10 van die grootste modeflaters by vanjaar se Emmy-prysaand

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Ons kyk na 10 van die grootste modeblapse by die Emmy-pryse, wat van 3 tot 12 September plaasgevind het.

1. Stefani Robinson

Stefani Robinson. Foto: Getty Images/Gallo Images
Stefani Robinson. Foto: Getty Images/Gallo Images

Die talentvolle skrywer van komediereekse soos What We Do in the Shadows en Atlanta het al vele pryse gewen vir haar skreeusnaakse komedie, maar sy het die modememo gemis met dié metaalkleurige rok.

Die patrone is gevaarlik naby aan dié van 'n gordyn en herinner eerder aan 'n begrafnis as 'n glansgeleentheid.

2. Emily Heller

Emily Heller. Foto: Getty Images/Gallo Images
Emily Heller. Foto: Getty Images/Gallo Images

Die komediant en skrywer Emily Heller laat elke jaar die tonge klap met haar unieke uitrustings. Verlede jaar het sy 'n handsak met "gettyimages" daarop gehad, en vanjaar het sy 'n geblomde rok met 'n "Kick Me!"-teken agterop gedra. Sy het ook 'n stuk toiletpapier onder haar skoen gehad. Dit was 'n snaakse skuif, maar ons dink sy sit die pot mis met dié uitrusting.

3. Sarah Paulson

Sarah Paulson. Foto: Getty Images/Gallo Images
Sarah Paulson. Foto: Getty Images/Gallo Images

Die American Horror Story-aktrise het 'n slim kleurkeuse gemaak met haar middernagblou uitrusting, maar ons is nie mal oor die gestruktureerde bostuk nie. Dit is 'n dapper en oorspronklike keuse vir 'n uitrusting, maar daar is gemengde reaksie oor of dié tweestuk een van haar beter mode-oomblikke was.

4. Chloé Hilliard

Chloé Hilliard. Foto: Getty Images/Gallo Images
Chloé Hilliard. Foto: Getty Images/Gallo Images

Chloé is bekend vir haar HBO-sketskomediereeks A Black Lady Sketch Show, en sy het baie elegant gelyk in haar swierige rooibruin-rok. Die komediant se knoopkleurige psigedeliese handskoene het egter die uitrusting baie besig laat lyk en die silwer handsak daarby was een te veel.

5. Nicole Byer

Nicole Byer. Getty Images/Gallo Images
Nicole Byer. Getty Images/Gallo Images

Nicole is die aanbieder van die skreeusnaakse Netflix-reeks Nailed it! waar amateurkokke komplekse koeke bak om mee te ding vir die Nailed It!-trofee. Die kleur van haar middernagblou bloes is hoogmode, maar sy moes dalk weer gedink het oor die broek. Die sleep is ook nie baie vleiend nie.

6. Laverne Cox

Laverne Cox. Foto: Getty Images/Gallo Images
Laverne Cox. Foto: Getty Images/Gallo Images

Die Orange is the New Black-aktrise is al vier keer vir haar toneelspel in dié reeks benoem. Sy sit ook gewoonlik nie 'n modevoetjie verkeerd nie en is selfs twee weke gelede by die Amerikaanse Ope deur Twitter-gebruikers verwar met die popster Beyoncé. Maar dié futuristiese skepping met 'n keëlvormige bostuk van Jean Paul Gaultier en Olivier Rousteing het gemengde reaksie ontlok.

7. Linda Morel

Linda Morel. Foto: Getty Images/Gallo Images
Linda Morel. Foto: Getty Images/Gallo Images

Swart is altyd 'n slim kleur vir die rooitapyt, dit bly tydloos en is gewoonlik baie vleiend. Maar die snit van dié bekroonde regisseur se rok herinner eerder aan 'n karakter van The Addams Family, en haar skoene is ook 'n stylflater.

8. Harvey Guillén

Harvey Guillén. Foto: Getty Images/Gallo Images
Harvey Guillén. Foto: Getty Images/Gallo Images

Die gewilde akteur Harvey Guillén is bekend as die skreeusnaakse Guillermo de la Cruz in What We Do in the Shadows, maar sy oorgroot broek was minder gewild. Ons is nie seker oor die blou strik en die wye pype nie.

9. Britt Lower

Britt Lower. Foto: Getty Images/Gallo Images
Britt Lower. Foto: Getty Images/Gallo Images

Die Euphoria-aktrise het 'n slim stylkeuse gemaak met roomkleur vir haar rok. Die snit van die rok was net nie besonder vleiend vir haar figuur nie.

10. Andrew Ecker

Ariel Dumas en Andrew Ecker. Foto: Getty Images/Gallo Images
Ariel Dumas en Andrew Ecker. Foto: Getty Images/Gallo Images

Een ding is seker: Dit was nie moeilik om Andrew by vanjaar se Emmys raak te sien nie. Hy en Ariel Dumas, wat albei skrywers van The Late Show with Stephen Colbert is, het uitrustings met duisende blinkers gedra, en dit lyk soos 'n kruising tussen 'n meermin en diskobal.

Bronne: wrif.com, meaww.com, sports.yahoo.com, elle.com, purewow.com, cosmopolitan.com

Teken in op ons nuusbriewe

Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!

Carla Visagie (saamgestel)

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM