Styl

Lank lewe die hippies!

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Bring flower power  en die hippie-kultuur terug, meen Ilse Zietsman.Foto: iStock
Bring flower power en die hippie-kultuur terug, meen Ilse Zietsman.Foto: iStock

Hierdie Augustus is dit die 55ste herdenking van Woodstock, een van die grootste musiekfeeste van alle tye, tekenend van die hippie-kultuur van die 1960's, skryf Ilse Zietsman.

My verwondering oor daardie eerste tree ontroer my nog steeds, die weg na die onbekende, die sterre wat wink, die oop pad wat voor my uitstrek, die Blou Moskee agter my, die Beach Boys in my ore.

Maar, wie wás die hippies? Hoe het hulle gelyk? Wat het hulle gedryf? En, hoe het die hippie-beweging as subkultuur begin?

Só begin die skrywer Rory MacLean sy boek Magic Bus: On the Hippie Trail from Istanbul to India waarin hy 'n nostalgiese reis in die voetspore van die hippies van die 1960's onderneem.

Maar, wie wás die hippies? Hoe het hulle gelyk? Wat het hulle gedryf? En, hoe het die hippie-beweging as subkultuur begin?

Lees Magic Bus as jy meer van die hippieleefstyl wil leer.
Lees Magic Bus as jy meer van die hippieleefstyl wil leer.

Hart van 'n hippie, vryval van 'n feetjie

Die hippie-beweging het in die 1960's as 'n kontrakulturele beweging wat die sedes en norme van die Amerikaanse hoofstroomlewe verwerp het op Amerikaanse universiteitskampusse ontstaan. Van hier het die subkultuur na ander plekke soos Kanada, Brittanje en ook Europa versprei.

Die woord "hippie" is afgelei van die term "hip" wat gebruik is om die Beat-skrywers van die 1950's, soos Allen Ginsberg en Jack Kerouac, te beskryf. Dié twee was deel van 'n groep Amerikaanse post-Tweede Wêreldoorlogse skrywers wat as die voorlopers van die hippies beskou word. Die Beat-kultuur het eksperimentering met dwelmmiddels en alternatiewe vorme van seksualiteit, 'n belangstelling in Oosterse religie, die verwerping van materialisme en 'n uitbundige, onbeskaamde lewenstyl behels.

Die hippie-beweging het deels ontstaan as teenstand teen Amerikaanse betrokkenheid by die Viët­namese Oorlog, maar die meeste hippies was nie regstreeks by politiek betrokke nie.

Kyk so 'n hippie-bus in Eugene, Oregon.
Kyk so 'n hippie-bus in Eugene, Oregon.

In my hart is ek 'n hippie wat hoop op vrede

Met 'n besoek aan Eugene in Oregon, Amerika, drentel ek deur die strate toe ek skielik 'n regte hippie-bus met psigedeliese kleure gewaar. Dis soos iets uit 'n fliek. 'n Verskynsel uit 'n ander tydgleuf. Die ene flower power!

Soos blits nael ek oor die straat. Ek wil die binnekant sien, die blommekinders daarbinne se stories hoor. Voordat ek aan die bus se deur - dit lyk soos die bo- en onderdeur van 'n plaashuis en is net mooi al wat nie helderkleurig geverf is nie - klop en roepskree of ek kan inkom, laat ek my oë oor die reënboogkleure gly. Dis so in my kraal, want die skel kleure het in die 1980's herleef. Ek's te jonk vir die tyd van die hippies, maar ek't my hart uitgejol 'n paar dekades later.

Die sykante en enjinkap is verbleik-turkoois; die agterkant van die bus is in skakerings van pers, die dakrak blou en die dak lemmetjiegroen, die buffer is óók pers en die rooster kanariegeel. In die middel van die vrolike bus strek 'n reënboog van kant tot kant, regoor die dak. Aan die onderpunt van die reënboog is nie 'n pot goud nie, maar 'n rooi pyl wat na die deur kronkel. 'n Daggablaartjie met twee engelvlerke kyk bo-oor die gesplete voorvenster na vore.

"Kom in," skree iemand van binne. 'n Gesig wat al gelééf het en stééds genot uit die lewe put, groet vriendelik. Stamelend verduidelik ek ek kon myself nie inhou nie; ek móés net die maag van die bus kom verken. Ja, sy was self by Woodstock in Augustus 1969. Nee, dis nie haar bus nie, maar haar vriendin s'n. Ja, hulle woon soms vir lang tye op 'n slag in die bus en gaan op langpadreise, maar brandstof is duur, hulle kan dit nie so gereeld doen as wat hulle graag sou wou nie. En 'n onomwonde ja, eenmaal 'n hippie, altyd 'n hippie.

Ek kyk om my rond. Dis bra deurmekaar; dis duidelik dis blommekinders (die hippies is flower children genoem, want hulle het graag blomme uitgedeel wat hul ideale van universele samehorigheid, vrede en liefde gesimboliseer het) se uithangplek.

Tussen die slaapbanke en voor die kombuiswasbak, volgepak met ongewaste skottelgoed, lê verbleikte Oosterse tapyte. Daar's oral fraiings en tossels, die plafon is beplak met geblomde muurpapier. Net waar jy kyk hang Indiese maskers, lapelwapentjies is met ongebreidelde entoesiasme vasgespeld waar daar nog plek is en foto's getuig van lank terug se goeie tye by Woodstock.

Noem my Cindy, lag die businwoner. Sy gee haar regte naam, maar vra mooi om dit liewers nie te noem nie. Foto's kan ek na hartelus neem, maar nie van die geraamde herinneringe nie. Sommige mense bly hippies in hart en siel, sê sy, maar ander beklee nou korporatiewe poste en wil nie aan hul hupse verlede herinner word of hê ander moet daarvan weet nie.

Hippies sterf nie, hulle lê net laag

Vir die sjef Giuseppe Massolini van Riebeek-Kasteel is hippie-wees deel van sy lewenstyl, al verkies hy om "onder die radar" te leef. Hy het oorspronklik tot die lewenstyl aangetrokke gevoel omdat hy hom kon vereenselwig met die gevoel van gemeenskap en dat niemand geoordeel word nie; jy word aanvaar vir wie jy is.

Die hippie-kultuur het hom alles geleer wat hy vandag weet, erken hy onomwonde, veral om nie te veel in jou eie individualiteit vasgevang te word nie en om dit wat jy het te deel met andere sover jy kan.

Dit sluit aan by die etos van die hippies van die 1960's wat vervreemd van die middelklas-samelewing gevoel het wat, volgens hulle, deur materialisme en onderdrukking oorheers is.

Vir Peta McCabe, 'n natuurterapeut van Wellington, simboliseer die hippie-kultuur vryheid (in hoofletters, beklemtoon sy) met 'n tikkie rebellie daarby. Sy som dit op as 'n kultuur van vrede, liefde en harmonie, met 'n gepaardgaande fokus op geestesverkenning. Tot vandag toe vorm 'n belangstelling in die natuur en in psigedeliese middels 'n groot deel van haar werk wat op natuurlike genesing konsentreer.

Die hippie-hoofweg

'n Nege-tot-vyf-lewe het die sestigers se hippies nie aangestaan nie. Sorgelose jong mense het veral na Asië gereis, maar gewoonlik eers in Istanbul aangedoen. Die Turke was nie bekend met hierdie fenomeen nie; hulle kon nie tussen die geslagte onderskei nie, want die manshippies het met lang hare gespog en die vroue het langbroek gedra!

Natuurlik was daar destyds nie moderne tegnologie wat kommunikasie vergemaklik het nie. Die rondreisende hippies het boodskappe vir mekaar gelos op 'n kennisgewingbord in die Pudding Shop in Istanbul, wat steeds fluks besigheid doen. Boodskappe soos "Gesoek: 'n maat om saam na Afganistan te reis", "As jy my soek, ek is op pad na Goa - John" en die berugte "Van Megan aan Malcolm: Ek is jammer oor wat in Kreta gebeur het".

Vanaf Istanbul is die hippies noord na Indië, Nepal en Pakistan, soms na Jordanië, Sirië, Iran en Irak in die Midde-Ooste. Hulle het so goedkoop as moontlik gereis en sommige het vir maande lank weggebly. In Katmandoe, Nepal, is steeds 'n straat, Freak Street, wat na die hippies vernoem is.

Maak liefde, nie oorlog nie

'n Besondere voorliefde vir knoop-doop-klere? Lief vir psigedeliese kleure en enige skakering van pers? Luister jy graag na musiek van Bob Dylan en Simon & Garfunkel? Dan het jy dalk 'n versteekte hippie in jou!

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM